Euforie het ‘n prys

Deel op

Die bedrae wat tot dusver bekend gemaak is oor hoeveel Suid-Afrikaanse staatsdepartemente en staatsinstellings aan die aankoop van kaartjies vir die Wêreldsokkerbeker spandeer het, beloop reeds sowat R60 miljoen. Dit sluit nie die bedrae wat munisipaliteite, soos die R15 miljoen wat Mangaung spandeer het, in nie.

Dié skrikwekkende konteks word verder versteur deur die nuus dat die minister van Finansies ‘n direktief uitgereik het dat dit nie mag gebeur nie.

Dit is nie net staatsinstellings wat geld maak wat kaartjies aangekoop het nie. Eskom het self R12 miljoen se kaartjies aangeskaf wat stellig ‘n hele aantal gemoeds-kortsluitings tot gevolg gehad het.

Wat die uiteindelike totale bedrag gaan wees, is nie bekend nie, maar die skokkende syfer kan net erger skok.

Hierdie soort byvoordele op die belastingbetalersrekening is nie nuut nie. Met die vorige Wêreldbekertoernooi in Duitsland is omtrent almal wat iets was op die rekening van die belastingbetalers na Duitsland. Ook die toe spartelende SABC het ‘n groot span raadslede, senior amptenare en ander belangstellendes op ‘n ekskursie van die Olimpiese Spele in Beijing geneem. Uiteindelik moes die belastingbetaler opdok.

Soms is daar wel ‘n vyeblaar om die uitspattigheid te bedek, soos ‘n drie bladsye verslag van die Tswane-raad oor die hoëvlakse bywoning van die Wêreld-omgewingsberaad. Of die ampsdraers wat die beraad bygewoon het enige insette in die opstel van die verslag gelewer het, is onseker, aangesien die verslag slegs vaaghede bevat wat bykans enige lid van die publiek hier te lande reeds weet – sonder dat hulle die toer meegemaak het.

Die vyeblaar skakel regstegnies die titel, korrupsie, uit maar nie die morele aanklag hiervan nie.

Die koste van hierdie soort optrede is nie net die regstreekse, meetbare soos die rekening wat vereffen is nie, maar die persepsie wat die land se besluitneners by die buiteland skep waar korrupsie, veral na die rol wat inhaligheid met die wêreldekonomiese krisis gespeel het, nou erg negatief beskou word nie.

Wanneer die sokkereuforie verby is, is dit hierdie soort optredes en die afloop daarvan wat aanhou byt en byt.

Of minister Pravin Gordham die oortreders vasgevat gaan kry, is ‘n ander saak. In die lig van die omvang van hierdie praktyk kan sy bakleilus vinnig verdamp.

материал длятопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.