Hoe ‘n Afrikanerowerheid tot stand kan kom

Deel op
In sy rubriek skryf dr Christo Landman dat ‘n kenmekaarkonferensie op 7 Augustus gehou gaan word.  Die doel van die konferensie is onder andere dat Afrikanerbelange organisasies mekaar beter sal leer ken en, indien moontlik, om aansluitende samewerking met mekaar te vind met die doel tot die latere totstandkoming van ‘n Afrikaner Owerheid (AO), sou genoegsame toenaderingtussen die groeperings bereik kan word.

Mense vra hoe kan so ‘n AO tot stand kan kom as daar fundamentele verskille tussen rolspelers bestaan.

Hierdie verskille is hoofsaaklik tweërlei van aard:

  • ‘n Volksraad word verkies in ‘n een-man-een-stem-verkiesing waar slegs geregistreerde kiesers hul stemme mag uitbring. Dit is die liberaal-demokratiese benadering.
  • ‘n Afrikanerowerheid word saamgestel deur Afrikaanse organisasies. Dit is die konsosiatiewe benadering.

By die genoemde konferensie sal dr Landman asook mnr Paul Kruger die twee benaderings waarskynlik grondig bespreek en die voordele en nadele van elkeen uitwys.

Wat die voordele of nadele van die twee benaderings ook al mag wees, staan een kwessie soos ‘n paal bo water, naamlik dat daar slegs een verteenwoordigende liggaam namens Afrikaners op die binne – en internasionale terrein kan optree.  Sou die Afrikaners op voetsoolvlak die AO nie as verteenwoordigend erken nie, dan besit so ‘n AO geen legitimiteit by sy eie mense en in internasionale fora nie.  Insgelyks, sou Afrikanerorganisasies die volksverkose Volksraad nie erken nie, en as net nog ‘n splintergroep beskou, en sou hulle kan bewys dat hul gesamentlike ledetalle meer is as die getal Volksraadkiesers, dan het die Volksraad geen legitimiteit by bestaande organisasies nie.

Nou met watter een moet regerings dan amptelik skakel?

Omdat daar slegs een verteenwoordigende organisasie erken sal word, moet hierdie dilemma besweer word voordat die AO tot stand kom, en ek wil ‘n wenk of twee aan die hand doen om hierdie knelpunt te ontstrengel.

Eerstens, elkeen van die twee benaderings het sy eie voordele en nadele.  Die kuns is altyd om die voordele te benut en die nadele uit te skakel.

Die oplossing wat ek aan die hand wou doen is dat albei roetes gevolg word. Volksmobilisasie word bereik deur die liberaal demokratiese benadering en herinnner Afrikaners op voetsoolvlak aan hul eie identiteit en volkskap.  Dit is die groot voordeel van ‘n verkose volksraad, as ‘n paar honderdduisend kiesers aan so ‘n verkiesing sou deelneem.

Amptelike erkenning deur Afrikanerorganisasies verseker weer dat binnelandse sowel as buitelandse legitimiteit verkry word.

(‘n Verdere probleem duik egter op deurdat daar minstens twee registrasie-instansies bestaan wat kieserslyste saamstel en waar kiesers kan registreer, naamlik die VVK en die BVS (Boerevryheidstigting) wat reeds in 2005 ontstaan het.  ’n Oplossing sou wees dat albei lyste geldig verklaar word vir die doeleindes van die verkiesing, maar dat kiesers slegs een stem mag uitbring as hulle op albei lyste geregistreer sou wees.)

My voorstel sou dus wees dat daar twee soorte afgevaardigdes moet wees, naamlik die verkose lede en die aangewese lede.  Dit wil sê, die helfte van die volksraadslede moet deur kiesers verkies word en die ander helfte kan deur Afrikaners se belangeorganisasies aangewys word.

Gestel dat daar dus altesaam sestig raadslede sou wees, dan word dertig by ‘n amptelike verkiesing verkies.  Die ander dertig word voor die verkiesing reeds aangewys, om amptelike erkenning aan die verkiesingsproses asook aan die  daaruitspruitende AO te verleen.

Die feit dat organisasies slegs die helfte van die raadslede verteenwoordig, verhoed dat een of twee sterk organisasies die Raad nie sal kan kaap nie.  Darenteen, sou ‘n politieke party besluit om sy bronne en takke te gebruik om sy partylede tot die Raad verkies te kry, kan die Raad sodoende ook nie deur ‘n politieke drukgroep oorheers word nie.

Dan is daar die probleem van makro- en mikro-organisasies. Die stemstelsel binne die AO kan seer sekerlik tog nie dieselfde gewig aan elke organisasie, groot of klein, gee nie. Daar is byvoorbeeld belange organisasies met meer as ‘n honderduisend lede, terwyl ander organisasies minder as tien lede het wat  tussen hulle ‘n rekenaar of faksmasjien besit.

Nou hoe gaan ekwiteit tussen die organisasies bereik kan word? Hoe kan ‘n balans verkry word tussen groot en klein organisasies?

Een uitgangspunt is dat getalle alleen nie die waarde van ‘n organisasie as sulks bepaal nie.  Daar is ander faktore, soos die strategiese belang wat gedien word, die gehalte van die leierskap, die geloofwaardigheid asook die relevansie van organisasies op nasionale vlak.

‘n Oplossing sou wees dat organisasies met minder as honderd ingeskrewe lede slegs een stem kan uitbring, terwyl organisasies met tussen ‘n honderd en ‘n duisend lede twee stemme kon uitbring. Dan sou organisasies met meer as ‘n duisend lede ‘n maksimum van drie stemme kon hê.  Organisasies sou dan ook by ‘n neutrale instansie kon registreer deur hul ledelyste sowel as hul onderskeie grondwette en bedryfstate voor te lê om hul bona fides te bewys. Waar organisasies minder as byvoorbeeld vyftig lede het, kan hulle ‘n onderlinge assosiasie vorm om gesamentlik deur een afgevaardigde met ‘n sekundus verteenwoordig te word.

‘n Tussentydse grondwet en reglemente kan die hele struktuur logies uiteensit sodat kiesers sal weet waarvoor hulle op 31 Mei 2011 gaan stem.

Met hierdie uiteensetting wil ek dus nou die nasionale debat open vir die totstandkoming van ‘n legitieme Afrikanerowerheid.

Om die omvang van die probleem te besef, besoek gerus

http://www.radiopretoria.co.za/Volksorganisasies.html

бардолино италия вино красное сухоеОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.