As howe die regering tot verantwoording moet roep

Deel op

Twee parallelle gebeurtenisse speel hulle nou af. In die Vrystaat is ‘n skikking tussen Vrystaat Landbou en die regering verkry wat daarop neerkom dat die regering nou sy grondwetlike plig teenoor Vrystaatse grensboere met Lesotho gaan nakom. Die staat – oftewel – die belastingbetalers – gaan die regskoste betaal.

Die staat het na drie jaar kopgegee en uiteindelik besluit om sy verweerskrif te onttrek, en nou uiteindelik ‘n probleemgrens te beveilig.

Terselfdertyd spreek Afriforum sy regspan, nadat die Suid-Afrikaanse regering weer versuim het om Suid-Afrikaanse boere in Zimbabwe te beskerm wat deur grondbesetters bedreig word. Die regering het teen die spertyd nie op Afriforum se kommunikasie hieroor reageer nie. Die aanloop is ook dat die regering op die laaste nippertjie geskik het toe hy van plan was om boere uit ‘n bilaterale ooreenkoms met Zimbabwe te sluit. Nou staar die regering waarskynlik weer regsoptrede in die gesig.

Terwyl die regering met die mond kliphard nasiebou predik, faal dit en sy tentakels as dit by die daad kom. Veral sommige lede van die nasie is skynbaar bestem om tweedeklas-lede te wees, en volgens huidige uitsprake, onbepaald so te bly. Die strategie van voetskietery maak nie sin gegewe die bekpraatjies nie.

Die tweede aspek wat onder die loep kom, is dat die howe nie net ‘n waghondfunksie oor die regering moet vervul nie, maar gereeld regeringsfunksies moet oorneem. Ook in die Vrystaat moes die hof byvoorbeeld ingryp en nie net tenders tersyde stel nie, maar hertoeken.

Terwyl dit goed is dat die howe hierdie soort funksies kan vervul, en bereid is om dit te vervul, sleep dit ook die howe by die politiek in, wat al hoe meer grondwetkenners maan die howe se aansien kan benadeel. Veral as dit tot die partypolitieke vlak begin daal, soos waar die howe by herhaling in die Cope-sage moes ingryp.

Die howe moes terselfdertyd ingryp in die Julius Malema-sage. In lande soos Australië is ‘n debat aan die gang oor hoe ver die oppergesag van die grondwet, en daardeur die howe, moet strek. Uiteindelik, so word geargumenteer, word die kiesers hul demokratiese reg om hulself te regeer deur ‘n onverkose liggaam ontneem.

Die debat neem trek egter ‘n geheel ander baadjie aan as dit om ‘n heterogene land handel met ‘n grondwet wat vir ‘n homogene land ontwerp is. Dan kan daar geen twyfel wees dat die howe se rol onontbeerlik sal wees nie, soos nou in Suid-Afrika by herhaling bewys word. Om nou die howe se sogenaamde inmengery te bevraagteken is ‘n erkenning dat die grondwet nie aan sy demokratiese aard voldoen nie, en ook nie kan voldoen nie.

Dit word vererger deur die disfunksionele en / of partydige grondwetlike beskermingsliggame, soos die Menseregtekommissie en Openbare Beskermer. So lank die howe soos onafhanklike howe handel, so lank verdien hul bereidheid om reg te maak waar sake skeefloop, nie om onder verdenking geplaas te word nie.

So lank die regering ook nie leer om self sy burgers ewehandig te hanteer nie, moet hy ook nie verbaas wees as die wat hy minder gelyk as ander behandel, hulle tot die howe wend nie. En solank dit gebeur is nasiebou deur euforie soos om Tik teen armoede in te span. So lank moet die bou van die land se beeld deur die prisma van ‘n patetiese regering geskied.

Terwyl die Nederlandse regering se energie deur koalisiegesprekke opgeneem word, sorg daardie regering nog vir sy oranje rokdraende burgers. Hierdie regering moet deur die howe tot orde geroep word om dieselfde te doen.

проектирование внутреннего освещенияtopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.