G-8 gee min

Deel op

Dat veral sommige lande van die G-8 erg agter skedule is met miljarde dollar beloofde ontwikkelingshulp aan ontwikkelde lande is ‘n feit, maar daar is ook ‘n ander sy aan dié dollarmunt.

Die Europese Kommissie se voorwaardes vir ontwikkelingshulp maak dit baie duidelik aan watter vereistes lande moet voldoen om vir die ontwikkelingshulp te kwalifiseer. Onder die hoofvoorwaardes is die wyse waarop korrupsie en demokrasie bestuur word. Is die pogings om korrupsie hok te slaan nie sterk genoeg nie, en is daar te min neerslag van demokrasie, word die geld nie na die ontvangerlande se staatskas gekanaliseer nie, maar na nie-regeringsorganisasies en dus grootliks buite bereik van die grypsugtige regerings. Pres. Robert Mugabe se galbrakery teen NRO’s is welbekend.

Wanneer die VSA se minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, in Nigerië die Nigeriese regering oor die uitroei van korrupsie aanspreek, dan spreek dit boekdele van erns.

Tog verwag die ontwikkelende lande steeds ‘n oop hand ten spyte van volgehoue nepokrasieë, kleptokrasieë en ander mismaaksels. Die G-8-lande is hard deur die wêreld-ekonomiese krisis getref. Hoe maklik sal hulle geld kanaliseer na ‘n land waar die munisipaliteite saam in een jaar R13 miljard wanaangewend en vermors het? Watter boodskap stuur die regering uit deur die hersirkulering van kaders wat reeds uitgevang is en selfs ontslaan is, in hoër of gelyke poste. Die lys word al langer, met die jongste Phil Mohlahlane wat as waarnemende hoof- uitvoerende beampte by die Landbank die trekpas gekry het en nou ‘n senior pos by die Limpopo Landbou-ontwikkelingskorporasie losgeslaan het.

Op munisipale vlak lyk dit al meer na “musical chairs” soos uitgevangde munisipale bestuurders elders weer munisipale bestuurders, waarnemende munisipale bestuurder soos op Ventersdorp, of administrateurs word soos wat met die afgedankte munisipale bestuurder van Mangaung gebeur het, en wat nou op aanklagte van onder meer korrupsie en rampokkery tereg staan.

Suid-Afrika, en Afrika, se hantering van pres. Robert Mugabe en ander Afrikaleiers, onder andere een vir wie die Internasionale Strafhof ‘n lasbrief uitgereik het, sal beslis ook nie die lus vir geld-uitdelery aanwakker nie.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat verskeie Europese regerings beduidende hoofstukke in hul eie ekonomiese herstelplanne ingeskryf het.

In skrille teenstelling hiermee wil pres. Jacob Zuma ‘n openbare debat voer om moraliteit te herdefinieer sodat sekere praktyke aanvaarbaar sal wees.

Clinton het pas haar vorige monduitspoelery oor die korrupsie op die kontinent opgevolg met ‘n duidelike streep in die sand te trek dat Afrika self sy voetwerk vir bevatlikheid vir hulp in orde moet kry.

Uiteindelik, in ‘n globale ekonomie, maak dit sin om te belê waar hulpbronne is. Die kwessie van relatiewe prysvoordeel is nog ver van behoorlik ontwikkel oor die natuurlike ingesteldheid tot proteksionisme. Die bietjie uitvoer-vervaardiging van Ethiopië is enkele jare gelede deur elektrisiteitstekorte nek omgedraai. Toe die kragkrisis oorkom is – tydelik blyk dit nou – kon die eertydse vervaardigers nie hul buitelandse marke herwin nie. Doeltreffender mededingers het die geleenthede opgeslurp. Dis taai, en Kersvader kom net eenkeer per jaar.

roulette games noлобановский александр дети

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.