Calvyn anderkant die kerk

Deel op

Die FWI (filosofie van die wetsidee) word soms onregmatig as deel van die neo-Calvinisme geklassifiseer. Onteenseglik is daar lyne wat terugloop na Johannes Calvyn en Abraham Kuyper. Die vader van die gesofistikeerde sistematiek van die FWI is Herman Dooyeweerd. Dooyeweerd het homself van die neo-Calvinistiese tradisies as bydraer daarin onderskei dat hy nie ‘n gekwalifiseerde teoloog is nie, maar ‘n juris en ‘n filosoof. Sy perspektief het dus nie, soos by baie neo-Calviniste, ‘n neiging om uitsonderlike status aan die  teologie en kerklike amptenary te gee nie.

Die implikasie hiervan is dat hy die reformatoriese nalatenskap van Luther en Calvyn besondere nuwe momentum kon gee. Daarmee word bedoel dat hy radikaal weggedoen het met die Roomse “middellaarskap” van die kerk vir die sogenaamde sekulêre instellings van bv. staat en besigheid. Die spirituele eenheid van die gemeenskap is nie meer te sentreer in die kerklike organisasies nie maar in die harte van die mense. Die Koninkryk van God is ook nie meer dieselfde as die kerk nie. Alle samelewingsinstellings kan nou as koninkryksdeelnemers beskou word. Daarteenoor het juis die mees Calvinistiese kerke maar ook vele ander erfgename van die Reformasie daarin volhard om onder etlike lae kosmetiek die posisie van kerk en teologie steeds met etlike voorregte te verskans. Dit het die kinders van die Reformasie baie van hulle vryheid ontneem.

Met hierdie illustrasie is die eerste belangrike bydrae van die FWI te sien: Dit bring as uitgangspunt ‘n neweskikkende verhouding van gelykheid tussen alle samelewingsinstellings. En hierdie uitgangspunt  word ook deurgevoer na die staat.  Die staat het soos die kerke en besighede ook‘n unieke taak. Vir die staat gaan dit eerstens oor die integrasie van die privaat en publieke reg en dan oor die handhawing daarvan. In die tradisies van staatsabsolutisme en t-otalitarisme is die sektorale spesialiteit van die staat as dienende instansie vreemd en word die res van die samelewing as staatsdepartemente beskou. Die FWI het instrumente wat hierdie rigtings kundig ontmasker as net nog ‘n ideologie wat wanneer dit die mag kry die daaglikse bedryf van vrye instellings in ‘n burgerlike samelewing domineer.

Die FWI het ook effektiewe instrumente om die beheersing van die samelewing deur monopolistiese besigheidskomplekse prinsipieel aan die kaak te stel.

Hierdie voorgenoemde drie bydraes van die FWI stoel aldrie op ‘n uitgangspunt dat die mens geneig is om afgode te vorm en sy ganse wese dan daaraan te verkoop. Die FWI se instrumentasie is daarop ingestel om die werkinge van die “fabriek van afgode” (Calvyn) te lokaliseer en normatief te neutraliseer. Sulke modern afgodiese tradisies bring net een resultaat en dit is dat sowel individue as gemeenskappe hulle vryheid verloor of verkoop. Die FWI het ten inslag om menslike vryheid tot hoogbloei te bring sodat die mens die beeldskap van God en rentmeesterlike heerskappy oor die skepping weer kan opneem (Gen 1:26-28). En hierdie vryheid is vreemd aan die fatalisme waaraan sekere interpretasies van die Bybel sigself skuldig maak.

Voorgenoemde laat natuurlik die vraag ontstaan of die strewe na vryheid vir die FWI maar net nog ‘n vorm van die liberalisme is. Eerstens is dit belangrik om te waardeer dat in die Bybel die idee van bevryding reeds lank voor die FWI baie radikaal beskrywe is. Dit is natuurlik ook moontlik dat baie mense in die liberale tradisies direk en indirek deur hierdie gemeenskaplike Bybelse erfenis beïnvloed is. En die FWI erken solidariteit met die probleemkomplekse wat deur alle rigtings aangespreek word, insluitende die verskillende skakerings van die liberalisme.

Dit is egter belangrik dat die kontras tussen die vryheidsidee in die FWI en dié in die liberalisme van nader bekyk word. Die vryheidsidee van die liberalisme het belangrike elemente wat dit vreemd maak aan dié van die FWI. Die eerste is dat die liberalisme ‘n byna oneindige vertroue in die kreatiwiteit van die menslike gees openbaar. Een van die belangrikste uitkomste hiervan is die sosialekontrakidee van Rousseau en andere. Daarvolgens word die staat as sodanig deur die individue geskep. Terwyl die FWI ook erkenning gee aan die reusekreatiwiteit van die mens, is een van die belangrike vertrekpunte in hierdie filosofie die aanvaarding van skeppingsgegewe strukture, ook vir die menslike samelewing. Die FWI se ontwikkelingsfilosofie gebruik die konsep van differensiasie om aan te dui hoedat in die historiese gang van die mensheid die samelewing al meer gedifferensieerd raak. Die stamverband van primitiewe gemeenskappe en die verkerkliking van die samelewing op baie plekke tydens die Middeleeue is voorbeelde van hoe gemeenskappe vasgeketting kan bly weens óf spirituele magte óf onkundigheid óf materiele gebrek.

Is hierdie differensiasie nie maar ‘n mooi woord vir die verbrokkeling van die samelewing nie? Die ander instrument wat die FWI gebruik vir die verstaan van dié komplekse realiteite is dié van kontinuïteit. As beginsel verseker die respektering van kontinuïteit dat die samelewing nie uiteen val nie maar slaag in die ontwikkeling van volhoubare gedifferensieerdheid.

Natuurlik is hierdie twee gegewe beginsels in die geskiedenis dikwels eensydig toegepas. Die liberalisme kan ‘n rewolusionêre pad inslaan deur slegs die differensiasie van die samelewing te propageer. Die konserwatisme is ewe onaanvaarbaar en gevaarlik omdit dit slegs die kontinuïteit in ‘n samelewing beklemtoon. ‘n Politieke beweging wat die FWI se instrumente en beginsels in ag neem sal daarom nooit prinsipieel ingetrek word om ‘n lewenskeuse tussen “links” en “regs” binne die politieke arena te maak nie.

Die vryheid van die liberalisme het natuurlik ook ‘n ander kant en dit is die oorbeklemtoning van die individualiteit soos in die sosialekontrakteorie. Hiervolgens word die individu altyd los gesien van die samelewingsinstellings. Meer oorspronklik: Dikwels hoor ons die stelling dat die individu al is wat werklik bestaan. Dit is natuurlik nie waar nie. Belangrike samelewingsinstellings kontinueer ondanks die kom en gaan van deelnemende individue. Die strukture vir samelewingsinstellings is dus net so werklik en oorspronklik soos die individue. Die individu en samelewing is dus saam gegee.

Om ‘n oorsig te bereik kan ons die volgende sê: Die een been van die humanisme is die liberalisme wat die differensiasie en individualiteit in ‘n vernietigingsorgie verabsoluteer. Die ander been verkondig die staatstotalitarisme en die fascisme. Hierdie wanhoopsopsies is eweneens vernietigend omdat dit die gedifferensieerde ontwikkelings weer platvee deur dit by die staat te integreer en so terug te beweeg na ‘n vroeëre primitiewe toestand.

Staatstotalitarisme word dikwels, maar nie noodwendig nie, gekoppel aan patriotisme en nasionalisme. Tog is dit belangrik dat Christene ‘n verantwoordelike beskouing oor patriotisme en nasionalisme handhaaf. Daar is ‘n sterk stroming uit die romantiese historisme wat die volksgemeenskap ‘n wet in sigself wil maak. Hierdie rigting misbruik die realiteit van tuisomgewings, liefde vir die eiesoortige en die eie. So word die uniekheid van die volkse heeltemaal oordryf in afgodsdrif. In die FWI word hierdie rigtings wat ‘n  sterk Duitse herkoms het eweneens afgewys net soos die individualisme. Die belangrikste rede is dat hierdie uniekheidstrewe die algemene wette wat God vir die samelewing gestel het, probeer relativeer. Die unieke word dus rede gemaak waarom algemene wette nie gehoorsaam hoef te word nie en so word die mens (die volk) sy eie wetgewer. In hierdie konteks verwerf die Latynse slagspreuk Vox populi vox Dei (Die stem van die volk is die stem van God) sinistere ondertone wat weer teruglei na die afgodiese gerigtheid van die menslike hart waarteen Calvyn en ander hulle verset het. In die FWI bereik die verset teen afgodery en die strewe na verantwoordelike vryheid ‘n nuwe fase.

Die sukses van die humanisme was dat die onderskeid tussen godsdienstig en sekulêr allerlei misleidende indrukke moontlik gemaak het. Een sodanige  indruk is dat godsdiens beperk is tot dít wat tradisionele kerke doen. Daarmee word die res van die samelewing kamma sekulêr of neutraal. Maar soos ook die Marxisme aangetoon het, is dit ‘n illusie. Ideologie, sê die FWI, is radikaal religieus net soos die godsdiens van die tradisionele kerke. Die ganse samelewing het altyd ‘n radikaal religieuse momentum en dit is een van die hooffukuspunte van die FWI.

Daar sal in hierdie kort oorsig met die volgende afgesluit word: Die FWI dui eerstens die skeppingsgegewe wetmatighede aan as grondslag vir menslike vryheid. ‘n Egte vrye samelewing munt juis daarin uit dat dit die noodsaaklikheid van ‘n verskeidenheid neweskikkende samelewingsverbande binne ‘n gemeenskaplike gebied verstaan. Tweedens: Die FWI artikuleer sigself duidelik naas ander Christelike benaderings deurdat dit die tradisionele grens tussen sekulêr en heilig op ‘n radikale wyse ontken maar op so ‘n wyse dat a) die spiritualiteit van die mens op ‘n omvattende wyse sigbaar word en b) die teenwoordigheid van Gods skeppingswet in die skepping so wyd soos die skepping self word.

Vir enigeen wat die bydraes van die FWI op ‘n meer tegniese wyse wil ondersoek word die volgende webtuistes as beginpunte aangedui:

Dr Cronje is ‘n konsultant wat as ‘n stokperdjie die gebeure in die FWI-omgewing volg.

86 уЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.