Herrie se kerrie: Boererate teen fufuzelas

Deel op
Jare gelede is ‘n skatryk boer oorlede. Met die lees van die testament blyk dit die nasate erf ruim aan plase, aandele, ‘n strandhuis, kontant, vee en vele meer. Die jongste word egter nie hier genoem nie.

Uiteindelik kom die jongste in die testament darem ook aan die beurt:”Freddie, my jongste. Pa het jou nie vergeet nie. Aan jou bemaak ek ‘n rol doringdraad. Dit is al wat jy nie deur jou agterent getrek sal kry nie.”

Dié storie net as aanloop om by dié deel van die anatomie te kom wat in die meeste boererate teen vuvuzelablasers aan die beurt kom. As ‘n man so na dié boereraat kyk, sou ‘n mens reken dat ‘n dokter wat adverteer dat hy nou so ‘n danige yster is met die verwydering van vuvuzelas daar, dan dink ‘n mens kon hy skatryk word.

Maar die dag na die groot opening is dit heelwat stiller hier in Herrie se omgewing. Miskien het die feit dat Herrie ‘n aar gebars het en buite gaan bulder het hoe Herrie dié boereraat gaan implementeer, iets daarmee te doen. Miskien het knapie wat die naaste was se eie pa ‘n aar gebars…

Maar Herrie lees dié blasery is rof op die lippe. As ‘n mens nou so ‘n dag lank jou eie gehoor aangetas het, word die lippe, en skynbaar nie die ore nie, eerste seer.

Of miskien het dit iets gemeen met Tolla se storie van die troep wat ‘n boksie mêkies wil koop vir ‘n dampie agter die brandstoftenks. Die winkelassistent skandeer die boksie: “R35,00” seg sy.

Die troep maak beswaar. Maar die assistent hou vol. As die boksie geskên is en die “till” sê R35, dan is dit R35.

Die troep se rooklus verdamp. “Jy weet natuurlik waar jy ‘n R35se boksie mêkies kan indruk. “Nee, dit kan ek nie doen nie. Daar is reeds ‘n R85 se komkommer.”

Mev. Herrie kry ‘n selfoonvideo. Dis ‘n ou op ‘n motorfiets, met ‘n fufuzela wat agteruit steek (by die ou, nie die motorfiets nie), met byklanke en al. Ons stuur dié “boodskap” vir oudste wat die vakansie op ‘n wildsplaas werk aan. Die aand laat weet hy dit veroorsaak pandemonium. Dis na mense op die naaste groot dorp aangestuur en daar is dit nou al wyd en syd gestuur.

Van die boererate wat omgestuur word, sal beslis werk, maar dis minder ordentlik om dit aan te stuur. Van die rate is so doeltreffend, meen Herrie, die blaser sal op slag sy blaaslus verloor. En ja, Herrie het die beproefde raad gesien van waar ‘n mens die blaser met die paintballgeweer kan skiet. Dis gewaarborg om, by wyse van spreke, die blaser ‘n ander deuntjie te laat uiter. Iets wat die fufuzela se geluid soos musiek in die ore laat klink.

Ander is heel mak, soos om die ding om die blaser se nek te knoop. Ander meen om dit by die een oor in te druk, sodat dit anderkant uitkom, sal g’n skade aanrig nie, want iemand wat so aangaan met die ding het waarskynlik net een breinsel, wat hy met so vier of vyf ander blasers deel.

Party is meer kreatief. Soos die een waar ‘n mens vir die ou by die werk wat jou so boor ‘n fufazela persent gee. Gaan blaas dan ‘n paar keer ‘n fufuzela voor daai ou se kwaai buurman se huis, en laat die wette van die natuur aan hulself oor. Omtrent soos die tingerige outjie by die skool wat geleer het hoe om die boelies op hul plek te sit. Skeur net die boelie se hemp, dan wiks sy ma hom.

Herrie het ook oorweeg om ‘n fufuzela te bekom. Dalk sal Mev. Herrie hom dan toelaat om die enigste instrument wat hy kan speel, die blokfluit, te speel wanneer Herrie dit eendag weer raakloop waar dit dié keer weggesteek is. Maar net een kyk het Herrie van dié plan laat afsien.

Blaas, blaas, Herrie se storie is uit.

onlineФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.