As hulle dan nie brood het nie …

Deel op

“As hulle dan nie brood het om te eet nie, laat hulle koek eet.”

Wanneer die inkomstegaping in ‘n land te groot word, so lui die model van relatiewe deprevasie, dan raak die rewolusionêre klimaat ook baie groot.

Hierdie beginsel behoort nie aan die regering vreemd te wees nie. Die ANC is immers met die SAKP in alliansie, en ‘n rewolusionêre klimaat is waarop die kommuniste tradisioneel teer.

Die nuus dat Eskom se topbestuur aan hulself verhogings van gemiddeld 83 % toegeken het, en kopsku was om ‘n aanbod van meer as ‘n tiende hiervan aan die werkers te maak, was dus vir baie ‘n skok.

Sulke reusebestuursverhogings gebeur selde in isolasie, en dit wil voorkom asof dit dié keer ook nie anders was nie, met die vervoerstaking wat om min of meer dieselfde rede groot ontwrigting op die vooraand van Wêreldbekersokkertoernooi gebring het.

Dit is maklik om werkers te verkwalik vir hoër as inflasieverhogings te midde van ernstige pogings om inflasie hok te slaan, en pogings om die impak van die wêreldekonomiese krisis af te skud. Boonop lyk dit uiters selfsugtig om groot verhogings af te dwing as daar ‘n toename in werkloosheid te midde van reeds baie hoë werkloosheidsyfers is.

Alle redenasies loop hulself egter bloedneus as die bestuur van ondernemings, veral semi-staatsinstellings, aan hulself banale verhogings toeken. Daar sal teen-argumente wees soos dat hoëvlak kundigheid uiters skaars en nodig is om hierdie instellings te laat vlot. Daardie argument het egter voorbehoude, soos dat die kundigheid wat behou moet word wel die vakkundige kundigheid insluit, en dat bestuur wat sulke rojale meevallers kry inderdaad oor die bestuursvaardighede beskik. Wanneer na die geskiedenis van die afgelope dekade en ‘n ietsie gelet word, lyk dit nie so nie.

Voor hierdie jongste reeks verhogings was Suid-Afrika al ‘n ruk lank die land met die grootste meetbare inkomstegaping.

Peperduur paloekas stuur gewoon die verkeerde boodskap na die werkers uit.

Dit laat die vraag ontstaan oor hoekom die regering dit toelaat. ‘n Nuwe aristokrasie is immers uit pas met ‘n regering waar ANC-raadslede net voor hulle Bloemfontein se tariewe verlammend verhoog, sing “ We are Communists .”

Daar is reeds soveel vreemdhede wat op die regering se brood gesmeer kan word, dat ‘n waarnemer stellig nie verbaas moet staan as daar nog ‘n vreemdheid ook kop uitsteek nie.

So ‘n klein poel van mense wat vermoedelik superbelasting betaal, sal kollektief hopeloos te min oplewer om munisipale begrotings te laat klop, of die staat in staat stel om sy program van mense wat welsynstoelaes ontvang uit te brei. Omdat hierdie super-betaaldes nie in die werklike produktiewe sektor is nie, sal dit nie genoeg entrepreneurskap inspireer om werksgeleenthede te skep nie. Trouens, dit werk soos roes op bestaande werksgeleenthede.

Dit het ‘n soortgelyke uitwerking as die super-verhogings wat Bloemfontein nou op die lyf geloop het. Terwyl dit amptelik gedoen word om te neem by die sogenaamde rykes sodat die armes beter versorg word en meer gratis dienste kan ontvang, is dit reeds duidelik dat baie huishoudings nou noodwendig hul huishulpe moet laat gaan, en verskeie ondernemings hul deure moet sluit. Daar is selfs van ‘n kollektiewe strafreaksie om huishulpe te laat loop sprake.

Met die ekonomiese herstelprogramme wat talle lande opgestel het, is ellelange segmente aan moraliteit gespandeer. Toe dit blyk dat van die Amerikaanse maatskappye wat met staatshulp uit die verknorsing gehelp is, van daardie geld gebruik het om weer aan hul elite reuse bonusse te betaal, was die vet in die vuur.

Om die een of ander rede lyk dit of niks die nuwe klas eietydse Mandaryne van hul grypsug sal genees nie, al veroorsaak dit dat die land vir die gewone burger ekonomies kreupel sal bly.

‘n Antwoord is waarskynlik meer in opportunistiese politiek te vinde – maak die rykes in ANC-geledere so ryk dat ‘n volle implementering van sosialisme hulle steeds superryk laat. Dan is daar nie uit daardie geledere protes nie.

ролики ценапрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.