Vis nog vlees

Deel op

Terwyl ontleders in Nederland nog kopkrap oor waarom die Christen-demokrate – tot voor die onlangse verkiesing die grootste party, ongeveer die helfte van sy steun ingeboet het – kom ‘n soortgelyke boodskap uit België en in die besonder Vlaandere.

“Vlees noch vis” lui die naambord op die Christen-Demokratiese Appèl se stalletjie in ‘n Nederlandse spotprent se uitbeelding van hul verkiesing. By die stalletjies weerskante, een wat haring verkoop en die ander wat “kippen” verkwansel, staan die skares ywerig tou.

Hoewel ontleders diepsinnig en wyd na redes soek, is die leserskommentare van koerante minder kleitrapperig: Hulle het vir ‘n party gaan stem waar hulle geweet het hoe die wind waai.

Heelwat hiervan het aangedui dat die CDA se lamsakkigheid rondom die Israels – Islamitiese saak hulle nie aangestaan het nie. Geert Wilders, die man wat onlangs nog van ‘n tipe haatspraak aangekla is en byvoorbeeld Turkye belet is, en met moeite toegang tot Brittanje gekry het, is onomwonde pro-Israel, en onomwonde krities op die Islam. Sy party het oornag een van die groot kanonne geword.

Die gemiddelde Nederlander voel miskien nie sterk oor godsdiens nie, maar die vooruitsig dat daar binnekort meer Moslems in hul land as Protestante kan wees, is ook nie aptytlik nie. Die Protestants-Rooms-Katolieke kwessie is juis een van die hoofredes hoekom daar vandag nog ‘n internasionale grens tussen Nederland en Vlaandere loop, en verskeie provinsies middeldeur gesny is.

Dalk nie meer lank nie, as gekyk word na die pas-aangekondigde verkiesingsuitslae in België, waar die Vlaams-nasionalistiese party van Bart de Wever, die NVA, as grootste party uit die verkiesing getree het. Die Franstalige sosialisteparty het die tweede meeste stemme gekry.

Hoewel De Wever nie so goed gevaar het soos wat algemeen verwag is nie, is die 27 setels uit ‘n totaal van 150 ‘n merkwaardige aanpassing op die 4 persent steun wat Vlaamse nasionaliste nog in 1925 kon bymekaar hark. Boonop is die NVA nie die enigste party wat hom vir Vlaandere se afskeiding van België beywer nie. Ook hier het die Vlaamse Christen-Demokrate soos hul noordelike buurman steun ingeboet, en is ses van sy vorige 23 setels kwyt. Dié party beskryf die verlies as aardskuddend, wat in die konteks staan daarvan dat die vorige algemene verkiesing maar twee jaar gelede plaasgevind het, en die pas-afgelope verkiesing juis afgedwing is toe die bymekaarhou van België, en veral die netelige kwessie van Brussel, sake uitmekaar laat spat het.

Ook in België, so lyk dit, het die kiesers voet neergesit en word die regering as’t ware gedwing om te kies of hulle vis of vlees wil wees.

Dit hou ook lesse vir Suid-Afrika in. Sedert die begrip konsensus-politiek tydens die drie-kamerstelsel in Suid-Afrika posgevat het, het duidelike standpunt-inname oor kwessie bykans vreemd in die hoofstroom-partye geword. Voor ‘n verkiesing sal groot plakkate nog plattelandse dorpe se ingange versier met beloftes van eie skole. Na die verkiesing weet die betrokke party skielik niks hiervan nie, om maar een voorbeeld te noem.

Referendums is na die uitslae bekend gemaak is voorgehou as oorweldigende “ja”-stemme vir hervorming, terwyl dit vooraf verdedig as referendums om byvoorbeeld ‘n mandaat vir voortgesette onderhandeling te kry, en in soveel woorde ergerlik ontken is as sou dit handel oor hervorming of nie.

Een van die grootste blokke aan die been vir die ANC is volgens ontleders juis dat dit ‘n balanseertoertjie moet probeer uitoefen tussen nasionalistiese en sosialistiese, en selfs kommunistiese denke. Die DA laat keusevryheid aan kiesers oor kwessie soos aborsie, gay-huwelike en die doodstraf. Cope sukkel nou om sy uiteenlopende tentakels onder een kombersie teen die winterkoue toe te hou. Selfs die VF+ kom in eie geledere onder druk oor wat as liberale toegewings beskou word.

In Nederland en België het kiesers nou die voet neergesit en die “Nog vlees, nog vis”-stalletjie kry nie aftrek nie.

люстраtopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.