Die fisiologie van die euforie se afloop

Deel op

Oor ‘n jaar van nou af sal politieke sosioloë en ander vakwetenskaplikes ontleed hoe die huidige sokkereuforie afgeloop het, en hoekom.

Om nou reeds projeksies te maak is om ‘n mens se kop ver uit te steek. Dit bied egter ‘n uitdaging en sommige mense kan eenvoudig nie van ‘n uitdaging wegskram nie.

Basies is daar potensieel drie uitkomste:

  • Die euforie behou momentum, en ‘n nasionale kohesie verdiep. Nasiebouers steek ‘n veer in die hoed.
  • Die euforie plat af, en die land is presies waar dit was, met die bevolking wat nie al te lekker met ander groepe stryk nie
  • Die euforie sit om in ‘n babelas, en die land is meer verdeeld en verskeur as tevore.

Om ‘n projeksie te doen met enige hoop op sekuurheid, moet die fisiologie van die huidige euforie verstaan word. Hierdie fisiologie moet dan vergelyk word met die euforie wat tydens die rugby-wêreldbeker in Suid-Afrika geheers het.

Daar kan min twyfel wees dat die Suid-Afrikaners aan die stuur van sake met die huidige toernooi voluit gaan om ‘n beeld van Afrikanisme uit te straal. Word na die buitelandse pers gekyk, is dit inderdaad die beeld wat uitgestraal word – die danse, die vertoon, alles is so Afrikasentries as moontlik voorgestel.

Ook nie enige Afrikabeeld nie. Daar is byvoorbeeld min of niks te sien van die Afrikabeeld van die ou Nylbeskawing, die ander Noord-Afrikaanse beskawings soos die Kartaagse, die Ethiopiese en ander nie. Hierdie is die uitbeeld van wat Europa eeue lank as Donker Afrika ervaar het.

Dié indruk word verdiep deur ‘n president met ‘n span vroue, ‘n president wat moeiteloos, afhangende van die okkasie, van annimisties na ‘n vorm van Christenskap spring, ‘n reinigingseremonie met sangomas, ‘n tradisionele beesslagting – weliswaar taamlik uit die openbare oog gehou.

Terwyl dit ‘n soort toerismeattraksie aan buitelanders bied, is dit vir diegene wat hier ‘n florerende land probeer bou eerder kommerwekkend.

Met die rugby-toernooi was die beeld en ervaring nog veel meer verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling. Dit het ‘n tipe middelgrond gesoek waarom euforie gebou kon word.

Hoekom dan die huidige euforie by diegene wat opsigtelik uitgesluit word?

Een oorstelpte nuuskommentator meen die moeilikheid lê by die politici, nie by die mense waar ‘n groot poel van goeie gesindheid nou ontgin word nie. Die land verdien ‘n slag ‘n breek, meen sy.

Sosioloë sal lank besin oor die kwessie van groepsdruk, soos binne werksplekke. Hier en daar iemand wat graag lyf wegsteek wat die kans as verskoning benut – te lekker om jolyt te hou om nou te moet werk. Dis iemand anders wie se onderneming skade ly.

Kleintjies kom met fufuzelas van die kleuterskool af, waar juffrou hulle goed “opgesaaik” het. Die buurman wil iets met daai fufuzela maak waarop die arme kind se ouers half teë sal wees.

Dit is so dat die land – die ingeligte deel van die land – nou al baie lank met slegte nuus gebombardeer word. Slaggate, sinkende munisipale dienste, ‘n president wat ‘n internasionale verleentheid is, misdaadsyfers (gekook of nie), ‘n oneindige stroom korrupsie wat skynbaar sekere mense onaantasbaar laat, regstellende aksie sonder einde, en erg polariserende optredes deur onder andere die heer Malema wat uiters onkonstruktief deur die regering aangespreek word. Nou bied die euforie ‘n soort kits-doepa, en ontsnapping van die verstikkende werklikheid.

Sosioloë sal ook eendag ontleed of, byvoorbeeld binne die wit gemeenskap – mans en vroue oor die algemeen verskillend op die euforie gereageer het. Op die oomblik lyk dit of dit – in sommige dele van die land in elk geval – nogal so kan wees. In my eie omgewing (en dis geen wetenskaplike opname nie) is die vlaggies op motors en ander kenmerke van euforie, bykans uitsluitlik op motors wat deur jong vroue bestuur word. Op die TV-beelde van die jolkolle, behoort omtrent al die wit gesiggies aan jong meisies. En as hierdie waarneming reg is, hou dit dalk verband met die feit dat wit vroue, nomineel anders as wit mans, van regstellende uitgesluit is? Het vroue oor die algemeen ‘n ander nuusbelangstelling, en word aan ander nuusbronne blootgestel?

Op die oomblik is die verstaan van die fisiologie van hierdie euforie grootliks raaiwerk.

Wat minder raaiwerk behels, is die werklikheidsomgewings waarin die rugby-wêreldbeker toernooi hier te lande, en die huidige sokkerbeker hom afspeel.

Die rugbytoernooi het gevolg kort na die aanbreek van die nuwe bedeling. Internasionale isolasie is verbreek, en die “witmansport” het as versoeningsgebaar na swart landgenote uitgegaan. Die destydse president het, Nelson Mandela, was ‘n internasionale ikoon. Hy het ‘n Springboktrui oor die kop getrek, en self die simbool van versoening geword. Infrastruktuur is ingespan wat die land nie agterna ekonomies mank sou laat nie.

Die Springbokke is as wêreldkampioene gekroon.

Die teoretiese prognose vir ‘n draende impak van die euforie was goed.

Was goed …. maar nie lank nie, toe roer die Komphelas, Neels van Rooyens, Thabo Mbeki se kop werk anders, Jimmy Manyi word gebore, Peter Mokaba word gekoester, Julius Malema kom op die toneel. Sommer gou na die rugbytoernooi bevind Pansat dat die regering self die grootste oortreder van taalregte is. Regstellende aksie skop in, emigrasie volg, broodwinners wie se kanse uitloop moet hul gesinne hier los en in lande soos Nigerië, Irak, Abu Dhabi, Angola – haas enige denkbare plek op aarde dikwels gevaarlike werk gaan doen of krepeer.

Blanke Afrikaanse joernaliste wat gelukkig genoeg is “om in te kom” by betalende mediaposte, vergeet gou hoé gelukkig hulle is, en van daar bedinges hulle almal wat nié so gelukkig was nie. Sielkundiges sal weet of dit ‘n geval is van hul eie onsekerheid verdoesel in ‘n onbedoelde meerderwaardigheid. Blote grootkop kry het gewoonlik nie die geniepsigheid ook tot gevolg nie. Dit maak diegene vir wie die “dice” verkeerd geval het, nie meer gewillig om onbeskroomd die post-Madiba-SA te omarm nie.

Die omgewing buite Suid-Afrika het ook baie verander.

Met die rugby-toernooi was die persepsie sterk dat daar nou niks slegs meer uit Suid-Afrika kon kom nie.

Maar daar het. Suid-Afrika het ‘n katastrofale vakansie in die voorsitterstoel van die VN se Veiligheidsraad gehad, en daardeur die klem op die land se voorliefde vir muishondlande geplaas. ‘n Liederlike wapenskandaal het gevolg, en is onder die mat gevee waar dit steeds prut.

Maar die kersie op die koek was die opkoms van Jacob Zuma. Genoeg om te sê die opmerking van die leier van ‘n klein partytjie in Suid-Afrika dat Zuma se sekslewe, toe hy ‘n bloedverwantskap met die sokker gesmee het, herinner aan ‘n Tiger Woods, Bill Clinton en Henry VIII is een het dwars oor die wêreld die media gehaal.

Kultureel is die Afrikaner en Afrikaanssprekende uit die toernooi geweer. In teendeel, Peter Mokaba van “Kill the Boer, Kill the farmer” word verheerlik. Druk op pleknaamsveranderings breek sommer vlak voor die aanbreek van die toernooi aan. ‘n Mens sou verwag dat ‘n hele aantal adviseurs en beeldpoetsers agter die skerms werk om sulke katastrofes te voorkom. Indien wel, en daar is soveel polariserende blapse, hoe sal dit nie na die afloop van die toernooi gaan nie?

In skrille kontras met die Afrika-kultuur wat uitgebeeld word, word Engelse taalimperialisme nou op groot skaal gepleeg. Engels is die algemene spreektaal van maar ‘n handjievol deelnemende lande, waarvan die helfte na verwagting vroeg hul tassie gaan pak.

In vandag se Rapport wys Charles Malan op die hopelose vooruitsigloosheid van die (swart) jeug. Hy voeg onbevoegde politieke leierskap in die roerpot. Dit lyk dus nie of dit net die Afrikaner, of it bevolking wat ‘n euforie-babelas gaan oorhou nie.

Opsommend:

Met die rugby-toernooi was daar ‘n veel groter dosis redelikheid teenwoordig om te verwag dat die euforie in blywende versoeningsaksie sou uitloop.Toe was die toekomstige verloop nog grootliks onbekend.

Nou is daar minder onbekendes. Na afloop van die toernooi gaan die Komphelas en Malemas steeds daar wees. Jimmy Manyi ook, hoewel nou in “verminderde kapasiteit.” Zuma gaan minstens nog ‘n paar jaar vasbyt, en dit is bykans seker dat hy met nog verrassings vorendag gaan kom.

Dit lyk of die land nog vreemder gaan word.

In die rolprent, Excaliber, sê Merlin vir ‘n vrou wat ook druïde-aspirasies koester: “Ons tyd is verby. In die plek van die baie gode kom daar nou een God.”

Met die openingswedstryd roep ‘n swart kommentator in ekstase: “This is the Africa of the African gods.”

Oor Europa waai die wind nou wes. Die tyd van die Joop den Uyls en Olaf Palmes blyk nou in vergetelheid te verdwyn, terwyl die nuwe generasie leierskap opeis dat Afrika sy korrupsie moet staak – al wil Zuma nog moraliteit herdefinieer om dinge wat hy as aanvaarbaar beskou, deel van die openbare moraliteit te maak.

Om nou rug styf te maak vir moralitetsnorme, wat opgeskerp is na die debakel van die wêreld ekonomiese krisisse, kan veel kopsorge tot gevolg hê as die toernooi se rekenings arriveer en betaal moet word.

Die euforie het ‘n beter prognose om erge babelas op te lewer.

Miskien ek verkeerd. Die tyd sal leer.

Ek is egter nie al wat nou al projeksies probeer maak nie. Soos gebruiklik met wêreldsokkerbekertoernooie verskyn daar internasionaal ook verskeie sokkerboeke. Sommiges is tegniese handleidings, ander suiwer sport-histories, maar daar is ook wat in diepte na die geskiedkundige en politieke omgewing kyk. Een is Hard grass van Simon Kuper. Hoewel Kuper se ouers in die jare sestig Suid-Afrika verlaat het, het Simon dikwels by sy grootouers kom kuier. Sy boek fokus baie op die apartheidsjare, en is baie idealisties oor die impak wat sokker op nasietrots kan hê.

‘n Boek wat waarskynlik meer objektief na sake kyk, is Edwin Schoon se “Macht om de bal.” Schoon, ‘n skrywer van verskeie boeke, is ‘n oud-joernalis en was onder meer die redakteur van Trouw. Hy wys daarop hoe diktators soos Idi Amin, Mobutu Sese Seko en Kamuzu Banda die gewildheid van sokker gebruik het om hul diktature te kon verdiep. Sport (of dan die euforie daarvan) is vir die bevolking een van die min uitlaatkleppe en kan hulle van onder meer hul armoede vergeet. Dit word versterk met, wat hy die Kuifie-agtige soort mediaberiggewing noem. (Verwysend na die Belgiese strokieskarakter wat in die oorspronklike Frans as Tintin bekend staan.)

і гри для дівчатtopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.