Is dit Zille se skille?

ImageHelen Zille, leier van die DA en uitvoerende burgemeester van Kaapstad, is op Sondag 9 September gearresteer omdat sy meegedoen het aan ‘n “vreedsame en ordelike optog” om te betoog teen dwelmhandelaars en dwelmmisbruik.  Haar woorde daaroor was: “Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die polisie so aggressief was teenoor ons volkome vreedsame optog.” Maar daarby voeg sy vol selfvertroue dat sy darem baie dankbaar is omdat die Grondwet en Kgalema Motlanthe, seketaris-generaal van die ANC, sal keer dat Suid-Afrika nie weer ‘n polisiestaat word soos dié tydens die apartheidsera nie.  En tog wil sy die polisie dagvaar vir onregmatige arrestasie!

Die vraag duik onwillekeurig op of Zille op haar eie eiland bly, dié dat sy nie ‘n idee het wat werklik in die land se politiek aangaan nie?  Suid-Afrika het nie net ‘n korrupte polisiemag wat presies maak soos hulle lus het nie, maar word ook beheer deur ‘n kommunistiese regime met ‘n Grondwet wat bedoel is om die diktatorskap van die ANC te pas.  Daarom sal Zille se ontnugtering nog veel groter word terwyl sy salig gerus is dat “die reg op vreedsame protes in die Grondwet verskans is, en dat dit ‘n bousteen is van enige demokrasie – veral van Suid-Afrika se demokrasie, wat as’t ware op die rug van openbare protes gebou is”.

‘n Mens kan nie glo dat Zille se skille nie reeds van haar oë afgeval het toe Mike Waters, haar DA-woordvoerder oor gesondheid, enkele dae voor haar inhegtenisname, vir vyf dae lank uit die vergadering geskors is deur Baleke Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering nie.  Die skorsing het gevolg op sy geregverdige vraag: “Is minister Manto Tshabalala-Misimang in 1976 aan diefstal skuldig bevind terwyl sy in diens van ‘n hospitaal in Botswana was, en is die inligting aan pres. Thabo Mbeki oorgedra toe sy in haar portefeulje aangestel is?”  Dat die vraag van openbare belang is, het egter nie die diktatorskap van die speaker beïnvloed nie en daarom beweer Mbete steeds dat haar besluite nie bevraagteken sal word nie. Mike Waters se ontnugtering was egter groot: “Dit is kommerwekkend dat die ANC dit regkry om so ‘n vraag te laat verwyder!  Die magsmisbruik in die parlement is skokkend!”  En nog sit Zille se skille…

Dalk moet Helen Zille haar weer vergewis oor hoe die ANC met die Grondwet omgaan.  Een voorbeeld die afgelope twee weke is die “Tshwane-metroraad” se voorneme om geen kleinsake-transaksies voortaan met wit ondernemings te doen nie.  Slegs ondernemings wat uitsluitlik in swart besit is, sal mee onderhandel word.  Dat dit totaal teenstrydig met die Grondwet is, is nie vir hulle van belang nie.  Artikel 217 in die Grondwet stel dit duidelik dat die proses billik, deursigtig, mededingend, gelyk en kostedoeltreffend moet wees; dus, as die raad ‘n laer prys aangebied word, moet hulle dit oorweeg. Advokaat Werner Zybrands, kenner van munisipale regering, sê dat die besluit ook strydig is met ‘n kennisgewing wat die nasionale tesourie in Januarie 2006 aan alle munisipaliteite gestuur het waarin bepaal word dat “’n regsmening van die hoof-staatsregsadviseur bevestig dat enige tender-voorwaardes wat kategorieë van moontlike bieërs uitsluit, ongrondwetlik is”.

Voorts moet Zille eerder ondersoek instel na die ANC se permanente ideologiese “regstellende aksie” waarin hulle ongeag die Grondwet se “beskerming”, besig is met rassediskriminasie deur middel van magsmisbruik, korrupsie en onmenslike optrede teen blankes. Zille mag in die waan verkeer dat “regstellende aksie” ‘n tydelike noodmaatreël is wat met “positiewe maatskaplike en ekonomiese gevolge toegepas word”.  Haar ontnugtering sal egter groot wees wanneer sy uitvind dat die Grondwet haar ook nie sal beskerm wanneer die ANC aanhou met sy toenemende en permanente rassestelsel waarin hy alle blankes wil uitwis nie.  Om die proses te vergemaklik, moet elke skoolleerling sy ras op sy inskrywingsvorms invul, en moet ‘n koper se ras ook deesdae vermeld word wanneer hy eiendom aankoop.  Hierdie maatreëls is slegs die begin van ‘n poging tot etniese suiwering deur ‘n staat wat hom nie aan sy eie Grondwet steur nie.

Oor die ANC se polisie het Zille ook nog heelwat te leer.  In dieselfde week as haar arrestasie, bepleit Mbhazima Shilowa, Gauteng se premier, “samewerking tussen die polisie, metropolisie, gemeenskapspolisiëringsforums en ander groepe, om ‘n veldtog teen alkoholisme en dwelmmisbruik te lei aangesien daar ‘n verbintenis tussen sekere sosiale misdade en alkohol- en dwelmmisbruik is”. Dit is die rede waaroor Zille aan die optog deelgeneem het. Net daarna braak Leonard Ramatlakane, waarnemende premier van die Wes-Kaap, gal oor Zille “omdat sy moeilikheid gesoek het” en daarom gearresteer is. Intussen swyg Mbeki in al elf tale hieroor en verwys alle navrae aan sy kantoor na die polisie.  Maar Zille sê sy verstaan hierdie dinge glad nie. Ai…

Ons “wonderlike” polisiemag wat volgens Zille “danksy die Grondwet darem nie weer sal word soos dié tydens die polisiestaat van die apartheidsera nie”, is dan seker nie dieselfde polisiemag wat onskuldige kinders op die agtersitplek van ‘n bakkie doodskiet omdat polisielede sogenaamd ‘n Isuzu-bakkie verkeerdelik vir ‘n gesteelde Colt-bakkie aansien nie, soos die afgelope week in Witbank gebeur het nie.  En dit kan onmoontlik dieselfde polisie wees wat reeds dae lank weier om Andrew van Staden se vrywillige verklaring af te neem oor die moord op die sestienjarige Charlene du Preez van Arcadia.  En dit kan nie dieselfde polisiemag wees wat op 5 September vir die drie-en-tagtigjarige mev. Vera de Bruyn wat deur rowers oorval is in haar bed in die aftree-oord waar sy woon, gesê het: “Sorrie, ons kan jou nie nou help nie, daar is net een kar en een persoon aan diens en 40 klagtes.” Maar dis tog dieselfde polisie wat nog op dieselfde dag, 5 September, toe ‘n Hino-vragmotor gelaai met brood vir aflewering omgeval het, vinnig gekeer het dat omstanders van die brood steel?  Soos hulle woordvoerder gestel het: “Ons ouens was vinnig op die toneel en het gekeer dat hulle enige van die brode steel.”  Wat ‘n kordaatstuk!

Daar is niemand so blind soos diegene wat nie wíl sien nie!

марка масла для компрессора

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.