Oranje deur na tweede rondte

Deel op

Die Nederlandse sokkerspan, bekend as Oranje, het die eerste span in vanjaar se wêreldbekertoernooi geword wat van ‘n plek in die tweede rondte verseker is.

Die Nederlanders het reeds twee van hul drie wedstryde suksesvol agter die blad na die toernooi se oorpresteerders, Japan, ook in die slag gebly het. Kameroen, saam met Denemarke in die poel, het by die Dene slae gekry en dit is nou reeds seker dat dié span die eerste rondte nie oorleef het nie.

Dit gaan nou keer kos om die Oranjegolf te keer. Fifa en die SA Polisie se optrede teen die oranjerokbrigade, saam met sokkerkoors, blaas die Oranje-sentimente sterk aan.

Intussen bly dit ‘n toernooi van volop verrassings, met sterk spanne wat sukkel om op dreef te kom en aspoestertjiespanne onder die knie te kry. Een van die spanne wat teleurstel is Frankryk, wat boonop nou deur onderlinge twiste en stryd geteister word. Frankryk se probleme is egter nie nuut nie, en hierdie finaliste van die vorige wêreldbeker sou nie eens in die toernooi gewees het, as dit nie vir die berugte handbal teen Ierland was nie.

Nou agterhaal dié sonde die Franse blykbaar. Die groter prentjie is dat verskeie van Algerië se spelers, wat in Frankryk gebore is en trouens vir die Franse Onder 21-span uitgedraf het, verkies om eerder vir die ongeroemde Algeryne te speel as vir Frankryk, wat as sokkerreus gereken word.

Dit beteken egter nie dat Bafana-ondersteuners op ‘n verassing in Bloemfontein moet reken nie. Bafana, om nog by die gleufie in die agterdeur deur te glip, moet die Franse met minstens drie doele klop om Uruguay of Meksiko in die stof te laat byt. En selfs al ransel die Bafana Frankryk so erg af, sal dit alles tevergeefs wees as die twee Suid-Amerikaanse spanne gelykop sou speel, en ‘n ligapunt elk sou insamel. In die Bafana-kamp broei dit na berig word ook.

‘n Interessante vraag ontstaan nou. Voor die toernooi is die enigste wit speler in die Bafana-groep, Matthew Booth, dikwels as woordvoerder en ambassadeur ingespan. Hy het egter nog nie die uitsoekgroep gehaal nie, en sy stem by nuuskonferensies het stil geword. Booth het egter in die oefeninge die entoesiasme self gebly, is topfiks, en nie ‘n tipiese prima donna wat besluit wanneer hy gaan sweet of nie.

Boonop is die spelers wat wél die span haal, oor die algemeen maar aan die kort kant, soos veral in die oefenwedstryd teen Colombia geblyk het. Dit benadeel die span se vermoë om van hoek-inskoppe die telbord met kopskote aan die gesels te hou. Booth, ‘n hemelbesem, kan uiters waardevol wees in ‘n wedstryd waar die Bafana baie doele moet aanteken, of selfs met ‘n oorwinning en al in die slag te bly.

Met die Afrika-karakter wat die organiseerders en die regering op die toernooi afdruk, is dit egter onseker of gewaag sal word om ‘n swart speler vir ‘n wit speler op te offer, veral na die eerstekeusedoelwagter Itumeleng Khune (swart) weens ‘n rooi kaart nie sal kan speel nie en deur ‘n bruin speler vervang gaan word.

Intussen berig Siya-nuus dat daar onmin in die Bafana-kamp is, en luidens dié berig steek daar waarheid in wat lankal vermoed word – dat afrigter Carlos Alberto Parreira sommige spelers as onaantasbaar beskou, en dat dit juis hulle is wat die span teen Meksiko in die steek gelaat het, en toe teen Uruguay nog erger verbrou het. Gerugte wil dit hê dat Parreira onder geweldige druk is om so veel as moontlik “etniese swart” spelers in te span, wat beteken dat Steven Pienaar nie behoorlik sy voete kan vind nie, en boonop uit sy gunstelingposisies ingespan word. Dit is egter ook moontlik dat hierdie storie sy oorsprong het in die berigte dat minister Makhenkesi Stofile en oud-minister Ngconde Balfour “oorvalle” sou kry as Makaya Ntini se plek in die Proteaspan in die gedrang sou kom, ongeag vorm.

легоФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.