Kerkstraatbom ontplof vandag 30 jaar gelede

Kerstraatbomtoneel
Deel op

KerstraatbomtoneelVandag is dit presies 30 jaar gelede dat die Kerkstraatbom ontplof het. Hier volg ‘n uittreksel uit Trou tot die dood toe – die Suid-Afrikaanse polisiemag deur  die voormalige kommissaris van polisie, Johan van der Merwe. Die boek van 440 bladsye verskyn het in Junie 2010 by Uitgewery Praag verskyn.

EEN van die skokkendste terreurvoorvalle in die geskiedenis van Suid-Afrika het op 20 Mei 1983 plaasgevind. ʼn Motor met ʼn kragtige lading springstof het omstreeks vieruur die middag voor die Nedbankpleingebou in Kerkstraat, Pretoria, ontplof. (Die gebou het in Engels as die Nedbank Square Maritime House bekend gestaan.) Altesame 19 mense is dood, onder wie 12 burgerlikes en 7 Weermaglede. Altesame 219 mense is erg beseer of vermink, onder wie 217 burgerlikes en 2 Weermaglede.

KerstraatbomslagoffersDie hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag was op die eerste, tweede en derde verdiepings van die gebou. Die res van die dertien verdiepings is deur burgerlikes gebruik. Op die grondverdieping was ʼn kafee en ander sake-ondernemings.

Kol. Basie Smit (later generaal) en maj. Suiker Britz (later generaal) van die speurafdeling was in daardie stadium in Klub 34, nie ver van die ramptoneel af nie. Hulle het hulle na die toneel gehaas en was die eerste polisielede op die toneel. ʼn Afskuwelike gesig van dood en verwoesting het hulle begroet. Oral het lyke, erg beseerde of verminkte mense, ledemate, stukke verskroeide vlees, beendere en bebloede en verskeurde klere rondgelê. Voor die gebou was die wrak van ʼn motor met menslike oorblyfsels, vermoedelik die oorsprong van die ontploffing.

Lede van die taakmag en teeninsurgensie-eenheid onder bevel van genl. Bert Wandrag en die onlusbestrydingseenheid onder maj. Loots het die gebied dadelik afgekamp sodat moontlike bewysstukke nie versteur word nie.   

Kundiges op verskillende terreine het dadelik aan die werk gespring: die Forensiese Wetenskaplaboratorium onder genl. Lothar Neethling het noukeurige opnames gedoen, die ingenieursafdeling van die Kwartiermeester het die motorwrakstukke ondersoek en plofstofkundiges het die toneel gefynkam om vas te stel watter en hoeveel springstof gebruik is.

Alles is met video- en ander kameras op film vasgelê.

Die Forensiese Wetenskaplaboratorium het later deur bloed- en weefseltoetse bepaal watter ledemate aan wie behoort en só kon die identiteit van die 19 oorledenes bepaal word.

By sy aankoms op die toneel het maj. Britz ʼn lyk oorkant die pad regoor die motorwrak sien lê. Die man het vir hom bekend gelyk, maar hy kon nie onthou waar hy sy gesig al gesien het nie. Nadat hy op die ramptoneel gehelp het, het hy by sy huis lêers en foto’s van mense wat hy gearresteer het, nagegaan. Hy het op die foto van Ezekiel Maseko afgekom, wat hy jare tevore weens huisbraak, diefstal en gewapende roof aangekeer het. Maseko is aan al die aanklagte skuldig bevind en tot gevangenisstraf gevonnis. Dit was inderdaad hy wat oorkant die motorwrak gelê het.

Die volgende dag is ʼn ondersoekspan uit die veiligheidstak, speurtak, moord-en-roofeenheid en die Forensiese Wetenskaplaboratorium saamgestel. Kapt. Frik Nel en lt. Hennie Britz van die veiligheidstak was deel van die ondersoekspan.

Inligting wat die verskillende eenhede ingewin het, is daagliks saamgevoeg om ʼn geheelbeeld van die voorval te kry. Kapt. Nel het deur ʼn informant vasgestel dat Maseko en Freddie Shongwe by die ontploffing betrokke was. Dit het die inligting van maj. Suiker Britz bevestig en hulle is na Maseko se huis in Mamelodi-Oos, waar hulle sy ma aangetref het. Volgens haar het Maseko haar vroeg die vorige dag gebel en gesê hy is per motor van Swaziland op pad na hul huis. Hy en ʼn ander man het later met ʼn Colt Galant by die huis aangekom. Hulle het toe die enjinnommer van die motor met ʼn hoekslyper weggeskuur. Sy het die hoekslyper en die ystervysels aan hulle gewys. Lt. Hennie Britz het op die hoekslyper beslag gelê en dit as bewysstuk ingelewer. Maseko se ma het ook ʼn metaaltrommeltjie met R3 000 in kontant wat Maseko van Swaziland saamgebring het, aan hulle gegee.

Lede van die Forensiese Wetenskaplaboratorium het later die monsters van die ystervysels ontleed en vasgestel dat dit wel van die wrak kom wat die lading springstof bevat het.    

Kapt. Nel en lt. Hennie Britz het vervolgens by Shongwe se ma navraag gedoen. Sy het oorblyfsels van haar seun se klere herken en só bevestig dat dit inderdaad Shongwe se verminkte lyk in die wrak van die Colt Galant was. Nes Maseko was Shongwe ʼn geharde misdadiger. Die wit Colt Galant waarin die bom ontplof het, is ongeveer ʼn jaar voor die voorval aan die Oos-Rand gesteel.

Daar is vasgestel dat Maseko en Shongwe met Maseko se Kombi na die middestad gery en toe met die Colt Galant na die Nedbankpleingebou gery het. ʼn Soektog na die Kombi is dadelik op tou gesit, want as dit deel van die ontploffingsplan was, moes dit naby die toneel van ontploffing geparkeer gewees het. Twee lede van die veiligheidstak het toe wel die Kombi naby die ramptoneel opgespoor, op die sypaadjie by ʼn parkeerterrein op die hoek van Schubart- en Vermeulenstraat.

In die Kombi was ʼn draagbare radio wat in ʼn sender omgeskep is, asook springstof. Die sender het ʼn skakelaar gehad om die afstandbeheermeganisme te aktiveer. Oorblyfsels van die ontvangstoestel is in die wrak van die Colt Galant aangetref. Dit het ʼn ook skakelaar gehad om die afstandbeheermeganisme te aktiveer.

Daar word vermoed dat Shongwe die Colt Galant met die bom en ontvangstoestel in Kerkstraat voor die Nedbankpleingebou geparkeer het. Hy het daar bly sit terwyl Maseko die afstandbeheermeganisme van die sender in die Kombi gaan aktiveer het. Maseko het teruggekeer en aan die oorkant van die pad aan Shongwe die teken gegee dat dit gedoen is. Shongwe het die ontvangstoestel geaktiveer en die bom het onmiddellik ontplof. Blykbaar moes die ontvangstoestel in die Colt Galant eers geaktiveer gewees het en die sender in die Kombi later op die tyd waarop ooreengekom is.

Uit: Trou tot die dood toe – die Suid-Afrikaanse polisiemag deur Johan van der Merwe. ISBN 978-1-920128-08-1. Verskyningsdatum: 18 Junie 2010. Prys: R260. (Word tans herdruk.)

т 25Александр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.