Die vryheid van Vryheidsdag

Deel op

Min mense sal daarvan verskil dat vanjaar se Vryheidsdag in ‘n redelike ander konteks staan as voriges. Die redes hoekom ander kontekste waargeneem word mag egter erg uiteenlopend wees.

‘n Deel fokus die “andersheid” op ‘n onlangse toespraak van pres. Jacob Zuma waarin hy senior regeringslui meedeel dat alles wat (nog) verkeerd is nie meer voor die deur van apartheid gelê kan word nie. Van die dagbladpers neem ook hierdie koers in.

‘n Ander deel wat nie meer geïgnoreer kan word nie, al word dit hoe polities verkeerd beskou, is die omvang van uitsprake ten gunste van ‘n vrye volkstaat. Deesdae trek baie mense wat met die laaste referendum “nee” gestem het saam met mense wat op sterkte van versekerings van die destydse regering “ja” gestem het saam in hierdie tuig.  

Die optimisme wat straal uit Zuma se uitspraak, dui daarop dat daar ook onder baie van die nie-volkstaters ‘n groot ongelukkigheid is met die huidige toedrag van sake. Dit verg net ‘n dwars woord van Julius Malema om nog ‘n groep na die volkstaatkamp of emigrasiekamp te dryf.

Ongelukkig moet Zuma se uitsprake nog aan die toets van die tyd onderwerp word. Beteken dit byvoorbeeld dat die behoefte aan die Black Management Fofrum, die Black Lawers Association, die Black Journalist Association en vele meer as oorbodig beskou gaan word …dat dit nie meer nodig sal wees om die beweerde sleureffek van apartheid teen te werk nie?

Beteken dit dat Manyi en kie hul aandrang op voortgesette en verskerpte affirmative action gaan laat vaar? As apartheid nie meer geblameer kan word nie, is daar immers niks meer om reg te stel nie, en ontaard dit in doodgewoon rassistiese affirmative action.

Beteken dit ‘n horde regeringslui wat kort-kort na die behoefte van grondhervorming verwys, gaan nou dié praatjies laat vaar? Lui dit veral die einde in van grondgryp-praatjies van Malema en kornuite in, asook voortdurende dreigemente om eie verskansing van eiendomsreg in die grondwet se Handves van Menseregte te ondergrawe?

Gaan die verskillende pleknamekomitees – veral dié in Limpopo en die Vrystaat nou hul obsessie oor naamsveranderings te midde van erg gelaaide uitsprake laat vaar?

Ongelukkig is daar ruim rede vir skeptisisme. Die land se landbouers sal goed onthou hoe die destydse pres. Mbeki persoonlik die Landbou-strategiese plan onderteken het. Met ‘n getekende dokument in die sak, was Agri SA optimisties. Kort hierna ruk die minister van landbou by ‘n Oos-Kaapse saamtrek ‘n dokument uit met presies die teenoorgestelde inhoud. In plaas daarvan dat haar dokument dadelik ashoop toe is soos dit veronderstel was om die geval te wees, is lank daaroor gekoek en gebroei.

‘n Mens wil nie graag die stelling maak dat die plan wat Mbeki geteken het, vir hom dieselfde waarde gehad het as die traktaat wat Dingaan met Retief onderteken het nie, maar die ooreenkomste was ongelukkig ook daar.

Slegs die tyd sal leer of Zuma se uitspraak deel van ‘n uniforme  regeringsvisie uitmaak en op die aanbreek van ‘n nuwe ingesteldheid dui, en of dit bloot ‘n taktiese opmerking vir die spesifieke gehoor was. Hieraan maak hy hom immers ruimskoots skuldig.

Die oorwig van getuienis lyk of laasgenoemde die geval is. Zuma se opmerking sou veel meer gewig gedra het as hy in dieselfde asem vir Gwede Mantashe oor die kole gehaal het omdat dié toe pas beweer het die huidige vlaag van korrupsie is van die apartheidstelsel geërf. Niemand ontken dat daar ook korrupsie in die ou bedeling was nie, maar hoogstens kan gesê word die ANC het nie korrupsie uitgedink nie, net vervolmaak.

Met ‘n vorige Olimpiese Spele het Spanje nasionale eenheid probeer bevorder, deur Barcelona as die gasheerstad te gebruik. Barcelona is die hoofsetel van die Katalaanse minderheidsgroep, wat gedeeltelike selfbestuur het. En hoewel die Spaanse koning prominent aangebied is, en baie moeite gedoen is om dit as ‘n trotse Spaanse geleentheid aan te bied, het dit eerder ‘n as stimulus vir Katalaanse nasionalisme gedien.

Binnekort breek die Fifa-eindtoernooi in Suid-Afrika aan. Deur intensiewe reklame word ook hard gewerk aan die vestiging van ‘n nasionale gevoel. Al die eendjies is egter duidelik nie in ‘n ry nie. Juis nou verwys die Fifa-advertensie na gasheerstede wat erge emosies ontlok, soos Tshwane en Mangaung. Die RSG-advertensie sluit met ‘n Engelse slagspreuk af. Die Vrystaatse pleknamekomitee het juis nou gekies om die kwessie van plekname op die spits te dryf.

Iemand voel gewoon nie vry as daar om elke hoek en draai teen hom gediskrimineer word, sy kultuur vertrap word, en hy verkwalik word dat die son in die winter al hoe later opkom nie.

MarktФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.