Politiek van die blikbord

Deel op

Deur die half toegewasemde kombuisvenster sien ek hulle aankom. Netjies agtermekaar karring hul beentjies agter hul “rygoed” aan en trap slordige spore deur die dik, spierwit ryp.

Jonas, die voorste, se “ryding” bestaan uit ‘n bandlose fietswiel wat hy vernuftig met ‘n stok aanjaag. Salmon, die tweede, “ry” met ‘n draadkar wat mens sommer oor die verte kan sien, oor verbluffend baie detail beskik. Die kleinste, skaars twee bakstene hoog, Johannes, sleep sy “ryding” aan ‘n draad agter hom aan. Dit lyk na ‘n langwerpige visblik. Sy boot, het ek later verneem.

Hulle trek langs mekaar voor die agterdeur in.

Oupa Anneries roep huis in na die bulletjies: “Jonas-hulle is hier!”

Die bulletjies was besig om iewers in die opstal ‘n stamoorlog te voer. Dis nog ‘n klomp onopgeloste kwessies van die vorige dag se ver ry plaas toe wat uitgepluis moet word. Maar oupa se nuus laat die bakleilus op slag verdamp.

Met gilletjies van vreugde troep die spannetjie by die huis uit. “Jonas!” “Salmon!”

Johannes was met die vorige jaar se kuierslag op die plaas nog te klein, en dié is nog half vreemd aan die stadsbulletjies.

Die spelery is eers vlak by die agterdeur. Ek kry bitter koud vir hul onthalwe, waar ek hier langs oom Anneries voor die Aga sit.

Vir die kleingoed is oom Anneries “oupa” al is hy ouma Marié se tweede man. Oupa Japie self is ‘n paar jaar tevore oorlede.

Nie lank nie, toe neem Sanna vir Jonas-hulle hul koffie en brood. “Fire buckets” het ons met diensplig daai groot blikbekers genoem. Die snye brood is so dik soos twee duime, en die stoom trek uit hulle uit.

Met die blikbekers en blikborde leeg by die agterdeur gelos, verkas die spelery eers na die stoor toe, waar dit warmer is. Later die dag sal die omgewing aan die beurt kom, en wanneer dit warm genoeg is, sal die spannetjie agterop die bakkie saamry.

By oupa Anneries op die plaas is daar verskriklik baie te doen. Danksy ‘n syferfontein selfs kleilatgooi in die winter. Botterboom-ry nou nie, maar ou sinke waarvan die een punt effe opgebuig word, deug net so lekker om teen die buitekant van ‘n gronddam se wal af te ry.

‘n Paar fietse van bedenklike herkoms wat oom Anneries by ‘n vendusie aangeskaf het, dien as rygoed as die spannetjie haastig is. Die binnebande is lankal met plastiekpyp vervang, en as die fietse ooit remme gehad het, was dit nie onlangs nie.

Is daar bietjie meer tyd, is daar genoeg rygoed om opgesaal te word.

Maar dié vakansie sou anders wees, kom ons oor middagete agter.

“Pa, Jonas wil weet hoekom hulle hul koffie in blikbekers kry?” Oudste Bulletjie roer die saak aan.

“En blikborde,” sit Tweede Bulletjie vers twee in. Jongste Bulletjie se verstaan van politiek lê nog ver in die verskiet, en hy knaag nog te lekker aan ‘n stuk droëwors om hom met kwessies van die lewe te bemoei.

Maar tussen die twee versies het ek al oom Anneries sy asem skerp hoor intrek.

My kop woer-woer nog, toe sê Ouma Marié: “Hoe lank dink julle gaan erdebreekgoed hou terwyl julle so woes speel?”

Verlig sien ek die vrae is behoorlik, deeglik, en duidelik opgeklaar. Wat die Bulletjies betref, in elk geval.

Toe die Bulletjies weer na buite stroom, bly die grootmense agter. Ouma Marié pak die saak sommer dadelik aan: “Voor ‘n mens nou die dam onder die eend se jis uitruk…dit laat my dink aan die ma wat so geskrik het toe haar spruit by die huis kom en vra waar hy vandaan kom. Die ma het gehoop daai vraag sou eers heelwat later kom. Om vir tyd te speel terwyl sy vervaard dink, vra sy hoekom hy wil weet.

“Verduidelik die mannetjie: ‘Toe ons so speel sê Pietie hulle kom eers van Johannesburg af, en Kosie sê hulle kom van Durban af. Nou waar kom ons vandaan?’“

Vroulief giggel verbouereerd. Ek en oom Anneries sit met diep kepe tussen die oë. Iets fluister vir ons dis nie die einde van die storie nie.

En dit was nie.

Aandete: “Jonas sê hulle het nie eens spoellewwies nie.”

“En Jonas sê hulle kan elke dag net ‘n rukkie TV kyk.”

Nou is daar geen keer aan oom Anneries nie. “As daai bl*&sem van St*ntsake weer sy pote op die plaas sit…!”

Ouma Marié druk haar man ferm op die skouer: “Die kinders, my man.”

“Gaan pak jul legkaart by die verwarmer in jul kamer, kinders,” gelas Vroulief.

Die kinders laat hulle nie twee maal nooi “om van tafel verskoon te word nie”. By ouma Marié is aansit by die eettafel ononderhandelbaar. En dit bly nie by net eet aan tafel nie, die kuier moet ook daar voortgesit word. Die kiertsregop eetkamerstoele, glo ouma Marié is goed vir haar rug en dus almal anders se rûe. My rug is na ‘n halfuur morsaf, en ek verlang na die sagte sitgoed in die sitkamer.

Eendag, toe ouma Marié nie by was nie, brom oom Anneries hy kan dit nie verstaan nie. Soos klokslag is die kos nog nie klaar terwyl die tante Sewende Laan kyk nie, maar net soos die TV-nuus moet begin wat hy weer graag wil kyk, word hy tafel toe geroep. Dan is die TV buite sig- en hoorafstand.

“Toe koop ek ‘n klein TV vir die eetkamer, toe wil die tante my skei.”

Ek self was nog nooit in ouma Marié se goeie boekies nie, dus as daar klaar geëet is, sê ek dankie vir die kos, maar nou is my rug af, en ek gaan sitkamer toe. In die proses is ek dieper in die “dog box” maar daarmee het ek vrede gemaak.

Nie lank nie, sal oom Anneries by my kom inval. Dan kyk ons die nuus wat opgeneem is. Dit het ons al geleer om in stilte te doen.

Vroeër het ek en oom Anneries ‘n slag gebrom oor dinge soos die Esybiesie se bevooroordeeldheid, toe kry ons ‘n skrobbering oor ons ongeselligheid om by die gesels aan tafel weg te loop om hier voor die verderflike TV (wat ook Sewende Laan uitsaai) te kom sit en kyk.

Maar vanaand is daar ernstiger sake op die hart. Die weerwanvoorstelling is skaars klaar, of oom Anneries spreek sy woord.

“Daai *&^ vent van Str*ntsake maak net moeilikheid. Van hy tydig en ontydig hier op die plaas aangesit gekom het, is alles te kort of te lank…

“En om te dink, ek was seker die eerste boer wat water en krag na die strooise aangelê het. Ek betaal meer as die minimumloon…

“Nou die ou van Grondsake – kom hy nie die protokol vir plaastoegang na nie?”

Oom Anneries sug.

“Hy sê hy weet nie van die protokol nie, maar al is daar so ‘n protokol, geld dit hom nie want hy is van Lênt Effêrs. Dan bel ek die polisie om hom vir betreding te laat gryp, dan sê hulle hulle weet ook nie van so ‘n protokol nie, en dan bel ek die landbou-unie en na ek met so die derde een gepraat het dan weet hulle daarvan en dan sal hulle die mense weer inlig oor die protokol.

“Maar ‘n dag of twee later dan is die opstoker weer hier en sê hy weet nog steeds niks van die protokol nie. Het al gedink om per ongeluk ‘n skoot tussen sy pote af te vuur, maar ek is nie lus om soos Skip Wandrag die naweek in die selle te sit nie.”

“Maar hy het mos ‘n skadevergoedingseis teen die polisie gewen.”

“Ja, maar hy was nog steeds die naweek in die selle.”

Ons sit ‘n oomblik.

“Jy sal met jou seuns moet praat,” vervat oom Anneries. “Ek kan met Jonas-hulle praat. Maar dan is die ou van Str*ntsake oormôre weer hier en dan het ek weer allerlei moeilikheid. Jy kan nie glo wat ek alles na die tyd moet opvreet nie.”

“Oom Anneries, ek sal met die Bulletjies praat. Maar die winde van verandering het my bietjie onverhoeds gevang…”

“Winde van verandering…” brom oom Anneries. As dit by winde van verandering kom, dan sou hy ‘n orkaan ook terugverander het.

“Dink oom nie dis dalk ‘n grondeis wat broei nie?”

“Nie restitusie nie,” sê oom Anneries. “Met die sluiting was daar beslis geen eis teen die plaas geregistreer nie. Maar grondhervorming, sal ek nie stry nie. Omtrent almal wat nie seuns het nie, begin op hul oudag geteister te raak om die grond via Str*ntsake aan die plaaswerkers te verkoop. Maar dis ‘n erfplaas dié en my dogter kry dit eendag.”

Met dogter bedoel hy vroulief, sy stiefdogter. Sy eerste huwelik was kinderloos.

“Straks kry een van die Bulletjies lus vir boer eendag…”

Dis natuurlik nie iets wat nou vir hulle gevra moet word nie. Die plaas assosieer hulle met vakansie en speel, en op daardie ouderdom klink dit soos die hemel moet wees.

Ek praat met die bulletjies, omsigtig, minder omsigtig ook. Ook hard en duidelik.

Maar die winde van verandering het nie sommer ophou waai nie.

Die volgende dag:

“Oupa, Jonas sê sy naam is eintlik Si..Si..”

“Simon!” val Klein Bulletjie hom in die rede.

“Nee man, nie Simon nie,” sê Groot Bulletjie. Hy kyk hoopvol, amper pleitend na sy ouma.

“Sipho,” help ouma hom uit sy woordstrikke.

“Ja, Sipho,” vervat Groot Bulletjie bly.

“Die ander sê hulle name is eintlik ook verkeerd, maar ek kan nie onthou wat hulle regte name eintlik is nie,” sê Tweede Bulletjie.

Weer is ouma ter hand met ontlontende woorde: “Maar in die stad het julle ook mos ander name. Kobus, François en Stephan. Hier het julle plaasname.”

Die lig gaan vir die Bulletjies op, maar ek begin wonder of hul ouma nie nou net besig is om die oomblik van waarheid uit te stel nie.

Die aand praat ek weer met die Bulletjies. ‘n Bietjie van politiek.

Maar hoe vertel ‘n mens nou vir die knape dat iets wat voor hul geboorte gebeur het, op hul brood gesmeer word en nog baie gesmeer gaan word?

Soos dit is, word die kinders groot met ‘n persepsie dat die juffroue by die skool lieg soos ek en vroulief hulle met huiswerk reghelp, veral as geskiedenis aan die beurt kom.

Hulle glo vas die Esybiesie lieg soos hulle my gereeld hoor raas oor iets wat verdraaid aangebied is…

Om nou te hoor hul vakansiespeelmaats lieg …

Ek gaan slaap met ‘n klip op die bors, daai aand.

Sommer vroeg die volgende oggend breek die slag van Bloedrivier buite uit. Die grootmense los die stomende bekers koffie en storm uit, maar toe is die slag klaar gelewer. Jonas, of te wel Sipho, huil-skree soos ‘n maer vark, en hou sy oor vas.

“Groot Bulletjie, hy Dzônas gemo*r,” doen Salmon verslag. “Dzônas hy gasê oubaas Anneries hy ês die varrik, toe Groot Bulletjie hom hêtte gedônner.”

Jonas het intussen soos ‘n loeiende sirene afgesit na sy stroois toe. Op die “slagveld” lyk dit of Groot Bulletjie ‘n heldedaad verrig het – wit en swart.”

“Daai Dzônas, sy kop hy raas,” verklaar William, die trekkerdrywer wat toevallig op die werf was om te kom roomkanne aflewer. “Es goet die Groot Bulletjie hom hette gemo*r.”

Nie lank nie kom Willemien, Jonas se ronde ma, met ‘n steeds skreeuende Jonas agterna, die voetpaadjie opstal toe aangestoom. Sy is wild boos, kan ‘n mens van ver af sien. Maar Willemien is nog sommer ‘n hele ent van die werf af, toe skree Sanna vir Willemien in Suid-Sotho wat gebeur het. Hier, so diep in die Oos-Vrystaat in, is daar al baie Zoeloes, soos ook Sipho se ouers, maar almal verstaan Sotho goed.

Willemien kom tot stilstand, en Sipho besluit dis nou ‘n gawe tyd om op te hou tender vir ‘n Oscar. Hy besluit ook dis nou ‘n gawe tyd om flink te makeer, maar te laat. Willemien gryp hom aan die arm, en die volgende oomblik val die houe. Die sirene word op slag weer aangeskakel.

Na ‘n ruk kry Sipho homself losgewikkel, en lê die rieme neer.

En net daar het die winde van verandering ook ophou waai. Vroegoggend val Salmon met sy draadkar, en Johannes met sy “boot” voor die agterdeur in. Eers na hulle hul koffie uit die “fire buckets” gedrink en hulle aan die heerlike dik, warm snye brood versadig het, word die spelery na die res van die werf en verder uitgebrei.

Van Jonas is geen teken nie.

So twee dae later is die drie Bulletjies saam met Salmon en Johannes agter op die bakkie. Op pad lande toe. Oupa ry egter ‘n ompad, en hou by Sipho-hulle se stroois stil. Willemien loer uit, en oom Anneries praat met haar Zoeloe. Willemien knik, en is terug die stroois in. Toe gaan daar weer ‘n sirene aan, en kort daarna kom sy met ‘n skreeuende Jonas aan die arm by die stroois uit, en pluk hom onsagkens by die ander agter op die bakkie. Hier sit hy dikbek.

Op die lande wink oom Anneries vir Jonas nader, en Jonas volg hom skoorvoetend ‘n ent weg. Daar sien ek, so op ‘n afstand, praat oom Anneries met hom, praat ernstig.

Jonas skud sy kop op en af. Hy verstaan. Oupa gee vir hom iets wat ek op hierdie afstand vermoed ‘n stuk biltong of droëwors moet wees. Toe kom hulle terug, beide ‘n breë glimlag op die bakkies.

Die spelery vervat asof daar nooit ‘n onmin was nie.

‘n Dag of twee later doen Groot Bulletjie verslag: “Oupa, Jonas sê oupa is Y–wan. Wat is Y-wan, oupa? Ons speel nou so lekker ek wil hom nie onnodig klap nie.”

Ek verduidelik.

So ‘n week na die vakansie is dit oom Anneries wat van die plaas af lui. Dis nog die koffiemeule-model, en om stad toe te lui is ‘n hele storie. Maar oom Anneries moet darem dié nuus rapporteer.

“Die ou van Str*ntsake was weer hier maar iemand het hom met ‘n klip platgegooi. Die spul sweer hoog en laag dit was Sipho…vir ingeval het ek hom ‘n sakkie biltong gegee.”

Ja-nee, nou is daar weer vooruitgang met oom Anneries se boerdery. Hy is mos Y-wan, en niemand stry meer nie. Behalwe miskien die ou van Str*ntsake.

купить кольцеброс детскийДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.