Sakeleiers kan nie politiek bedryf

Deel op

ImageDie debakel rondom Eerste Nasionale Bank se abortiewe anti-misdaadveldtog het weereens gedemonstreer watter leierskapsvakuum daar in Suid-Afrika bestaan. Vele sakemense is arrogant genoeg om van tyd tot tyd die stelling te maak dat “ons Suid-Afrika regeer”. Hierdie soort praatjies word deur die bulmark in aandele en eiendom veroorsaak, maar het weinig gronde in die werklikheid.

Deel op

Waarskynlik het ENB vir hom ’n redelike klomp gunstige publisiteit verseker met sy halfhartige poging om die ANC-bewind onder druk te plaas sover dit sy gebrekkige hantering van misdaad betref. Maar die media het ’n baie kort geheue, want net drie of vier weke gelede het ENB televisiereklame gemaak wat beweer het dat misdaad nie so erg is nie en dat blankes onnodig “negatief” is omdat hulle daaroor kla!

In dié advertensie staan ’n aantal mense in ’n tou by die lughawe. ’n Blanke man (sic) begin kla oor die swak diens en misdaad terwyl hy suggereer dat die land nie in staat is om die sokkerwêreldbeker aan te bied nie. Hierna word hy deur ’n swarte ingevlieg omdat hy so “onpatrioties” is en aan die einde van die advertensie ontvang die blanke Suid-Afrikaner (hy lyk nogal na ’n Afrikaner hoewel die advertensie in Engels geskiet is) ‘n morele lessie van ’n Australiër in die lughawetou!

Daar kort dus enkele stukke in hierdie legkaart. Insiggewend is dat ENB blykbaar heelwat ongunstige kommentaar van sy kliënte en sy eie werknemers ontvang het as gevolg van die oorspronklike, polities korrekte advertensie. Ek stel my nou voor dat die volgende gesprek ná die eerste TV-advertensie tussen ’n hoë amptenaar van ENB en hul gunsteling advertensiemaatskappy moes plaasgevind het:

ENB: “Dis ’n gemors! Ons word oorval deur oproepe en eposse van ons kliënte en ons eie werknemers wat kla oor ons PK-advertensie. Wat gaan ons maak?”
Liegfabriek: “Ag toe maar, moenie bekommer nie. Ons kan dit vinnig regstel.”
ENB: “Maar hoe?”
Liegfabriek: “Eenvoudig. Al wat ons doen, is om te maak asof julle skielik baie bekommerd oor misdaad geraak het. Julle versprei anti-misdaadpetisies of roep die publiek op om briewe teen misdaad aan die president te skryf. Sodoende vergeet hulle sommer gou-gou van die PK-advertensie.”
ENB: “Briljant! Maar wie gaan dit reël?”
Liegfabriek: “Ons natuurlik! Solank daar begroting is, kan ons enigiets doen. Ek stuur sommer vandag al ’n brief aan die Sondagkoerante en die TV-kanale om vir ons spasie te hou vir die veldtog dié naweek.”

Maar waarop ENB en sy liegfabriek nie gereken het nie, is dat sy mededingers (onder andere Standardbank se Michael Spicer) en die ANC-bewind daarvan te hore gekom het en ’n stokkie daarvoor gesteek het deur waarskynlik die bank met onttrekking van staatskontrakte te dreig.

Hierop blaas ENB die aftog, soos ons oor die afgelope paar dae uitgevind het. Wat blyk egter uit dié episode?

Ten eerste: ’n kommerwekkende onsekerheid en besluiteloosheid by Paul Harris en die res van die ENB-bestuur. Hoe op aarde kan die bank binne enkele weke TV-advertensies plaas waarin ’n Australiër vir ons morele lessies oor ons “negatiewe houding” oor misdaad gee, dan honderd-en-tagtig grade omswaai en ontpop as anti-misdaadaktiviste, net om op die ou einde skrik vir die koue pampoen van Charles Nqakula? En Nqakula ís ’n pampoen, as daar al ooit een was.

Wat is ENB se werklike opinie oor misdaad? Sal ons ooit weet?

Ten tweede: Die blote feit dat ’n bank, wat veronderstel is om na jou en my fondse om te sien, hom geroepe voel om tot die politieke arena toe te tree, spreek van die volslae lugleegte sover dit politieke leierskap in die land betref. Anders sou ENB seker nie van die kantlyn af ’n inset probeer lewer het nie. Ook die buitelandse moondhede wat in die eerste plaas, soos in Irak, soveel druk op Suid-Afrika geplaas het om sogenaamd te "demokratiseer", meng gedurig in ons onderwys, verdediging, kultuur, ens., in omdat hulle ook iewers besef dat hierdie onervare, onbekwame bewind op vele gebiede kleitrap. Dus verteenwoordig die sakemanne maar net deel van die skare stuurlui wat aan wal staan.

Die ANC het nou al male sonder tal bewys dat hy nie kán regeer nie. Die Afrikaner, onder leiding van De Klerk en die geslag van skuldige Broederbonders, het sy politieke rol geabdikeer en wíl nie meer regeer nie. Enige poging van Afrikaners om te hergroepeer of om nuwe lewe in die volk te blaas, word met histeriese propaganda deur Nasionale Pers begroet wat ons waarsku om nie weer “arrogant, rasssisties, baasspelerig en oorheersend” op te tree nie. Enigeen wat gister (3 Februarie 2007) se By in Die Burger en Beeld gelees het waarin Max du Preez en ander linkse siele Bok van Blerk se De le Rey-liedjie en die mense wat daarna luister verbete probeer afkraak en selfs Steve Hofmeyr as ’n bedreiging vir die vrede sien, sal weet wat ek bedoel.

Dus moet die hele land leierloos en planloos voortploeter na ’n uiteindelike Afrika-nagmerrie waarvan die huidige Zimbabwe, Rwanda of die Kongo moontlike toekomsscenario’s verteenwoordig.

Sakemanne is per definisie op korttermynwins ingestel. Misdaad, die ondergang van Afrikaans, die rassistiese verdrywing van blankes uit die polisiediens soos Jackie Selebi beoog en ander politieke kwessies kan hulle min skeel solank as wat verbruik toeneem en die aandelebeurs styg. Belangrik om te begryp, is dít: geen sakeman verstaan hoegenaamd die verwikkelde faktore wat iets soos ongebreidelde misdaad in dié land veroorsaak nie. Om te dink dat dit met ’n advertensieveldtog reggestel kan word, of selfs dat ’n Afrika-potentaat soos Mbeki op so iets sal reageer, verteenwoordig immers die toppunt van naïwiteit.

Soos ek al voorheen geskryf het, is die eerste tree na ’n oplossing vir misdaad om beheer ons eie veiligheid deur buurtwagte en plaaswagte te neem. Ons moet besef dat die staat vir alle praktiese doeleindes in duie gestort het. Daar bestaan steeds ’n horde staatsamptenare wat salarisse verdien en af en toe word daar nog ’n wettige ID-boekie uitgereik tesame met die onwettiges,  maar ons kan nie meer van die ANC-staat verwag om ons hoegenaamd teen die swerwende doodsbendes te beskerm nie.

{mos_mb_discuss:13}

липецк очисткаданильченко юрій Харків

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.