Parasitiese staat

Wanneer die ekonoom, prof. Sampie Terblanche, in ‘n artikel die term parasitiese staat gebruik wanneer Suid-Afrika onder bespreking is, is dit iets waarvan kennis geneem kan word.

Die bejaarde prof. Terblanche het gereeld weerlig getrek oor redelike blatante sosialistiese uitsprake wanneer hy sy ideaal van sosiale geregtigheid in Suid-Afrika bepleit het. Hy het nie maklik krities teenoor die post-94-bedeling geword soos ander wat ‘n nuwe bedeling bepleit het nie, waaronder Breyten Breytenbach.

Weens die toepassing van regstellende aksie – of eerder affirmative action wat iets heel anders kan wees en in wese is – en swart ekonomiese bemagtiging word ‘n stewige rookskerm gewerp waaronder die parasitiese staat kan nesskop en gedy. Juis hierom vind ons dat een van die hoof-slagspreuke van SANCO in die aanloop na1994, deursigtigheid, dikwels in die stof byt. Vra maar vir Minister Lindiwe Sisulu. Vra maar bykans enige munisipaliteit watter raadslede se munisipale rekenings is in die rooi.

Pas het dit aan die lig gekom dat Eskom se topbestuur ook aan hulself verhogings van gemiddeld 83 % toegeken het, en toe erg stram was om meer as ‘n tiende van hierdie verhogings aan die werkers te betaal. Trouens, Eskom se bestuur het blatant die wêreldsokkerbekertoernooi gebruik om sterk sentimente teen die werkers se stakingsplanne te kweek – tot hulle met hul hande so diep in die heuningpotte betrap is.

Hierdie parasitisme sny wyd, en is onder meer duidelik op munisipale vlak waar sommige kaders ongeveer 40 keer meer as werkers met bykans dieselfde kwalifikasies verdien. Die verskil is dat die een in ‘n lugverkoelde kantoor sit, dikwels met nie die vaagste benul oor hoe, en / of belangstelling om sy werk te doen nie, en dat die ander vullissakke of nagemmers bymekaar moet maak.

Hierdie vorm van parasitisme kom algemeen in Afrika voor. Dit kan net volhoubaar wees as daar ‘n konstante stroom buitelandse hulp instroom, of natuurlik die hande op iets soos bloeddiamante gelê kan word.

Pas het pres. Thabo Mbeki in ‘n artikel, Turning a blid eye to Africa, opgelet dat Afrika met die onlangse G-8 en G-20-berade na die kantlyn verskuif is.

Volksblad wys vanoggend in ‘n hoofartikel daarop dat 40 Afrikalande van buitelandse hulp afhanklik is om hul begrotings te laat klop. Afrika het ‘n beeld van ‘n bodemlose put, en skenkerlande, wat nou noustrop trek, ly aan “donor fatigue.”

Mbeki kan sy lot bekla, maar as die wêreld geteikende sanksies teen Mugabe en sy bende instel, het hy baie simpatie verloor deur via die Suid-Afrikaanse begroting R300 miljoen na Zimbabwe te kanaliseer.

En nou knyp sake tuis en hy verwyt die skenkerlande.

Die Europese Unie tref juis ‘n skerp onderskeid tussen lande aan wie die hulp na die formele begrotings van daardie lande gekanaliseer word, en lande waar die hulp uit die hande van die staat gehou en regstreeks na die nie-regeringsorganisasies gekanaliseer word. Mugabe is juis bekend vir sy galbrakery teenoor NRO’s.

As prof. Terblanche die term parasitiese staat begin gebruik, is dit reeds laat in die dag.

как обмануть полиграф фсбпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.