Nasiebouer of vryheidsoeker?

Deel op

Die ondenkbare is besig om te gebeur. Die gedrukte media noem dit die verregsing van Afrikaners, oftewel ‘n migrasie na die regterkant van die politieke spektrum. Dit is die einde van Afrikaners se deelname aan die ANC se nasiebouproses. Die sokkerwêreldbeker sal geen verskil aan hierdie fenomeen maak nie.

Polarisasie tussen die rassegroepe is ‘n werklikheid. Daar het egter ook ‘n sterk polarisasie binne Afrikanergeledere ontstaan. Dit is dié tussen die nasiebouers, oftewel diegene wat binne die ANC-oorheerste politieke stelsel wil bly, en wat glo dat ‘n Westerse liberaal-demokratiese bestel wel deur die huidige kleptokrasie bestuur sal kan word. Dan is daar die vryheidsoekers wat nie onder dieselfde vlag as die ANC-ideoloë en hul populistiese ondersteuners wil bly nie  Vryheidsoekers weier om veel langer dieselfde vlag, grondwet of volkslied met ANC-simpatiseerders te deel of om langer die grusame moorde op onskuldige mans, vrouens en kinders te duld.

‘n Nuwe politieke stryd tussen die nasiebouers en vryheidsoekers het dus ontstaan.

Sommige waarnemers sal wil beweer dat dit die historiese kloof tussen die verkramptes en verligtes is wat weer manifesteer.

Ander sal weer volhou dat hierdie polarisasie nog altyd latent was sedert die Anglo-Boereoorlog en nou weer na vore kom.

‘n Derde groep sal beweer dat Julius Malema se gedrag en uitsprake asook ET se dood vir hierdie polarisasie verantwoordelik is.

‘n Laaste groep sal beweer dat die beskawingsbotsing tussen wit en swart nou besig is om uit te woed en dat die grondoorsake veel dieper lê as bogenoemde redes; wat hulle as snellermeganismes vir polarisasie beskou.

In die hedendaagse konteks was die oorgrote meerderheid blankes voor 1994 nog regs, ja selfs die NP-ondersteuners. (Lees weer my artikel Om regs of verregs te wees om die generiese omskrywing van die term binne die regte konteks te verstaan.)

Maar tydens die Mandela-tydvak was daar ‘n sigbare migrasie na links, weg van die beskerming van eiebelang, na die belange van die NSA-nasie en die land as geheel. Dit was verantwoordelik vir die opkoms van die DA, self ‘n liberale party, met ‘n lang linkse geskiedenis.

Ná 1994 het baie blankes hulself as entoesiastiese nasiebouers beskou. Diegene wat die hasepad na oorsese lande gekies het, het nie kans gesien vir die nasiebouproses nie, maar het terselfdertyd ook nie geglo aan die haalbaarheid van vryheid vir Afrikaners binne die nuwe ANC-oorheerste “kleptokrasie” nie.

Begin mens om te delf na oorsake waarom die nasiebouers al hoe minder raak en die vryheidsoekers al hoe meer, kom jy by die punt waar jy moet erken dat die Afrikaners inderdaad uit twee hoofgroepe bestaan, nl. die etniesgesinde Afrikaners en die nasiebou-Afrikaners.  Na gelang van die politieke gebeure in die land ossileer die groepe tussen die twee pole.

Die migrasie na regs kan nie net toegeskryf word aan die geskiedkundige gom van godsdiens, taal en kultuur nie, maar waarskynlik eerder aan oorlewingsopsies wat al minder raak. ‘n Natuurlike aansluiting vind dus plaas by die tradisionaliste, oftewel die historiese Boere-Afrikanergemeenskap wat dieselfde onderliggende weersin in die beskawingsbotsing beleef.

Nou waarom is alle Afrikaners dan nie vryheidsgesind nie? Waarom is hulle dan nie etniesgesind nie en verkies hulle om Suid-Afrikaners te wees?

Daar moet in gedagte gehou word dat duisende Afrikaners ten brode van die staat of sy instellings afhanklik is. ‘n Sigbare afwysing van hul nuwe base sal dus hul loopbane benadeel. Heimlik is baie van hulle waarskynlik reeds besig om te verregs.

Dan is daar nog die stoere De Klerk-aanhangers wat uit historiese lojaliteit  glo dat die nuwe bestel sal werk of gemaak kan word dat dit kan werk. Hierdie groep krimp waarskynlik by die dag.

Vir die vryheidsoekers sal dit betaamlik wees om hierdie beweging na regs te verstaan en akkommoderend te bestuur. Dit sal betaamlik wees om die verlore Afrikanerseuns en – dogters weer binne die laer te verwelkom.

In die verlede het die media smalend na die sogenaamde laertrekmentaliteit as isolasionisme verwys, byna asof dit ‘n refleksbeweging van ‘n sterwende groepie is. Vandag bespeur mens egter weer ‘n sterk opwelling van daardie mentaliteit, maar hierdie keer as ‘n noodsaaklike oorlewingsmeganisme.

Die stryd het dus veel groter geword as ‘n stryd om net bepaalde ideologieë te ondersteun. Die stryd begin nou fisiese dimensies aanneem, waarvoor vryheidsgesinde Afrikaners hulle moet voorberei.

Die eerste stap is om bymekaar te maak wat bymekaar hoort. Dit is die totstandkoming van ‘n gesagsowerheid vir etniesgesinde Afrikaners.  Daarsonder kan en sal daar geen vordering na vryheid wees nie.  Ons kan nie net staatmaak op die beskerming wat Solidariteit of Afriforum ons in die howe bied nie.  Buiendien is hul hande gebind deur hul eie ledekorps se belange en hul eie grondwet en beleid.

Die terrein waarop beweeg moet word, strek veel verder as net dit. Die gesagsowerheid moet ‘n volk verteenwoordig by bilaterale gesprekke met die staat en die buiteland.

Daarmee moet daar nie langer gesloer word nie.

абажур с гималайской солью для баниФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.