Jeugdag: niks om te vier

Deel op

‘n Volk wat nie in sy jeug belê nie, sorg nie vir sy toekoms nie.

Dit is ‘n bitter ou waarheid, maar Sondag lui ‘n prominente opskrif in Rapport: “Vir die verlore jeug is daar niks om te vier.”

Die man wat sy pen so in gal doop is Charles Malan, wat benewens as skrywer, ook deur sy werk by die RGN bekend geword het.

Malan se inleiding lees: “Die jong mense van Suid-Afrika het bitter min om te vier op Jeugdag, behalwe verspeelde kanse, onbeholpe volwasse leiding en ‘n weldeurdagte jeugbeleid wat nooit ordentlik in werking gestel is nie.”

Malan verwys naamlik na ‘n jeugbeleid wat in opdrag van die destydse president Nelson Mandela ontwikkel is. Aan die stuur van sake was dr. Van Zyl Slabbert wat onlangs oorlede is. Malan self was een van die medewerkers, en sy artikel toon ook die kenmerke van effense bitterbekheid – maar skynbaar met baie goeie rede. Die man wat dit moes implementeer was adjunk-president, en later pres. Thabo Mbeki, wat dit weer grootliks aan dr. Essop Pahad oorgelaat het.

Die gevolge is daar vir almal om te sien. Die nasionale en provinsiale jeugkommissies het ontwikkel tot instellingts wat min meer moes doen as om prominente ANC-jeugleiers van salarisse – ruim salarisse – te voorsien. Die staatsfondse is dus ook grootliks op projekte ter ondersteuning van die ANC aangewend, hoewel onbekwaamheid wat die Ouditeur-generaal slapelose nagte besorg, dikwels die uitvoering daarvan in die wiele gery het.

Die twyfelagtige hoogtepunt was waarskynlik toe die amptelike hoof-jeugdagvieringe by Botshabelo in die Vrystaat gehou is. Die hoosprekers was mnr. Jacob Zuma, wie se enigste amp destyds president van die ANC was, Julius Malema, met ‘n enigste amp om jeugleier van die ANC te wees, en Cosatu se Zwelinzima Vavi. Die enigste rol vir opposisiepartye was om uitnodigings te kry om na hierdie geleentheid met sy ANC-sprekers te kry. Die DA het hieroor by die Openbare Beskermer gaan kla, en na ‘n lang oponthoud het die OB bevind alles was pluis, maar dit moet nie weer gedoen word nie.

Dié geleentheid sal veral onthou word vir Malema se “Ons sal doodmaak vir Zuma”, half ge-ego deur Vavi. Hierdeur is die simboliek van ‘n erg verdeelde Suid-Afrikaanse jeug ingelui.

Die pleknamekomitee van Limpopo – ook ‘n werkverskaffer van die ANC-jeugliga – se optredes is vanuit ‘n versoeningshoek skrikwekkend.

Op tradisioneel Afrikaanse kampusse waar studentepolitiek volgens politieke lyne bedryf word, is die vernaamste rolspelers dikwels die Vryheidsfront Plus Jeug aan die en kant, en die ANC-jeugliga en Sasco aan die ander kant. ‘n Party soos die DA wat onder die studente se ouers wye steun het, maak nie hond-haaraf nie.

In die aanloop tot die sokkerwêreldbeker, met die vuvuzela al goed aangeskakel en die euforie op voorblaaie, het Afriforum Jeug nog ‘n titseltjie werklikheidskoors probeer aanskakel deur te wys op die onvanpastheid van die regering en Fifa se verheerliking van Peter Mokaba, die man van “Kill the Boer, kill the farmer”-faam.

Die volwasse respons op die radikalisering van Mokaba se geesteskind. Malema, laat veel te wense oor om dit sagkens te stel.

Pas het ‘n Nederlandse koerant in ‘n ellelange artikel die mantel van Suid-Afrika se ikoon van versoening vir die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen aangetrek. Hierdeur het hy ‘n buitelandse erkenning gekry vir die inisiatief om die Reitz-kwessie op ‘n ander manier te beredder as om die vier verhoorloos hul studies te ontneem en te laat verguis. Plaaslik verswyg die Engelse pers – anders as die pers in die buiteland en twee groot Afrikaanse koerante – dat die vier om verskoning gevra het.

Nie dat Jansen almal se droomrektor is nie – soos die gedagte wat hy en sy omstrede studentedekaan koester om voortaan studentepolitiek volgens politieke partylyne te verbied. Dit klink al te veel na simptome in plaas van die oorsake aan te spreek. Die werklike oorsake is nie moeilik om te vind nie: volwassenes.

автоинструмент купитьданильченко юрій броніславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.