Die volk teen die muur

Deel op

ImageOns volk staan weer, soos dikwels in die verlede, voor ‘n muur – dié keer ‘n letterlike een. President Thabo Mbeki praat daarvan as die “mees ambisieuse erfenisprojek van die demokratiese regering”: Die gedenkmuur in die “vryheidspark” waarop, so is die plan, al die name gegraveer sal word van die mense wat “vir die mensdom en vryheid in Suid-Afrika gesterf het.” Aldus die Freedom Park-trust se amptelike webblad.

Deel op

Die gedagte aan ‘n herdenkingsmuur vol name is natuurlik nie nuut nie. Daar is genoeg monumente in die buiteland en ook in Suid-Afrika waar gevalle soldate, helde en slagoffers van bepaalde gebeurtenisse gehuldig word. Die beroemdste sodanige muur is sekerlik die Viëtnam-veteranegedenkmuur in Washington in die VSA.

Dit is deel van die besondere bewussyn van die Amerikaner en vorm die agtergrond van dosyne gung-ho-styl Amerikaanse heldeflieks. Dit is ‘n toeristelokker wat honderde duisende mense trek om die weerkaatsing van hulle eie gesigte te bekyk teen die lang lyste name van die gesneuweldes en vermistes.

Dié wat daarna kyk, is nie almal van dieselfde mening oor die toepaslikheid van die monument of, veral, van die ontwerp daarvan nie. Die Viëtnam-oorlog was die langste, mees uitmergelende en sosiaal verdelende stryd waarin die Amerikaners nog ooit betrokke was (‘n onderskeiding wat nou deur Bush se avontuur in Irak oortref mag word.) Die hele gedagte aan die verering van soldate wat daaraan deelgeneem het, was vir baie liberale Amerikaners afstootlik. Die ontwerper van die gedenkmuur, ‘n bloedjong student, Maya Lin, het dit egter beskryf as ‘n huldiging,  nie soseer van die oorlog nie, maar van die soldate wat in gehoorsaamheid aan hulle regering se oproep gaan dien en gesterf het.

ImageDie grootste strydpunt was egter die ontwerp van die muur self. Fondse is deur die Viëtnam-oorlogsveterane self ingesamel en hulle het vir voorstelle vir die ontwerp gevra. Die indiening waarvan hulleself by verre die meeste gehou het, was ‘n beeld van drie soldate deur die volksbeeldhouer, Frederick Hart. Dit was ‘n uitdrukking waarmee hulle hulleself kon vereenselwig, vol detail en simbole wat die oudgediende kon herken en waardeer. Drie soldate – twee wit en een swart – in bosuniforms verskyn as’t ware asof uit die oerwoud. Dit wil voorkom asof hulle nou net van patrollie af kom. Daar is ‘n gevoel van waaksaamheid oorgetrek met oorlogtamheid in hulle houdings. Die een dra ‘n M60 ligte masjiengeweer soos ‘n balk oor sy skouer en een van die ander het ‘n  M16 aanvalsgeweer by hom. Hoeveel die beeldgroep ook al aangeklink het by die veterane, was die deurslaggewende besluit nie hulle s’n nie. Hulle het in ‘n spasma van politieke korrektheid ‘n paneel van agt kunstenaars en argitekte aangestel om die wenvoorstel te keur. ‘n Beeldgroep van iets so herkenbaar en verteenwoordigend soos drie soldate sou nooit die toets van die kunsgemeenskap in die hooggety van abstrakte kuns en Bauhaus-stylargitektuur oorleef nie. Hulle keuse het geval op die indiening van Maya Lin. Dit was ‘n… muur. Wel, twee mure eintlik, wat haaks met mekaar staan, amper soos die vrymesselaars se winkelhaak. Dit is van gepoleerde graniet uit Bangalore, Indië, gemaak.

Die muur was net té glad, té kaal en té kil vir baie veterane. Dit was meer “soos ‘n grafsteen as ‘n eerbewys aan gevalle kamerade” het een oudgediende dit uitgedruk. Hulle het die snedige kunskritici se beskuldigings van sentimentaliteit afgemaak en op Hart se Drie Soldate aangedring wat uiteindelik as kompromis ook op die perseel staangemaak is.

Maar as die ontwerp en selfs die politieke korrektheid van die monument gedebatteer is, was daar nooit enige teenstrydigheid oor wie se name daarop moes verskyn nie. Vir sy naam om daarop te verskyn moes die persoon opgeneem gewees het in die Amerikaanse weermag, verskeep gewees het na Viëtnam waar hy in aksie, ‘n ongeluk of van siekte wat hy daar opgedoen het, gesterf het of hy moes vermis geraak het in aksie. Daar is ‘n presiese aantal name op die muur: 58,249, waarvan agt dié van vroue is.

Dit is juis die identifisering van dié gestorwenes wat verering waardig is, wat die grootste strydpunt in die oprigting van die Suid-Afrikaanse gedenkmuur is. Voordat die beitel gelig en die hamer oorgehaal kan word, moet daar besluit word wat die doel van die muur en die vereistes vir verskyning daarop is.

Volgens die Freedom Park-trust se webblad is die muur ter herdenking van “dié wat vir menslikheid en vryheid in Suid-Afrika gesterf het.” By eerste aanskoue kom dit as ‘n rein gedagte voor. Wie kan protesteer as die slagoffers van brutaliteit en terrorisme formeel onthou word? Dit is gepas, is dit nie, om die onskuldige, weerlose mense te onthou wat, sê nou maar deur die Kerkstraat-bom, Robert McBride se Magoo’s Bar-bom en Mandela se Stasiebom, vermoor is.

Die name op die muur dien as’t ware as ‘n kwitansie vir die prys wat betaal is vir die “vryheid” van die Nuwe Suid-Afrika. Dit sal net ‘n baie lang muur moet wees. Elke mens wat nou nog met soveel uitgelatenheid in Suid-Afrika vermoor word, is deel van daardie onkoste. Dié misdaadvlaag word, na alles, stilswyend deur die regering goedgekeur en deur wetgewing ondersteun. Dit is deel van die voortgaande revolusie van die ANK. Mao het gepraat van “permanente rewolusie”. Die mees prominente hedendaagse praktisyn daarvan is Robert Mugabe maar dit net omdat Suid-Afrika nog deur ‘n paar kontorsies moet gaan voordat die rassistiese regime van Thabo Mbeki – en sy opvolger – geposisioneer is om ‘n eiesoortige Suid-Afrikaanse bydrae te maak tot die katalogus van Afro-marxistiese landsverpletteringe. ‘n Baie lang muur gaan inderdaad geverg word. Dit sal nie volledig wees sonder die name van, byvoorbeeld, Pieter Pieterse en David Rattray nie.

Die Amerikaanse muur is 75 meter lank en 3 meter hoog. As die Freedom Park-argitekte dieselfde lettertipe sal gebruik en hulle muur ook sal konstrueer om drie meter hoog te wees, sal dié konstruksie amper ‘n halwe kilometer lank moet wees om die name van die sowat 360 000 slagoffers te bevat wat met hulle lewens betaal het vir die “vryheid” van die ANK. En wat is bekom deur die betaling van dié helse prys? Vryheid, ja, vryheid vir die ANK om met matelose arrogansie en volslae onbeholpenheid die land die grond in te bestuur; om die staatskas te roof in ‘n program wat gaan onder die eufemistiese naam “Swart Ekonomiese Bemagtiging.” Daar is met lewens betaal vir die BMW’s van die nuwe sosiale verskynsel – die jong, hier’s-ek-nou swartetjie wat ‘n onbehoorlike salaris ontvang vir ‘n werk wat hy nie kan doen nie. As ‘n outomotiewe wonderwerk sou plaasvind en hy 360 000 kilometers op die Bee-Em se klok sou sit sonder om dit om ‘n paal te buig voordat hy dit inruil op ‘n groter een, is daar vir elke kilometer met een lewe betaal.

Maar hierdie kategorie – onskuldige, burgerlike slagoffers – is te eng om eksklusief gevier te word deur die ANK. In die gebruiklike spasma van sosialistiese ywer moet hulle gesneuwelde “helde” gehuldig word; deelnemers aan die “struggle”, hoofsaaklik lede van die Marxistiese ANK se gewapende vleuel, MK, en die PAC se eweknie, APLA. Dis moeilik om te sê hoeveel ruimte op die muur vir hulle name gelaat moet word. Wie van hierdie ontslapenes kwalifiseer vir opname op die gedenkteken? Kwalifiseer die honderde kamerade wat deur die ANK in hulle opleidingskampe doodgemartel is? Wat van dié ellendelinge wat so onbeholpe in die stryd was dat hulle hulleself opgeblaas het of wat in opleidingsongelukke omgekom het? As die definisie van ‘n ANK-held net dié insluit wat in ‘n aanval op regeringsmagte gesterf het, sal ‘n piepklein muur voldoende wees om hulle name in vetdrukhoofletters te bevat. Hulle kan die muur ‘n bietjie uitpof deur die 19 000 name by te voeg van dié wat die lewe in Kwa-Zoeloe gelaat het in die barbaarse gewapende stryd tussen die ANK en die IVP van 1990 tot 1994. En dan is daar die Kubane wat in Angola gehelp het om die bloeddorstige kommunistiese MPLA aan bewind te hou en wat in hulle duisende geswig het voor daardie doeltreffende krygsmasjien, die toendertydse Suid-Afrikaanse Weermag.

Die ANK kan maar self besluit wie helde in hulle oë is. Die strydpunt wat nou ontstaan, is of gesneuwelde lede van die apartheidsregering se weermag daarop aangebring moet word. Dit is verbasend dat daar hoegenaamd nog ‘n verskil van mening hieroor kan wees. Daar is geen ooreenkoms tussen Umkhonto we Sizwe-terroriste en die soldate van die ou S.A.W. nie.

Die S.A.W. was ‘n uiters professionele, gedissiplineerde en – veral – doeltreffende organisasie. Deesdae is daar ‘n liberalistiese veldtog deur oningeligtes – wat nooit daar was nie – om die ou weermag te besmeer met beskuldigings van wreedheid, onmenslikheid en onderdrukking. Inderwaarheid was die etos van die S.A.W. die welbekende Calvinistiese medemenslikheid van die Afrikaner. Die weermag se kontak met die plaaslike bevolking was altyd gerig deur die stelreël van “minimum geweld, maksimum vriendelikheid,” ‘n slagspreuk en ‘n benadering wat by elke operasionele lid ingedril is. Waar die weermag ook vir ‘n bepaalde tyd in ‘n nuwe gebied teenwoordig was, het hulle gratis mediese hulp, kos, behuising en selfs skole verskaf. Terwyl dorpe soos Ongiva en Xangongo in die Suide van Angola onder die weermag se beheer was, het dié inwoners daarvan ‘n lewenspeil ervaar wat nooit voorheen of daarna vir hulle beskore was nie. Toe was hulle veilig teen verdelging deur hulle eie volksgenote in die MPLA se weermag, FAPLA. (En anders as die skinderskrywers van die liberalistiese pers gebruik ek nie hoorsê stof nie. Ek was daar. Ek was een van die lede wat ‘n gewonde swart meisietjie in die veld net buite Cuvelai gevind het. Sy is in die kop getref deur die skrapnel van ‘n mortier wat roekeloos in die plaaslike bevolking se rigting gewerp is deur die onttrekkende FAPLA soldate. ‘n Deel van haar skedel was weg en die breinvlies was sigbaar. Drie weermagdokters en ‘n span mediese korps-lede het vir dae lank gespartel om haar lewe te red en toe die natuur ingetree het, het ek groot, taai manne gesien met trane in hulle oë, algeheel verpletter.)

Ek het genoeg daar gesien om te weet dat oorlog ‘n afgryslike verskynsel is en dat wanneer ‘n groot, doelgerigte leër aan die beweeg is, onskuldige mense soms in die slag bly. Maar ek weet hoe ‘n hoë premie die S.A.W. gestel het op die lewens van die plaaslike bevolking wat die slegte geluk gehad het om omgespoel te word deur die wispelturige branders van ‘n oorlog waarvoor hulle nie gevra het nie. Die waarheid is dat vroue, kinders en ander onskuldiges nooit die teiken van die Suid-Afrikaanse Weermag was nie.

Dít is, na alles, die groot verskil in definisie tussen ‘n legitieme weermag en ‘n terroriste-organisasie. MK en APLA is gestig met die oogmerk om weerlose mense om die lewe te bring om sodoende ‘n klimaat van vrees te skep waarin hulle eise oorweeg sou word. Hierdie organisasies was so lamlendig en amper komieklik onbeholpe op ‘n Keystone Kops-manier. En hulle was, natuurlik, te lafhartig om hulle wapens op die veiligheidsmagte of op die leiers van die apartheidsregering te rig. Daarom het Nelson Mandela Umkhonto we Sizwe gestig om jag te maak op mense wat hulleself nie kan verdedig nie. Dit is vir enige oud-lid ‘n ondenkbare, vernederende gruwel om te dink dat hulle gevalle kamerade se name in die teenwoordigheid van sulke moordenaars aangebring moet word.

Maar al wás hierdie terroriste so dapper, edel en doeltreffend soos wat die ANK se mites voorhou, is hulle en die S.A.W. in verskillende versamelings sonder gemene delers. Die gesneuweldes van die S.A.W. het nie geveg vir die “vryheid” waarvan die Freedom Park-trust praat nie. Hulle het geveg om die oorname van die regering deur die swart meerderheid van die land te verhoed. Ek weet want ek het lank en diep gesels met Roetsie, Schrönen, Dawid Lotter, Piet Liebenberg, Smittie en Peter Dicks, almal boesemvriende van my en almal in aksie in die operasionele gebied dood. Hulle het geglo dat ‘n swart meerderheidsregering onafwendbaar sou lei tot die algehele afwenteling van die land in ‘n tradisionele Afrika-moeras van armoede, ellende, misdaad en ‘n nuwe vlak van intense rassehaat. En as ek na die ANK-regering en hulle rekord van die afgelope dertien jaar kyk, sien ek niks wat my laat dink dat my kamerade verkeerd was nie.

As ons sou instem, as ons inderdaad sonder heftige proses sou aanvaar, dat ons gevalle helde se name op die ANK-Freedom Park se muur aangebring word, verraai ons hulle herinnering. Ons dien as ondersteuners van die ANK se permanente revolusie en maak ons van daardie muur ‘n rubberstempel van die ANK se onderduimse en vernietigende metodes. As lewe onder die ANK die swart gemeenskap se idee van vryheid is, is dit net nog ‘n glinsterende voorbeeld van die onaanpasbaarheid van die twee kulture. Dit onderstreep die noodsaak vir die Afrikaner om te onttrek na sy regmatige deel van die grondgebied van hierdie land waar hy homself kan regeer en sy eie weermag, ‘n eggo van die trotse Suid-Afrikaanse Weermag van ouds, kan opbou om homself te beskerm.

Die volk staan inderwaarheid voor ‘n metaforiese muur en ons is met ons rûe teen hom. Ons het ‘n keuse: Ons kan skaapagtig staan terwyl ons hande agter ons vasgebind word en ‘n blinddoek oor ons oë getrek word net voordat die vuurpeloton aanlê. (Hoewel ons weet watter vrot skuts die nakomelinge van MK en APLA is, kan selfs hulle beswaarlik op hierdie afstand mis.) Of ons kan omdraai, die muur agter ons afbreek en uitstap na vryheid en die oorlewing van die Afrikanervolk. En ons begin deur te sê ons weier dat die name van dié wat vir orde en veiligheid geveg het, besoedel word deur te verskyn in die omgewing van lafaards en moordenaars op die Freedom Trust se muur.

децкие игрыtopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.