Zimbabwe verkoop lustig ‘bloeddiamante’

Deel op

Britse koerante berig dat Zimbabwe steeds lustig “konflikdiamante” verkoop, in weerwil van die sogenaamde “Kimberley-proses” wat sekere minimum politieke vereistes vir diamanthandel bepaal.

‘n Aksiegroep het die pas afgelope vergadering van die Kimberley-proses in Tel Aviv as “die wederkeer van die bloeddiamant” beskryf, met verwysing na die Hollywood-prent “Blood diamond”.

Lede van die Kimberley-prosessertifiseringskema het vergader om te besluit of Zimbabwe aan die minimumvereistes voldoen het om weer met internasionale diamanthandel te begin, wat die land se sukkelende ekonomie ‘n  hupstoot van ongeveer $1 miljard per jaar behoort te gee.

Zimbabwe hou val dat die land aan die reguleerder se eise vir “skoon handel” voldoen, met ‘n onlangse positiewe verslag deur ‘n moniteerder. Maar burgerregtegroepe het afgevaardigdes na die vergadering versoek om Zimbabwe se skorsing te handhaaf weens menseregteskendings in die diamantveldgebiede, waaronder massamoorde op onwettige delwers. Volgens die menseregtegroepe maak soldate in Marange steeds gebruik van gedwonge arbeid, marteling en teistering.

Sulke oproepe het verhewig sedert die inhengtenisname van Farai Maguwu, ‘n klaer wat die beweerder gruweldade ondersoek het. Na bewering is Maguwu vermoor nadat lede van die gesin geslaan en aangehou is.

Daar heers ook vrese dat winste uit diamantuitvoere gebruik kan word om president Robert Mugabe se kontantarme Zanu-PF-party te befonds, ten koste van sy mededinger, die Beweging vir Demokratiese Verandering.

Burgeroorloë in Angola, Sierra Leone en die Demokratiese Republiek van die Kongo het in die negentigerjare die wêreld se aandag gevestig op die manier waarop  ongeslypte diamante, wat deur rebellegroepe gebruik word om oorloë teen hul regerings te finansier, in juwellierswinkels in Londen en New York kan opeindig. Die kwessie is in die Hollywood-film Blood Diamond uitgebeeld waarin Leonardo DiCaprio ‘n Suid-Afrikaner speel en waarin daar ook ‘n bietjie Afrikaans gepraat word.

Tien jaar gelede het ‘n VN-resolusie die Kimberley-proses geskep, wat ‘n gesamentlike poging van regerings, die diamantnywerheid – De Beers inkluis – en menseregtegroepe verteenwoordig om onwettige handel in diamante stop te sit. Dié veiligheidsmaatreëls het in 2003 in werking getree en na bewering is sogenaamde konflikdiamante van 15% tot minder as 1% van alle internasionale handel verminder.

Maar onwettige diamantverkope bly ‘n enorme probleem in lande soos Venezuela, die Ivoorkus, Guinee en Libanon. Verlede jaar het sewe aksiegroepe ‘n gesamentlike verklaring uitgereik waarin gewaarsku is dat die stelsel “daarin misluk om die kwessies van nie-nakoming, smokkelary, geldwassery en menseregtevergrype in die wêreld se spoeldiamantgebiede aan te spreek”.

Twee van die Kimberley-proses se leidende figure het bedank. Elly Harrowell, ‘n aktivis vir Global Witness, wat gehelp het om die stelsel te skep, het onlangs gesê: “Ná tien jaar, is die KP ‘n sukses of ‘n mislukking? Die proses het bepaald sekere indrukwekkende suksesgevalle oor die laaste tien opgelewer, maar ongelukkig sal ons moet sê die proses oor die afgelope paar jaar deur ‘n gebrek aan politieke wil in die wiele gery is.” Sy het bygevoeg: “Vanjaar kan ‘n maak-of-breek-jaar vir die Kimberley-proses wees.”

автоматическая насоснаяданильченко юрій Харків

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.