Dit is hoe dit moet wees!

Mercedes-Benz A-klas
Deel op

Mercedes-Benz A-klasDink ’n mens aan Mercedes-Benz, dan sien jy groot lomp karre vir oumense, maar die teendeel is egter in 2010 van die moderne Mercedesse waar.

Daar is werklik ’n rasegte Mercedes vir elke segment of smaak beskikbaar. Die ongelooflike is dat elke Mercedes wat by ’n handelaar se deure uit ry werklik soliede kwaliteitmotors is net soos dit ’n ware Mercedes betaam. Van die heel goedkoopste A180 tot by die duurste SL65 AMG Black Series is die bougehalte dieselfde. Baie keer kom ‘n mens teë dat die goedkoper modelle van ’n sekere vervaardiger se boukwaliteit of toerusting veel te wense oorlaat. Ons het die A180  CVT onder hande gehad. Die motor is nou wel die kleinste Mercedes beskikbaar, maar die standaardtoerusting sowel as die gevoel wat die motor bied, is werklik besonders. Baie ander vervaardigers maak motors wat heel kompeterend is en goeie gehalte en ekonomie bied, maar min het nog reggekry waarmee Mercedes met die A-klas geslaag het.

Bakwerk

Die motor is baie slim ontwerp met meer as genoeg spasie waar dit nodig is en met minimum oorhange voor en agter is daar ook nie onnodige bakwerk nie. Die motor is kort; om die waarheid te sê hy is 3,8 meter van stamper tot stamper, ’n hele 2 meter breed van spieël tot spieël en 1,6 meter hoog. Die wiele is reg op die hoeke gemonteer en die daklyn bereik sy hoogste punt waar die voorste windskerm en die dak bymekaarkom. Ons kan nie anders as om hierdie ontwerp as briljant te beskryf nie. Die gevolg is baie spasie binne-in die motor, die voorste sitposisie is hoog, maar nie ongemaklik nie, die agterste passasiers het werklik meer as genoeg been-, skouer- en kopruimte. Vergelyk die spasie in die A-klas met ander motors in sy segment soos die VW Golf  6 wat tans Suid-Afrika se motor van die jaar is en jou mond sal oopval. Dit is nie asof die Golf ongemaklik of klein is nie, maar die Benz doen dit net soveel beter. Die Golf is 4,2 meter lank; tog is die binneruim nie naastenby so ruim soos dié van die A-klas nie. Rondomsig vanuit die bestuurdersitplek is ook puik. Die groot glasoppervlaktes rondom die A-klas maak parkering en veral truparkering baie maklik.

Binneruim en toerusting

In egte Mercedes-styl is daar hope standaardtoerusting en ons toetsmotor was in die “Elegance”-pakket uitgedos. Daar is drie afwerkingspakkette beskikbaar op elke modelreeks in die Mercedes-Benz-stal. “Classic” is die gewone afwerking met niks wat blink of fyn is nie, “Avantgarde” is die sportiewe afwerking met meer sportiewe sierwiele, alluminium en koolstofafwerking en dan die “Elegance” wat ’n meer luukse tydlose afwerking met hout en chroom insluit. Die Elegance sluit ook 16-duim fynspeeksierwiele in wat die motor net nog meer spesiaal laat voorkom. Die binneruim van ons toetsmotor was uitgevat in ’n ligte roomkleur wat die motor nog groter laat voel as wat hy werklik is. Baie goeie gehalte matte en die plastiekinsetsels op die voorste paneel asook die greep op die stuurwiel is alles net soveel anders as in enige ander motor wat ons al bestuur het. Ek het werklik dieselfde gevoel wat jy in ’n E-klas of selfs ’n S-klas ervaar in hierdie motor aangetref en dit vir minder as R300 000 of anders gestel dieselfde as wat jy vir ’n Golf 6 met dieselfde spesifikasie sal betaal.  Die been- en kopruimte vir al die insittendes is uitstekend, deure maak wyd oop en die vloer is relatief laag. Die A-klas is ’n vyfdeurluikrug, met ander woorde die groot agterste deur maak ook hoog en groot oop sodat groter begasie maklik gelaai kan word. Die drumpel vanaf die pad na die begasievloer is nie te hoog soos in sommige ander luikrûe nie. Met die agterste sitplekke wat nog kan platvou ook, het die A-klas hope laairuim vir groot stukke begasie. Die daklyn is hoog, amper in die klas van veel groter motors soos die Renault Scenic of VW  Touran. Sitplekke in ons toetsmotor het meer as genoeg systeun en rug steungebied en dit was ten volle verstelbaar vir reik en hoogte. Al die instrumente is net reg geplaas, alles voel net reg, nie te ver en nie nie te naby nie, nie onder iets weggesteek of agter iets anders gemonteer nie. Met skoon instrumente wat duidelik leesbaar is en met satellietkontroles vir die telefoon en radio op die stuurwiel lyk en voel die baba Benz baie spesiaal.

Padgedrag

Kyk ’n mens na die motor se hoogte en lengte dan lyk hy met die eerste oogopslag effens ongemaklik regop, maar die gewigsverspreiding en die gewigsverplasing van die motor is so te sê perfek. Hy voel en bestuur soos’n groot motor. Min padgeraas , min windgeraas en ’n goeie terugvoer deur die onderstel bied eintlik baie meer as wat ’n mens in ’n motor onder R300 000 verwag. Die stuurwiel se terugvoer is regtig besonders en die motor doen wat jy wil hê hy moet doen. Rondomsigbaarheid is uitstekend en omdat die motor se wiele ver op die hoeke gemonteer is, draai hy regtig kort. In regte Mercedes-tradisie is al die veiligheidskenmerke in die motor ingebou: daar is ABS-remme, EBD-remverspreiding, ASR-glybeheer, lugsakke vir alles en almal. Die verrigting van ons toetsmotor was nou nie dié van ’n Golf Gti nie, maar vir ’n klein motortjie met ’n 1,6-literenjin is dit glad nie sleg nie. Ons kon ’n maksimumsnelheid van 190 km/uur haal en die 100 km/uur-merk het in 11,5 sekondes gekom. Ons toetsmotor is ook toegerus met die 5-spoed outomatiese ratkas wat dinge so effens stadiger doen as die handratmodel. Brandstofverbruik was bietjie teleurstellend vir dié tipe voertuig: ons kon slegs 10,8 l/km behaal en dit was heeltemal te onekonomies na ons mening vir ’n 1,6-liter stadsmotortjie. Weereens, die outomatiese ratkas het die syfer erg beïnvloed, maar aan die ander kant outomaties of nie, hy behoort baie meer ekonomies te wees.

Gevolgtrekking

Sal ons die Mercedes-Benz A180 outomaties met ons eie geld koop? Kyk bietjie rond en vergelyk wat anders kan jy koop wat vir jou dieselfde praktiese benutting kan gee, die VW Golf 6 1,4 TSi Highline?  Ja, hy kos min of meer dieselfde, maar is nie outomaties nie en hy is die “Motor van die Jaar”,  maar hy is kleiner binne en duurder. Jy voel ook nie heeltemal so spesiaal in ’n VW soos in ’n Mercedes nie. Die Audi A3 1,4 Tsi ( R257 000) is nader aan die kol, maar selfs met sy uitstekende boukwaliteit voel nie soos ’n Mercedes nie en hy is nie outomaties nie. Die A-klas het genoeg teenwoordigheid om in enige geselskap tuis te wees; óf jy nou by die golfbaan, skool, kerk óf by die Westcliff is, hy voel en lyk net reg. Teen R239 000 plus R15000 vir die CVT outomatiese ratkas en R10 700 vir die Elegance-pakket kom die A180 CVT Elegance in op R264 000 en die prys sluit Mercedes se MobilioDrive 120-onderhoudsplan ook in.  Die Mercedes A180 is werklik soos dit behoort te wees: kompak, maar ruim, met uitstekende boukwaliteit en die gevoel van ’n groot motor. Die driepuntster op die neus en meer as genoeg aandklere om in enige  geseldkap in te pas, maak ‘n wenner daarvan.

хамам в квартиреtopcargo отзыв

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.