Groot drome

Deel op
Op ‘n spierwit gerypte wintersoggend van 1964 staan die paartjie met hul bondeltjie vreugde voor die opstal se agterdeur.

Die aga blaas sy warm asem na buite toe die boer die agterdeur oopmaak. Aan ou Jim buite se gesigsuitdrukking kan oom Anneries sien die groot oomblik het aangebreek.

Jare lank gooi Jim soos ‘n goeie bul net verskallers. Maar Jim was vasbeslote – hy sou aanhou probeer tot hy ‘n bulletjie by sy stroois het.

En soos die jare aangestap het, het sy drome vir dié droomseun al groter geword. Maar die dogters het net meer en meer geword, en niemand weet of Jim naderhand nog gebodder het om onder hulle te tel nie.

Vandag is daai droomseun egter in die bondeltjie komberse toegedraai en Jim hou hom styf vas.

Oom Anneries weet Jim het gekom om sy ego gestreel te kry. Dus speel oom Anneries saam.

“Is dit ‘n seun, ou Jim?” vra hy onnodig.

Oom Anneries sien die trots nog verder blom. Ou Sahrah wat skuins agter Jim staan, se gesig is egter eerder die ene verligting.

“Es ramakatse,” kry Jim dit skaars uit.

“Nou wat is sy naam?”

“Sy naam ês Dogter.”

Oom Anneries voel hoe hy leegloop van alle logika. So ‘n gespook vir ‘n seun na ‘n hele span dogters, en dan noem hy hom Dogter?

Oom Anneries kry sy asem terug: “Nou hoekom Dogter?” vra hy verbaas.

“Want hy gaan word die dogter.”

Oom Anneries voel hoe die verligting oor hom terugspoel. Sekondes gelede het hy vas geglo Jim se varkies het losgekom, of hy wat oom Anneries is, het begin hallusineer.

“Nee, Jim, nie ‘dogter’ nie, dis dokter.”

“Ja, hy gaan die dogter word.”

“Maar dit is vreeslik duur om vir dokter te leer.”

Ou Jim lag. “Aikôna, met al die meisiekinders se lobôla wat ekke gaan kry, daais peanuts.”

Oom Anneries sug. Lobôla bestaan omtrent net in teorie. In die praktyk beland die spulletjie sommer half kleintyd in die ander tyd, en van werklike huwelike is daar selde sprake. Van lobôla nog minder. Evangelis Pappegaai de Bees probeer sy bes, maar maak nie veel hond-haaraf nie.

Dit neem oom Anneries en tant Marié ‘n paar maande om die fonetiek te laat reg inslaan. Toe is Dokter se naam Dokter, en hy gaan ‘n dokter word.

Oom Anneries het nie baie moed gehad dat hy die fonetiek sou regkry nie.Sy plaas se naam is Merino, maar van hy kan onthou noem die werkers, en die bure se werkers, en die skaapdiewe in die lokasie die plaas Merina. Hy het jare lank die stuipe gekry, maar uiteindelik moes hy maar vrede maak.

Maar vir Dogter wat ‘n dogter gaan word – daarvoor het hy darem regtig nie kans gesien nie.

Die kommer oor studiekostes het geblyk vals te wees. Dit was sommer kleintyd duidelik vir almal behalwe Jim dat sy trots skaars die vermoë vir die laerskool sou hê.

So was dit ook. Op 16 het die prinsipaal van die plaasskool vir Dokter deurgesit op voorwaarde hy gaan nie sy pa se geld by die hoërskool op die dorp verder mors nie.

Dokter het ‘n plaaswerker geword, maar g’n boer was welgesteld genoeg om Dokter te bekostig nie. Is hy op ‘n trekker is ‘n mens byna verseker ‘n nuwe trekker moet gekoop word en dit waarin hy vasgery het moet heelgemaak word. En omdat hy Dokter is, is hy ook maar half teë op iets anders wees as trekkerdrywer.

“Dokter het sy tyd op skool gemors, maar iewers het sy verbeelding op loop gesit om rampe uit te dink,” kla oom Anneries een oggend oor sy krummelpap. Die vorige dag het Dokter die groentetuin probeer natlei, en so drooggemaak, of eerder, natgemaak, die hele leidam was leeg en die water onder in die vallei af, terwyl nie eens die helfte van die beddings water gekry het nie.

Oom Anneries het lankal gesê hy skiet vir Dokter as hy hom naby die vee en die groen lusern kry. Gelukkig het Dokter hom geglo.

Maar met al sy dinge, het Dokter darem ‘n hart van goud.

Toe kom daar ‘n soort uitkomste. Miems, oom Anneries en tant Marié se oudste dogter, en dié se prokureurman, Stefan, woon in ‘n stad ‘n paar honderd kilometer weg. Hul erf is groot en kan doen met ‘n inwonende tuinman. “Kan pa dalk vir Dokter afstaan?”

So is Dokter stad toe. Miems is huisvrou en kan redelik ‘n ogie oor Dokter en haar spogtuin hou. Soms is haar toesig egter net ‘n paar sekondes te lank nie waar dit moet wees nie, en rig Dokter die een of ander katastrofe aan. Hoewel Dokter belet is om naby die swembad te kom, het hy tog gesien hoe chloor van tyd tot tyd ingegooi word. Na Dokter so die vyfde keer ‘n klomp kunsmis in die swembad gegooi het, het Miems se man met die polisie gekonkel, en was Dokter ‘n nag lank in “eensame opsluiting” by die polisiestasie. Dit het darem gehelp.

Maar Dokter was talentvol genoeg om genoeg ander rampe te bedink, of ten minste ten uitvoer te bring.

Boonop, het dit geblyk, waar dit in die boonste verdieping tekort geskied het, is laer af aan die anatomie deeglik opgemaak. Jim het mildelik gesaai. Miems se woedende man moes gereeld huishulpe met kopdoeke en bondeltjies in die arms te woord staan.

“Julle weet die man is nie toerekeningsvatbaar nie, maar julle gaan maak kleintjies met hom en dan wil julle hom verantwoordelik hou!”

Toe kom daar ook uitkomste. Dokter se blindederm maak moeilikheid, en toe hy ingaan teater toe praat Miems mooi met die dokter.

“Toe hulle jou blindederm uithaal, kom daar ‘n muskiet en byt jou daar,” verduidelik Stefan die bykomende wond aan Dokter.

Omdat Miems so baie in die tuin doenig is, het sy haar telefoon aan ‘n lang verlengkabel op die stoep uitgedra. Maar soms gebeur dit dan dat sy in die kombuis of agter die huis is as die oproepe inkom.

Dokter, heel oorlams genoeg, antwoord dan: “Dokter hier.” Dan hoor hy net ‘n geprewel van “verkeerde nommer” en die een aan die ander kant plak die telefoon neer.

Maar dié ding het tog sy kwota verwarring opgelewer. Nie lank nie of Stefan word gereeld as “doktor” aangespreek, en hoewel hy mense reghelp so ver hy gaan, kom daar maar gedurigdeur nuwes by wat hom “doktor” noem. Uiteindelik word die herkoms van dié vergissing opgespoor, en Miems hou die telefoon van toe af liefs binnenshuis.

Dokter is later terug plaas toe. In sy kispak na ‘n vragmotor hom vlak voor Stefan en Miems se huis getrap het. Vandag staan daar ‘n grafsteen oor ‘n hopie van ‘n plaaswerker se droom om eendag ‘n geneesheer as seun te hê: Dr. Dokter.

купить пиджак на мальчика 12 летtopcargo кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.