“Ons is geskok en met afgryse vervul met die nuus dat ‘n Portugese mediaspan in hul vier ster gastehuis naby Fourways beroof is,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA).
“Nog voor die Fifa-toernooi se amptelike opening, word toeriste aan die land verwelkom asof dit die land van geleenthede – vir die misdadigers – is. Die Sentrale Dwelmagenskap verwag 40 000 prostitute net in die Johannesburg-omgewing alleen, meestal uit Zimbabwe. (Agtergrondberig hieronder). Dit noop ‘n mens om te sê die land wat eens die land van melk en heuning was, is nou die land van misdaad en prostitusie.
“Drie joernaliste van Portugal wat in ‘n gastehuis by Magalliesburg ‘tuis’ was is van hul kameras, skootrekenaars, paspoorte ens beroof. Die een moes in die loop van ‘n vuurwapen vaskyk, terwyl die ander twee tydens die voorval geslaap het.
“Die CDP maak van die geleentheid gebruik om namens die Suid-Afrikaners wat by hul volle positiewe is, die slagoffers om verskoning te vra en besoekers vooraf te waarsku wat moontlik op hulle wag.
“Moontlik sal die polisie nou ‘n slag daad by die woord voeg en die misdadigers aankeer en die gesteelde goedere terugvind.
“As die negatiewe publisiteit waaronder Suid-Afrika nou oorsee deurloop as maatstaf geneem word, en wat meestal verband hou met prostitute, Zuma se sekslewe en Malema se manewales, is hierdie nuus dit waarsonder die land goed kan klaarkom.
“Ons vertrou dat die regering nou sal besef dat misdaad, en nie die Afrikaner of Christene of enige groep wat vir diskriminerende praktyke uitgesonder word nie, die land se werklike vyande is.