Die donkie is ‘n wonnerlike ding

Deel op

Nee, dis nie die *&^%sem hier naby se gefufuzela-blaas al die heel oggend wat my aan ‘n donkie laat dink nie. ‘n Donkie se hartverskeurende gebalk is musiek in die ore vergeleke met ‘n “beruchte blaastoeter” soos die Nederlandse pers die *&^ noem.

Nee, oudste bel van die wildsplaas af waar hy die vakansie werk. Praat eers met sy ma, en toe met die uwe. Nie hy of sy pa is telefoonmense nie, en daarom sê hy “ma sal vir pa vertel van die donkie wat sy alie gesien het.” Hy het ‘n ander woord vir “alie” gebruik.

My gedagtes gaan terug na die dae toe die roete tussen my huis en die kantoor langs Bloemfontein se dieretuin verbygeloop het. Die oggend as jy inry, sien jy die donkies. Die middag op pad huis toe, nie. Die leeus, tiers en ander karnivore het maaltyd genuttig.

Maar op die wildplaas wat neef Ferdie bestuur, is daar na beste wete nie roofdiere nie. Dus vermoed ek die donkie het nie aspris sy agterent gesien nie.

Maar dis toe nie ‘n donkie soos ‘n esel nie, maar ‘n donkie soos warm water en vuurmaak-donkie.

Oudste bly in ‘n buitekamer en sy water word met ‘n donkie warm gemaak. Hy kan self goed stook, maar dit is een van die werkers se werk, en dié is half teë op die werk. Toe hy nou te veel aangepraat word oor die effense vuurtjies wat hy maak, vererg hy hom en maak ‘n te groot vuur.

So R200 skade aan ‘n klep later word beslis dat oudste van nou af self die donkie sal stook vir warm water.

Maar donkies vir warm water bring nostalgie. Jarre der jarre gelede is 110 van ons troepe op Rooikop, ‘n ent die woestyn in van Walvisbaai, gestasioneer. Om die waarheid te sê, op die grens tussen die Walvisbaai-enklawe en Suidwes, so ver as wat dit moontlik van die see en daai berugte geroes af kan wees.

Want ons was kanonniers en kanonne is van metaal en daar roes metaal iets vreesliks.

Maar dié basis was net ingerig vir ‘n paar wagte wat snags daar oornag het. Skielik is daar nou 110, en die druk op die storte en die toilette is toe groot.

Die storte is ten dele deur sonverhitting en ten dele deur ‘n donkie van warm water voorsien. Nie genoeg vir 110 troepe nie, maar dit het darem ‘n ent weggekom.

Die donkiestokery was die stoorman se werk. Sammajoor het hom “Shawmannetjie” genoem, maar by geleentheid maak Shawmannetjie droog en gooi iets in wat die kole gou sal laat vat. Amper was daar nie meer ‘n Shawmannetjie nie.

Van gesighare, soos wenkbroue, was daar lank nie sprake nie. Op 17-jarige ouderdom spog hy met ‘n middelpaadjie so breed soos PW, toe minister van verdediging. Die Sammajoor noem hom van toe f, tot sy haredos weer teruggegroei het, Agbare Minister.

Die toilette was bietjie van ‘n ander verhaal. Dit was ‘n sirkelstelsel waar organismes die toevoer teen ‘n spesifieke tempo verdun het.

Toe is die toevoer swaarder as waarvoor dit ontwerp is, veral wanneer die kokke wat hulself sjefs genoem het meer as gewoonlik met die kos drooggemaak het.

Dan verstop die spulletjie, maar die pomp hou aan met pomp.

Behoede die arme drommel wat op die troon was as daai spul ontplof.

Dus word ‘n plaastoilet gebou. So haastig was die manne om na veiliger trone te verskuif, dat dit in die ope lug ingewy is, en ons nie soos op die Kaapse Vlakte die spul gaan verinnerweer nie. Die sinke om het eers later gekom. Skynbaar is dit ‘n kuns om sinke van die republiek af verby Walvisbaai te kry sonder dat dit tot niet roes.

Nietemin, toe word die ou stelsel te min gebruik. Met dieselfde gevolge want dan raak dit te verdun…

Ag, die leser kry seker die punt.

“Die k*khuise huil vir k*k” verduidelik die sammajoor.” Die “huil” word so lank uitgerek om die punt behoorlik te maak. Want kort-kort moet iemand gaan mure en dak was.

My laaste ervaring met daai soort donkie was toe ma saam met stiefpa, Barend Toerien, die plasie Eldorado buite Onrusrivier koop. Barend was wyle pa Jan se neef, en so  gebeur dit dat ek ‘n van met my gewese stiefpa deel, maar nie sy skryfkuns nie (volgens die *&^% uitgewers).

Dáái donkie was nou ‘n wonnerlike ding. Buite groei bloekombome wat bolle maak. En dis nie bollie nie, hoor, dis bloekombolle en hier en daar dennebole, en daai donkie sing lustig, en ‘n man bad warm.

Daai bloekombolle werk ook lekker in die kaggel as die winterreën neersif, en ‘n Vrystater soos ‘n wafferse Overberger met ‘n glasie rooi wyn kopstukke met familie en vriende gesels.

Maar toe verander regulasies en kry ‘n mens vooruitgang van mense wat reken ‘n donkie is nie so ‘n wonnerlike ding nie.

En dis daai mense wat ek so graag op Langoor by oupa Nic hulle wil sit. Langoor is nie gister uitgebroei nie. Klim iemand op sy rug snol hy reguit na die naaste grensdraad, en dan maak hy so al met die doringdraad af biltong van jou been.

Dis deug Langoor nou net om af en toe sy hartverskeurende balke te laat hoor, en gras wat hy hier vreet, elders as bemesting neer te laat.

play arabian nightsлобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.