Wanneer gaan die Afrikaner koers kry?

Deel op

Toe ek op laerskool was, was ek ‘n Voortrekker en ek onthou nou nog die leuse: “Hou koers!” Dit lyk nie asof dié gedagte veel inslag onder Afrikaners gevind het nie, want nog nooit in die geskiedenis was daar so ‘n deurmekaar groep mense as juis die Boere in 2010 nie.

Diegene wat nie rondry met onderbroekvlaggies op hul motors en hul mede-blankes met bemagtigingstransaksies ondergrawe nie, is besig om na Australië te emigreer. Ander weer stem vir die Demokratiese Alliansie, ‘n party wat grotendeels dieselfde waardes en filosofie as die ANC nastreef en ten doel het om die Afrikaner in ‘n multikulturele Engelse nasie te assimileer. Dan is daar nog die joernaliste en kommentators van Nasionale Pers wat “nasiebou” namens die ANC nog meer op die brein het as die regerende party self en enige Afrikaner wat vir sy eie mense opstaan op die daad verguis en verdag maak.

Aan die regtervleuel van die Afrkanerpolitiek gaan dit kwalik beter. Totdat Malema meer gereeld sy radikale anti-blanke uitsprake gemaak het, was die Afrikanerfront met die HNP aan die spits so dormant dat sommige mense begin wonder het of dié organisasie nog bestaan. Met ‘n sigbare vyand op die horison, het die Afrikanerfront weer ontwaak, maar nie sonder verdeeldheid en snedighede van die Transvaalse Landbou-unie wat dit op hom geneem het om ander Afrikaanse organisasies te beledig en verdag te maak nie.

Dan is daar die Vryheidsfront Plus, die laaste oorblywende Afrikanerparty wat aan verkiesings deelneem. Oënskynlik beskik dié party oor ‘n rigsnoer in die vorm van sy grondwet wat ‘n duidelike missie bevat. Daardie missie omskryf helder dat selfbeskikking vir die Afrikaner in ‘n eie geografiese gebied of volkstaat die strewe van die Vryheidsfront Plus sou wees.

Enkele dae gelede sê ‘n prominente lid van die party, dr. Conrad Beyers, egter vir my dat die party eerder sy Afrikanersentriese leuse moet laat vaar en ‘n party “vir alle konserwatiewe Suid-Afrikaners, ook swartes, moet word”. Hy is blykbaar skaam vir die “rassistiese beeld van die party” as ‘n beweging vir blanke Afrikaners. Beyers is ‘n dosent aan die multikulturele Universiteit van Pretoria en in ‘n gesprek met ‘n Venda-student het hy ongemaklik begin voel om aan hom die Vryheidsfront Plus se beleid te verduidelik. Kennelik val “selfbeskikking vir Afrikaners in ‘n eie geografiese gebied of volkstaat” net nie mooi op die oor van ‘n Venda-student nie en daarom begin Beyers sterk aan die roeping van sy eie party te twyfel.

Tot dusver het ekself en PRAAG die VF+ as ‘n geesgenoot in die strewe na vryheid geïdentifiseer, maar ek moet sê dat ek al hoe meer ontnugter raak met die mate van ideologiese verwarring in die party. Die edele doelwit van Afrikanervryheid word net te dikwels op die altaar van politieke opportunisme en ook die persoonlike ambisies van partyleiers geoffer.

Tans “onderhandel” die bestuur van die VF+ met die ANC, let wel nie met die regering nie, maar met die party in Luthuli-huis oor allerlei Afrikanerkwessies, waaronder selfbeskikking. My gesonde verstand sê egter vir my dat die party wat Julius Malema, asook etlike geharde kommuniste huisves kwalik bereid sou wees om ‘n ordentlike stuk grondgebied aan Afrikaners af te staan. Omdat die “onderhandelings” grootliks in die geheim geskied, is daar geen duidelike mandaat, proses of sperdatum daarvoor nie en kan sodanige onderhandelings waarskynlik nog die volgende twintig jaar duur, sonder enige duidelike uitkoms.

Boonop dien dr. Pieter Mulder as adjunkminister in die ANC-kabinet, wat erg verwarrend vir Afrikaners en opposisiekiesers is en ná ‘n jaar nog geen duidelike voordeel inhou nie. Mulder praat ook baie min oor selfbeskikking en het in ‘n onlangse onderhoud oor RSG se “Praat saam” kwalik daarna verwys.

In die woorde van ‘n eerlike Vryheidsfront Plus-amptenaar, “het ons in sestien jaar nog nie ‘n sentimeter nader aan selfbeskikking gekom nie!”

So ploeter die Afrikaners aan, van een rugbywedstryd na ‘n ander, of nou selfs van een sokkerwedstryd na ‘n ander, terwyl hul gang telkens deur nog ‘n moord, verkragting of voorval van diskriminasie teen hulle onderbreek word.

Terwyl die Afrikanerbeweging in die aanloop tot die 1948-verkiesing en in die tyd van Verwoerd ‘n vaste rigting gevolg het en ‘n aantal doelwitte in die oog gehad het, het Afrikaners in die meer onlangse tyd op soveel dwaalspore beland dat hulle soos blare in die wind waai: dan dié kant toe, dan daai kant toe.

Of soos M.T. Steyn gesê het: “Om Afrikaners te lei, is soos om ‘n klomp hoenders aan te jaag!”

Elders op die Praagwebwerf word berig dat daar vandag parlementêre verkiesings in België plaasvind. Nie minder nie as 40% van die ses miljoen Vlaminge in daardie land gaan vir Vlaamse partye stem wat selfbeskikking en die afstigting van ‘n Vlaamse Republiek voorstaan.

Eens op ‘n tyd is Afrikaners deur Vlaminge bewonder vir hul moed, durf en deursettingsvermoë. Die Groot Trek, Vryheidsoorloë en die Afrikaanse taalbeweging van die twintigste eeu is gesien as navolgenswaardige voorbeelde vir Vlaminge om hulself van die Franssprekende Wale se oorheersing te bevry, iets wat hulle al in ‘n hoë mate reggekry het en wat waarskynlik binne die afsienbare toekoms met ‘n eie staat bekroon gaan word.

Tans kan ons maar net les neem by die Vlaminge oor die geesdrif en doelgerigtheid waarmee hulle selfbeskikking nastreef. Helaas verteenwoordig die Afrikaner se onlangse jakkalsdraaie ‘n skandelike stuk verraad teenoor enersyds ons voorouers wat hul bloed vir vryheid opgeoffer het en andersyds teenoor ons kinders en kleinkinders wat geen vaderland meer het nie, maar in ‘n Zimbabwe-in-wording grootword.

Ook in ons ander taalverwante stamland, Nederland, is vandeesweek ‘n demonstrasie gelewer van hoe die kiesers die heersende politieke korrektheid in ‘n hoë mate verwerp en hul Nederlandse soewereiniteit en kulturele selfbeskikking teenoor die gevaar van kolonisering deur Moslem-immigrante verdedig.

Hierteenoor bevind die Afrikaner hom vandag in ‘n toestand van vrees en bedwelming. Ek het al hoeveel keer ervaar dat selfs net intellektuele of ideologiese konfrontasie met die ANC-bewind ons mense beangs maak. Asof enige dissident of kritikus van hierdie onbekookte bestel terstond deur die Spaanse Inkwisisie in hegtenis geneem mag word en allerlei Middeleeuse foltermetodes gebruik mag word om hom weer in die kraal van nasiebou, multikulti-samesyn en gewillige assimilasie te kry.

Die doelwit wat ons moet nastreef, is ‘n seweletterwoord: Vryheid. En dit beteken ‘n plek waar ek en u deur ons eie mense in Afrikaans regeer word, waar ons belastings tot ons eie voordeel aangewend word en waar geen misdadiger of lid van ‘n moordbende kan verkrag en moor soos hy wil nie.

Vryheid is, binne ons konteks, maar selfs in die beskaafde Wes-Europa en in België of Nederland, sinoniem met selfbeskikking.

Dit kan op allerlei maniere behaal word: deur die stembus, deur gewapende opstand of deur ‘n langdurige kultuurpolitieke beweging met of sonder internasionale steun. In ons geskiedenis het ons reeds al drie metodes gebruik om vryheid van die Britse Ryk te verkry, dus is dit kwalik nuut vir ons.

Omdat ons sit met grotendeels ANC-gesinde media in dié land – en die DA is filosofies maar net ‘n ‘ANC Lite’ – is die kanse dat separatistiese Afrikanerpartye in dié land soos in Vlaandere massasteun gaan monster, maar skraal. Ook geskied die befondsing van politieke partye op so ‘n manier dat dit so te sê onmoontlik is om ‘n nuwe party te stig en te finansier terwyl die bestaande partye rojaal deur die staat en die belastingbetaler befonds word.

Dit laat slegs die orige twee moontlikhede: gewapende stryd en ‘n kultuurpolitieke beweging.

Al die risiko’s verbonde aan gewapende stryd, ook dat ‘n mens soos die Boeremaglede in die tronk mag beland en die res van jou lewe daar mag deurbring, laat ek maar aan die leser se verbeelding oor. Bygesê: ek het al voorheen iewers geskryf dat geweld in Afrika legitimiteit skep. In 1985 is die ANC se steun onder swart kiesers in dié land op 5% geskat, maar dis deur sy – om ‘n uitdrukking by die Duitsers te leen – “geweldsbereidheid” dat hy sowel legimiteit buitelands en steun binnelands verwerf het.

Geweld sal vir die Afrikaner in dié land net sin hê indien hy defensief optree, met ander woorde as ons eerste aangeval word of daar grootskaalse plaasbesettings en chaos plaasvind en ons moet dan gewapend optree om orde te herstel. In so ‘n geval bepaal ons nie die verloop van dinge nie, maar die ANC en ander radikale swart groepe wat hulself reeds uitdruklik tot die etniese suiwering van blankes en Afrikaners verbind het. In so ‘n geval geld die oeroue regsreël van noodweer of selfverdediging en sou niemand ons kon kwalik neem indien ons in so ‘n geval tot geweld oorgaan nie. Dikwels lei sulke burgeroorloë of “intrastaatlike” oorloë tot een of ander vorm van verbrokkeling en afstigting in volkstate, soos ons al in die ou Joego-Slawië, Oos-Europa en ook Eritrea gesien het.

Hopelik bly geweld en oorlog ons egter gespaar, hoewel ‘n mens, gegewe die toenemende onstabiliteit in Suider-Afrika, dit nie heeltemal buite rekening kan laat nie.

Dit bring my by die derde metode om vryheid te verkry: ‘n kultuurpolitieke beweging. Dit is eintlik waarmee ons hier by PRAAG en op die internet besig is. In die 1920s en 1930s was daar ‘n soortgelyke beweging onder Afrikaners wat die Afrikaanse taal in sy huidige vorm geskep en daarvan ‘n amptelike taal gemaak het. Kenmerkend van ‘n kultuurpolitieke beweging is die volgende:

Dit is identiteitskeppend (teenoor die huidige opposisiepartye, selfs die Vryheidsfront Plus, wat identiteitsoekend is)

Dit snoer mense saam rondom taal, kultuur en idees.

Dit trek grense tussen mense wat ook op instellings van toepassing is (só het Afrikaanse skole en universiteite in die verlede ontstaan).

Dit skep ‘n nasionale, etniese en politieke werklikheid wat nóg deur die koloniale verdrukker (die ANC) nóg deur die internasionale gemeenskap (die VN, Europese Unie en ander) geïgnoreer kan word. Sodoende kan vryheid en selfbeskikking deur internasionale bemiddeling bereik word.

In ‘n volgende rubriek sal ek moontlik uitbrei hoe dit prakties moet geskied.

паркетАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.