Sokker-idille aan skerwe

Deel op

Die idilliese “suksesvolle-sokkerwêreldbeker-in-Afrika”-beeld wat die ANC-bewind, FIFA en die hoofstroommedia oor maande geskep het, is geprik met die nuus dat Portugese joernaliste by Hekpoort, wes van Johannesburg, gister in die vroeë oggendure onder ‘n gewapende roof deurgeloop het.

Boonop wil dit voorkom asof die rowers oor binne-inligting van hetsy die personeel van die Nutbush Boma-natuuroord, hetsy die polisie beskik het, want die rowers het presies geweet in watter kamer die meeste kamera- en rekenaartoerusting teenwoordig was. ‘n Beangste Portugese kameraman, mnr. Antonio Simoes, het – nadat hy vieruur die oggend deur geluide in sy kamer wakker gemaak is – ‘n pistool teen die kop ontvang met die woorde: “Kruip onder die komberse weg tensy jy wil hê ons moet jou doodskiet”. Die arme man het eers anderhalfuur later dit gewaag om sy kop onder die komberse uit te steek, lank ná sy aanvallers reeds met hul honderdduisende rande se TV-kameras, lense en skootrekenaars weggekom het.

“Dit lyk so rustig hier,” het een van die taamlik bedeesde Portugese gister aan my gesê, ná sy voorsmaak van inheemse, trots-Suid-Afrikaanse geweldsmisdaad en anargie.

En hy is reg: as ‘n mens teen laatmiddag, met die son wat agter die Magaliesberge neerdaal oor die Pierneefagtige landskap kyk, dan lyk dit “rustig”. Dis net die tweebeenfauna wat nie so rustig is nie en die arme besoekers vir die gekke aansien wat hulle is.

Terwyl die bestuur van Nutbush Boma trots is op hul “streng sekuriteit”, het ek en die Praag-kameraman geredelik tot in die eetsaal waar ‘n tiental Portugese mediamense werksaam was, gestap sonder dat ons een keer voorgekeer of om identiteit gevra is. Nutbush Boma is nie Zurich-lughawe waar jy omtrent moet uittrek en alles tot by jou naels ge-X-straal word voordat jy deurgelaat word nie. Ek het ‘n rugsakkie gedra wat ‘n hele paar handgranate, ‘n opvoubare masjiengeweer of enkele pistole met honderde rondtes kon bevat het. Nogtans het die drie gesette ousies in polisieuniforms by die deur vriendelik vir my geglimlag toe ons daar verbygeslenter het.

Of moontlik was die uitgevrete handhawers van wet en orde maar net skielik vriendelik nadat hulle blykbaar vroeër die dag ‘n joernalis van The Times, Charl du Plessis, ‘n uur lank vir ondervraging aangehou en die name van polisie-offisiere wat hy in sy notaboek neergeskryf het, doodgekrap is.

Volgens mnr. Reno Mauricio van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se kantoor in Lissabon, wat ‘n wakende ogie oor die Portugese mediaspan hou, het die polisie “binne tien of vyftien minute opgedaag” nadat Simoes van die skok herstel en alarm gemaak het, ‘n uiters snelle reaksie, gegewe die gewone gebrek aan dringendheid waarmee die SAPD gewoonlik noodoproepe van die publiek hanteer.

“Was dit ‘n swart span, ‘n wit span of ‘n gemengde span?” het ek aan mnr. Mauricio gevra. “Nee, nee, ‘n gemengde span, swart en wit,” het hy geantwoord.

Anders as by gewone burgers wat sulke insidente aanmeld, het die polisie selfs ‘n forensiese span uitgestuur wat vingerafdrukke kom neem het. ‘n Berader is tot vir mnr. Simoes beskikbaar gestel om hom oor sy eeste kennismaking met die plaaslike kultuur en goeie maniere te help.

Nog twee kamers by die natuuroord is deur die rowers “gediens” met selfone en beursies wat vermis word, maar die slapende joernaliste het nie wakker geword nie. Volgens die verteenwoordiger van Reuters Portugal, mnr. Shrikesh Laxmidas, moes daar ‘n hele aantal rowers gewees het, want “dit was ‘n groot hoeveelheid toerusting wat hulle moes wegdra” en waarskynlik het iemand nog by hul voertuig ook gewag.

“Hoe word Suid-Afrika in Portugal gesien, met betrekking tot geweldsmisdaad?” vra ek aan die rysige mnr. Mauricio.

“Mense in Portugal dink Suid-Afrika is ‘n gevaarlike land. ‘n Gevaarlike land,” antwoord hy. Skielik bedink hy homself egter, want dit klink seker nie polities korrek te midde van die euforie oor “ons suksesvolle toernooi in Afrika” nie en voeg by: “Maar dit kan in enige land gebeur… dis misdaad, dit gebeur orals.”

“Maar in Suid-Afrika het ons vyftig moorde per dag, dis veel hoër as in enige land ter wêreld,” sê ek.

“Ja,” gee hy toe. “Dis baie hoog. Ek weet nie waarom dit so is nie.”

Volgens hom gaan die publisiteit in Portugal oor die rooftog wel ‘n negatiewe invloed op toekomstige toerisme na Suid-Afrika hê.

“Komende ná die moord op Terre’Blanche, is dit nie ‘n goeie ding nie,” sê hy.

Ons vra hom wat hy dink van Malema se vryheidsliedjies en “Skiet die Boere”.

“Dis baie sleg, want julle het nêrens om heen terug te keer nie. Die Nederlanders sal julle nie vat nie, die Britte ook nie. Portugal is ‘n land wat by Afrika betrokke is. Ons was die eerste Europeërs op die vasteland en die laastes om te vertrek…” antwoord hy.

“Nee, ons is die laastes om te vertrek,” korrigeer ek hom. “Daar is reeds ‘n miljoen van ons mense landuit om weg te kom van ‘Skiet die Boer’ en insidente soos dié.”

Hy stem saam met my: ons Afrikaners is die laastes om vanuit Afrika te vertrek, al het ons geen land om heen terug te keer nie.

My kameraman vra vir mnr. Mauricio: “Weet u dat Nelson Mandela ook liedjies in 1992 gesing het waarin hy ‘n oproep doen dat alle blankes doodgemaak moet word? Die BBC het dit opgeneem en dis op YouTube te siene. Gaan net op YouTube en tik in die soekblokkie: ‘Mandela killing whites’.”

Hy dink ‘n paar oomblikke na en sê dan huiwerig: “Ek sou sê: Ons maak almal foute.” Maar hy lyk ongemaklik. Dis darem Mandela waarvan hy nou praat.

In die eetkamer van die Nutbush Boma gesels ons verder met die Reuters-man, mnr. Shrikesh Laxmidas.

“Die rowers het reguit na die man met die meeste toerusting gegaan,” sê hy. “Ek dink dit was beplan; dis geen opportunistiese rooftog nie.”

Daar was twee mans in Simoes se kamer toe hy wakkerskrik, dus moes daar ten minste drie of vier rowers gewees het, vanweë die hoeveelheid toerusting wat hulle moes wegdra.

Hoe voel hy wat Laxmidas is ná so ‘n voorval? “Ek was geskok en verras. Ek het heel dag senuagtig gevoel. Ons wag nou om te hoor wat gaan gebeur. Dis nie seker of ons by hierdie plek gaan bly nie.”

Toe vertel hy egter ‘n paar interessante dinge. Die vorige “hooflyfwag van Nelson Mandela” se veiligheidsmaatskappy is blykbaar deur Reuters gekontrakteer om al hul buitelandse joernaliste te beskerm.

Van die joernaliste is voorsien van GPS- en satellietnavigasietoestelle wat geprogrammeer is om “gevaarlike buurte te vermy”. Daar is ook Blackberries met noodknoppies wat gedruk kan word, waarna hulp glo opdaag.

Ná die voorval by Nutbush Boma gaan Reuters blykbaar hul veiligheidsmaatreëls “opskerp”, ook elders in die land.

поршневые электрическиетопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.