Die All Black-afrigter Graham Henry het onbedoeld onthul dat Nieu-Seeland en Suid-Afrika hul drienasiesrugbywedstryd op 21 Augustus by die Soccer City-stadion in Soweto sal speel.
Suid-Afrikaanse amptenare moet steeds hul besluit aankondig om die wedstryd van Ellispark in Johannesburg te verskuif na die Sowetostadion met 95 000 sitplekke waar die finaal van die sokkerwêreldbeker gaan plaasvind.
Henry het die inligting Vrydag laat fal in ‘n onderhoud met die stuff.co.nz-webwerf. Hy het die stadion vir die wedstryd bevestig in antwoord op ‘n vraag, maar toe sy fout agtergekom en die raad van die All Blacks se mediabestuurder gevra.
“Ja, dis amptelik, is dit nie?” het Henry gesê, voordat hy na die mediabestuurder Joe Locke gedraai het en aan hom gevra het: “Mag ek dit maar sê, Joe?”
“Ek het dit so pas gesê, nie waar nie? Daar is gespekuleer… nee, ek mag dit nie eintlik sê nie. Nee, daar is net gespekuleer dat ons in ‘n stadion wat 97 000 mense vat, kan speel. Jinne, dit sal fantasties wees, nie waar nie? Ek kan nie wag nie.”