Afganistan is ryk aan minerale – ongeveer $1 000 miljard ryk, volgens Amerikaanse geologiese spanne wat die land se minerale potensiaal vasgestel het. Dit sluit groot reserwes koper, yster, litium, niobium en goud in. Trouens, Afganistan hou die potensiaal in om een van die rykste mineraalproduserende lande ter wêreld te word, berig die New York Times.
Maar, waarsku kenners, Afganistan het ook die gene om ‘n tipiese voorbeeld van ‘n land van ‘n hulpbronnevloek te wees – ‘n land waar die minerale ontgin word, maar die mense van die land steeds krepeer.
Hiervoor is daar net te veel redes. Korrupsie is so diep gewortel en endemies dat dit bykans ondenkbaar is dat transaksies beklink sal kan word waar die bevolking, eerder as die maghebbers, dit in klinkende munt sal beleef.
Minerale rykdomme sal byna verseker tot grondtwiste tussen strydende etniese stamhoofde lei – en in Afganistan is ‘n drosterkameel genoeg rede vir ‘n stamoorlog, laat staan nog mineralerykdomme. Boonop, grondtwiste oor wat onder die grond aangaan, gaan ook bogronds neerslag vind waar papawerlande, wat in opiumrykdomme gemeet word, in die spervuur kan beland.
Net om sake nog komplekser te maak, is heelwat van die verborge skatte in gebiede waar die Taliban sterk staan. Dit is uiters onwaarskynlik dat die Taliban handjies gevou sal toekyk hoe die bevolking onder hul neuse welvarend word, en hul oorlugslus verdamp.