Taaltoestand aan die Oosgrens voor die trek

Deel op

Was die regering se taalmaatreëls ‘n oorweging vir die trek? Blykbaar nie. C.F.J.Muller beskryf in Die oorsprong van die Groot Trek die taaltoestand in die grensdistrikte en -dorpe vóór die trek. Op die platteland het al hoe meer Setlaars Afrikaans begin leer (behalwe in die Setlaarsdistrik Albanie) en is in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem.

By gebrek aan ander kerkgeriewe het hulle noodgedwonge lid geword van die NG Kerk, waar die Skotse predikante hulle gou laat tuis voel het. In Port Elizabeth en Grahamstad is Afrikaners, soos in die Kaapse Skiereiland, in die Engelse gemeenskappe opgeneem. Kinders van Afrikaners is daar meer dikwels na Engelse skole gestuur, waar hulle vlotter en beter Engels leer praat het, en waardeur dit vir hulle makliker geword het om met Engelse te trou.

Op die grensdorpe het Afrikaners en Engelse mekaar ontmoet en beter leer ken. Hulle het mekaar se taal aangeleer en gemeenskaplike probleme bespreek. Afrikaans was die algemene omgangstaal en Nederlands die skryftaal, hoewel Engels in die staatskantore veld gewen het. Briewe van hoër beamptes van Grahamstad en Kaapstad was in Engels; amptelike kennisgewings was in Nederlands en Engels.

Die korrespondensie uit die platteland was in ‘n taalvorm tussen Afrikaans en Nederlands. Die briewe en rapporte kon moeilik vertaal word en het soms die amptenare grys hare gegee. Partykeer moes ‘n oorwerkte amptenaar uit sy karige salaris ‘n vertaler huur. Behalwe in Kaapstad, Grahamstad en Albanie was Hollands vóór die Trek toonaangewend ondanks Somerset se proklamasie. Sonder Hollands kon die owerheid nie die dorpe en distrikte administreer nie. Die veldkommandante en veldkornette se Hollandstaligheid moes noodgedwonge aanvaar word, skryf Muller, “want anders sou die ganse raamwerk van die plaaslike bestuur in duie stort”.

Selfs ou dorpsbewoners soos Piet Retief en Gerrit Maritz het Engels blykbaar nooit heeltemal bemeester nie. Engels kon hulle verstaan en lees, en waarskynlik kon hulle dit redelik skryf, maar om ‘n ietwat ingewikkelde betoog daarin af te steek sou nie maklik gaan nie.

Dieselfde geld vir Piet Uys, hoewel hy as renperdeienaar en burgeroffisier die vriend van baie Britse offisiere was. Op die meeste Oosgrensdorpe, selfs die kleinstes in die Karoo, het Engelstaliges gewoon. Baie beroepslui was Engels, maar kon Afrikaans met kliënte praat.

Die Anglisasiebeleid was nog geen grief nie, en Voortrekkers het dit byna nooit genoem nie. Hulle was ontevrede omdat skole net Engels was, maar die meeste het hul kinders nie lank laat skoolgaan nie, of private onderwysers gebruik. In die kerk het so min lidmate Engels geken dat die Skotse predikante nie gehoor gegee het aan regeringsinstruksies om hulle Engels te help leer nie.

Maar voor die Trek was daar tekens dat Engels begin veld wen het ten koste van Afrikaans en Nederlands, veral in die staatskantore, ekonomiese en beroepslewe. Nadat duisende Afrikaners na die noorde getrek het, het Engels in die Oos-Kaap gevorder. Afrikaanse bruin mense het hul taal behou; daar was min sosiale omgang met Engelse blankes.

online freeлобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.