Portret van ‘n Afrikaneraktivis

Deel op

Yolandi Kruger sal binnekort 22 jaar oud wees en sy het onlangs naam gemaak deur binne vier dae 40 000 mense vir ‘n Facebook-groep te werf wat aan Eugene Terre’Blanche se herinnering gewy is. PRAAG het ‘n hele aantal vrae aan haar gestel.

PRAAG: Yolandi, sou jy sê die benaming Afrikaneraktivis pas by jou?

Yolandi Kruger: Ja definitief, want aktivisme beteken eenvoudig ekonomiese, sosiale of politieke verandering, en ek wil poog om ‘n bewusmaking daar te stel dat Afrikaners nie ‘n minderheidsgroep is wat besig is om uit te sterf nie, maar eerder dat ons daagliks uitgemoor word. Daar moet daadwerklik iets gedoen word om die wêreld se oë op dít wat besig is om te gebeur, binne die grense van SA, bloot te lê. Volgens die skrywer Sandor Veign is aktivisme ‘n bewusmakingproses van organisering, mobilisering, aksies en reaksies.

PRAAG: Wanneer het jy vir die eerste keer polities bewus geraak? Hoe oud was jy min of meer?

Yolandi Kruger: Van my vroegste herinneringe is waar ek vroeg in die oggend op my oupa, Johann Kruger, se skoot gesit en nuus kyk het. Hy was amper sy hele lewe lank ‘n joernalis, destyds Hoof van Radio- en TV-Nuus in Natal vir die SAUK en in sy beginjare ‘n parlementêre verslaggewer. Ek het reeds op negejarige ouderdom politieke outobiografieë verslind en dít – tesame met my oupa se interessante gesprekke – het my belangstelling in politiek aangevuur.

PRAAG: Hoe het die Eugene Terre’Blanche-blad op Facebook gebeur?

Yolandi Kruger: Ek het dit uit simpatie vir die familie van Eugene Terre’Blanche gestig, en het ook die man wat gelouter uit die tronk gestap het, bewonder. Nooit het ek in my wildste drome kon dink dat die groep so vinnig sou groei nie, en dit was ook nie my doelstelling nie. Dit het egter nou ‘n lewe van sy eie gekry en is nou ‘n spreekbuis en forum vir Afrikaners.

PRAAG: Jou ma, Hannelene, was ‘n mediapersoon. Sou jy sê dit het jou van kleins af ‘n gevoel vir media en kommuniasie gegee?

Yolandi Kruger: Ja defnitief, want as kind het ek uit die aard van die saak grootgeword tussen mediamense en welbekendes. My ma het my van kleintyd af rondgery om my in TV-programme soos YoTV, Mpuneng, Erfsondes en Binnelanders te laat deelneem. Dit het my geïnspireer om film en drama by AFDA in die Kaap te gaan swot. As die situasie anders in die land was, sou ek graag joernalistiek wou swot. Ek dink ‘n mens word groot met ‘n wyer perspektief as die normale kind, juis omdat mens meer blootgestel word aan vrydenkende en kreatiewe mense. My ma is juis so iemand en haar sin vir regverdigheid en menslikheid het ‘n groot invloed op my. Sy is en sal seker altyd my grootste ondersteuner, kampvegter en kritikus wees. Sy en Sunette Bridges maak saam met my die span uit wat die Facebook-groep in toom hou en glo my soms word die gesprekke baie warm en dan kan een persoon nie alleen vrede bewaar nie.

PRAAG: Die indruk word dikwels in die media gewek dat jongmense die nuwe Suid-Afrika, asook dinge soos regstellende aksie en geweld, met gelatenheid aanvaar. Sou jy sê dis ‘n korrekte indruk?

Yolandi Kruger: Ek dink dis die grootste wanpersepsie ooit! Baie jong mense voel baie sterk oor hul wortels en vandag se media gee vir seker ‘n wanindruk van hoe ons jongmense werklik voel. In die eerste plek moet mens eers na hedendaagse kultuur kyk, die “pop culture” of postmodernistiese jeug. Jong Suid-Afrikaners leef hulself eerder uit in ‘n satire van musiek of kuns, waarvan “Brand Suid-Afrika” van Fokof Polisiekar ‘n duidelike voorbeeld is. Dit vertel hoe die jeug oor die huidige politieke situasie voel, van almal wat praat en niks doen nie. Ons sit sonder werk a.g.v. BEE en regstellende aksie en dit beïnvloed sodoende wat mens gaan swot en hoe hulle hulself sien. Die regering praat die hele tyd van apartheid dit en dat, maar wat is BEE en regstellende aksie anders as diskriminasie en omgekeerde apartheid? In die tyd toe ek op Tukkies Teologie geswot het, was ek die voorsitter van VF+ TAS (Tuks Afrikaanse Studente) en het ek gesien hoe baie wit matriekstudente medies wou gaan swot het, met oor die 90% slaagsyfer, maar a.g.v. regstellende aksie is die swart student met ‘n gemiddeld van 40% vir Wiskunde, eerder toegelaat. Swart studente kry groot afslag op studiegelde en daar is amper geen beurse beskikbaar vir blankes nie en ook nie afslag nie. Hierdie tipe diskriminasie veroorsaak groot opstand in mense se harte en kweek opstandigheid en haat.

Gister is daar weer ‘n student in die Kaap vermoor en dit deur ‘n ander jong mens. Natuurlik raak dit ons en Malema met sy haatspraak veroorsaak ‘n kookpot van emosies wat eerder kon gebly het. Studente se emosies was reeds op ‘n mespunt en hierdie tipe van situasie maak dat daar totale vyandskap ontstaan. Mense begin mekaar wantrou en waar hulle eers vriende sou gewees het, beloer hulle mekaar nou op ‘n afstand.

PRAAG: Wat is jou droom vir Afrikaners? Iets soos ‘n volkstaat, ‘n eie republiek, of net om veilig onder die ANC te kan leef, indien so iets moontlik is?

Yolandi Kruger: My droom is dat Afrikaans sonder bedreiging kan voortbestaan en dat die uitmoor van my volk onmiddellik moet ophou. Die ANC is ‘n kommunistiese politieke party met sosialistiese ideologieë en hulle probeer dit op ons toepas. Nee, ek wil nie verder onder ‘n ANC-regering leef nie. Kyk maar nou net weer na Malema wat nou weer begin met sy storie dat alle Afrikaanse skole moet toemaak. Meeste mense is onder die indruk dat die ANC vryheid beteken a.g.v. Nelson Mandela. Dis ‘n blote mediafoefie en na 16 jaar is dit duidelik dat hulle nie die land kan regeer nie. Ek is ‘n groot voorstander van die VVK, want elke mens behoort ‘n land te hê wat hy sonder vrees sy huis kan noem.

In ‘n ideale wêreld is die enigste oplossing om ‘n herverkiesing te he, waar die VF+, DA, IFP, COPE en ID saamstaan teen die ANC, maar ongelukkig is dit baie idealisties. Ek glo ook nie ons verkiesing was vry of regverdig nie, want ek was by die stembusse en het die telling van stemme nie so ervaar nie. Ons enigste oplossing is dus nou maar om ‘n groot bewustheid in die buiteland te skep oor wat die werklike situasie in ons land is.

PRAAG: Hoe voel jy oor die partypolitiek? Is daar nog hoop dat ons verandering deur die stembus kan bewerkstellig?

Yolandi Kruger: Ek voel positief oor die VF+, DA en die IFP, en almal sal my nou seker wil kruisig, maar my oupa het ‘n baie goeie verhouding met Mangosotho Buthelezi gehad en ek weet hy is ons goedgesind en hy is ‘n werklike voorstander van vreedsame naasbestaan. Hy het ook vandag in die nuus gese dat Malema gestop moet word. Die VF+ het ‘n goeie Christelike beleid, waar die DA ook baie goeie punte het, maar hulle staan nog steeds vir BEE, regstellende aksie en aborsie, wat my as Christen dwars in die krop steek! Op hierdie oomblik dink ek nie politieke partye gaan vir ons die oplossing gee nie of ‘n oorstemmery nie. Daar is nou ‘n behoefte vir ‘n sterk Afrikanerleier om die volk te lei. Die behoefte is lankal duidelik as mens sien hoe mense op die Delarey-liedjie reageer en hoe sterk daar gereageer is op Eugene Terre’Blanche se moord.

PRAAG: Na aanleiding van jou Facebook-groep, het jy ook dreigemente van mense gekry. Waaraan skryf jy dit toe?

Yolandi Kruger: Daar is geweldig baie Malema-haatspraakgroepe, asook die PAC TUT-groep, wat gedurig in ons groep inkom en mense aanval en vertel hoe hulle ons Afrikaners gaan aanval, verkrag en vermoor. Ek het oor die 200 bladsye “screen shots” van hierdie tipe haatspraak. Malema het defnitief met die opswepery te doen, maar ek dink ook dit lê baie dieper gewortel. Daar is groepe soos die Green Skin Initiative, wat op ‘n Afrikaanse radiostasie, Jakaranda, teen ons praat en sê dat die Afrikaner so ‘n minderheid is dat ons nie saak maak nie. Hierdie groep word oral in die media voorgehou as wonderlik, terwyl hulle heelwat kleiner as ons is en dan laat die Afrikaanse media ons nie eers toe om ons saak te stel nie. Dit op sigself is vir my uiters kommerwekkend.

PRAAG: Jy het ook ‘n webwerf rondom die begrip “oranje-revolusie” opgerig. Waarom die oranje revolusie? Hoe bewus is jy van die oranje revolusies wat in Oos-Europa plaasgevind het?

Yolandi Kruger: Die oranje-revolusie is gestig om ‘n bewusmaking daar te stel aan die buiteland om aandag te vestig op Afrikanermoorde. Die oranje het ook ‘n sterk verband met ons eertydse vlag: oranje, wit en blou.

Die naam is so gekies, want die Oranje-revolusie het oorspronklik sy ontstaan in Oos-Europa gehad, onder die naam Pomarancheva revolyutsiya. Hulle het ‘n internetprotes geloods om mense bymekaar te kry teen hul verkiesingsuitslae wat hulle gedink het, onregverdig was. Hulle het oor Facebook protesoptogte en sitoptogte gereel en verfbomme in die strate gegooi en vir die mense gevra om nie verder enige belasting te betaal nie. Dit het veroorsaak dat die buiteland soveel druk op die land geplaas het, dat die regering gedwing is om ‘n herverkiesing te hou.

PRAAG: Sou jy iets dergeliks in Suid-Afrika wou sien, naamlik ‘n min of meer bloedlose regeringsverandering ná openbare protes?

Yolandi Kruger: Ja, vir seker, ek dink nie enigiemand is lus vir verdere bloedvergieting nie, en daarom juis die Oranje-revolusie. Dis tyd dat ons Afrikaners as ‘n Boerevolk weer opstaan en begin veg vir ons reg in hierdie land. My ma herinner my dikwels dat ons voorouers kaalvoet oor die Drakensberge getrek het en daarom glo ek dat ons ook in hierdie politieke klimaat ‘n verskil kan maak op ‘n vreedsame manier. Ons is tog afkomstig van dieselfde stoffasie?

PRAAG: Watter vorme van protes of verset sou jy as deel van ‘n oranje-revolusie sien?

Yolandi Kruger: Ons is besig om ‘n T-hempveldtog te beplan, en het al mense so ver as die Amerikaanse soldate in Irak betrokke gekry. Die T-hemde gaan deur individue gemaak word met die slagspreuk “Gons of Sterf”, of “Speak up or Die!” Die soldate wil plakkate maak en voor hul oorlogtenks gaan staan met “Stop the Afrikaner genocide!” Hulle wag nog vir toestemming van hul weermag af. Ons het ook ‘n veldtog geloods op FB waar mense hul profielfoto’s oranje maak. FB-vriende wil dan weet waaroor mense se profielfoto’s oranje is en dit gee ‘n aanknopingspunt om daaroor te begin praat.

Ander protesoptogte wat ons beoog is om die boere te kry om met hul trekkers na die Uniegeboue of na die lughawe toe te ry, soos wat die Franse boere gedoen het. In Swede het hulle reeds betoog en die betogingsrede aan die Verenigde Nasies gaan oorhandig. Betogings word tans in LA, Washington en Savannah gereel en ‘n verdere optog in Engeland.

PRAAG: Hoe lyk die toekoms van Suid-Afrika vir jou?

Yolandi Kruger: Baie donker. Dinge MAG nie verder aangaan soos wat dit nou aangaan nie. Dit is NOU die tyd om op te staan voordat ons almal uitgemoor word en ons moorde as misdaadsmoorde aan die wereld voorgehou word.

PRAAG: Hoe voel jy oor geweldsmisdaad en aanvalle op blankes en Afrikaners?

Yolandi Kruger: Ek dink dis ‘n goed beplande strategie van die regering. Die feit dat president Zuma vir weke stilbly en niks aan Julius Malema doen nie en dan ewe skielik die verbod op “Die Stem” binne ‘n dag na so ‘n uitlating ondersteun, is vir my duidelik waarop hulle afstuur. Die feit dat die polisie ons mense met ‘n slim slenter ontwapen het, is vir seker goeie beplanning en dui vir my op ‘n duistere motief.

PRAAG: Hoeveel jongmense dink jy voel soos jy?

Yolandi Kruger: Gee net een kyk na MK en die kultuur om jou en dan weet jy presies hoe die oorgrote meerderheid Afrikanerjongmense voel. Ons voel bedreig en verneder en ons voel: Genoeg is genoeg!

PRAAG: Waar gee hulle uiting aan hul gevoelens of opinies?

Yolandi Kruger: Meestal met lirieke en musiek, kort flieks, kuns en met politiek verwante organisasies, soos die Kaapse Party in Stellenbosch. Op Tukkies is dit die VF+ wat amper die hele kampus regeer met die slagspreuk: “Jou PA!”

PRAAG: In watter rigting wil jy hê moet jou groep in beweeg?

Yolandi Kruger: Ek sal graag wil sien dat mense op die groep hulself begin mobiliseer en by kommando’s en organisasies betrokke raak wat hulp en opleiding kan verleen om hulself sodoende te beveilig. Mense moet paraat wees vir enige tipe verassing wat die regering na ons kant toe wil gooi, veral met ons land se grense wat tans oopgestel is vir die Wêreldbeker.

правило укладки ламинатаФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.