Advies vir munisipale geldsake

Deel op

Die uwe het self jare gelede Ekonomie op Kovsies geneem, maar, so lyk dit my, is dit uitgediende kennis.

Want met daardie kennis maak die R15 miljoen wat ‘n bankrot munisipaliteit vir sokkerkaartjies uitgegee het met geld wat hy nog uit die inwoners moet wurg, op geen manier sin nie. Skynbaar het die raadslede wat so lekker gesing het: “ We are (very rich) communists” nog nie van die gans wat die goue eiers lê gehoor nie. Of liewer, van die gans weet hulle, maar wat gebeur as hulle die gans slag weet hulle niks.

“Hoes of betaal, is die wet vat nie faal,” is die taal wat die spulletjie se besluite bepaal. Dis nou ander wat moet betaal, want by laaste kennisname voor dit ‘n staatsgeheim geword het was ‘n taamlike rits Vrystaatse raadslede self lekker in die rooi met hul munisipale rekenings. Soos die minister onlangs nog was.

Maar die aankoop van die sokkerkaartjies het my laat dink. Hoekom koop die munisipaliteit nie vir die Curriebekerreeks met elke tuiswedstryd twee miljoen rand se kaartjies nie? Buiten met die Fifa-toernooi, behoort die stadion immers aan die munisipaliteit. Dan is die stadion mooi vol, en die munisipaliteit betaal die geld aan homself. Na tsjôtsjô afgetrek is, sal die munisipale kas steeds heelwat stadiger leegloop.

Elkeen wat ‘n gratis kaartjie kry, moet een slaggat opvul (of alternatiewelik ‘n boom daarin plant) en so sal die stad darem binne die volgende 10 jaar die slaggate in Langenhovenpark opgevul kry, en kan ‘n volgende woonbuurt getakel word.

Die borge spandeer meer en die Rugby-unie glimlag breed en kan dan ‘n groter tjekboek aanskaf.

Trouens, die mense op die pawiljoen spandeer ook ‘n gesonde klomp geld. Soos dié keer toe ek gedink het ons het genoeg geld saamgeneem, en ek net na rustyd ‘n halwe Coke by die klein Oortjies moes konfiskeer om iets oor te hê om vir die arme karwag te kan gee. Daai dag het ek agtergekom: As pa meer aandag aan die rugby skenk as aan sy kleingoed se spandeervermoë is selfs ‘n miljoen rand (sou dit in die eerste plek beskikbaar gewees het) iewers na rustyd al geblaas.

Met die verversingstaks vir die rugby-unie is dit kliphard lag al die pad bank toe.

Dan kan die Cheetahs afrigters bekostig en keer dat sy beste spelers gekoop word.

air flow чисткаФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.