Einde van België?

Deel op

Liberale aan weerskante van die taalverdeling word geblameer vir die jongste krisis van die Belgiese regering. Die Belgiese premier, Ywes Leterne, van die Vlaamse Christen-demokratiese Party (CD & V), het sy regering se bedanking by koning Albert II aangebied.

Die CD & V het ‘n spesiale, kort verklaring uitreik om te verduidelik dat dié party alles in sy vermoë gedoen het om die leisels met onderhandelinge bymekaar te hou, maar dat die liberale dit onmoontlik gemaak het.

Die twis hou verband met die taalstryd in die omgewing van Brussel, die tweetalige hoofstad.

‘n Vlaamse nasionalistiese party, Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA),  is op die oomblik besig om in peilings veld te wen. Die leier, Bart De Wever, verwys al ‘n geruime tyd na België as staat as iets van die verlede. Volgens hom bestaan België nog net in naam.

Wever, wat met ‘n Nederlandse vrou getroud is, voorsien egter nie dat ‘n onafhanklike Vlaamse staat by Nederland sal aansluit nie.

Terwyl verwag sal word dat baie, veral Franstaliges, hard sal veg om België as staat te laat voortbestaan aangesien die welvarender Vlaandere die Franstalige Wallonië jaarliks met miljarde Euro’s subsidieer, is dit duidelik dat die Franstalige liberale hul eie saak nou geen guns bewys het nie.

Die Vlaminge se draad is skynbaar op met die platsak Walloniërs se meerderwaardige ingesteldheid.

Indien die regering se bedanking aanvaar word, beteken dit dat Nederland en België se regerings kort na mekaar tot ‘n val gekom het. Die redes waarom dit gebeur het is egter heeltemal verskillend. In Nederland het die voortgesette teenwoordigheid in Afganistan as deel van die Navo-magte die Partij van de Arbeid uit die regering laat stap.

Indien dit sou blyk dat België nou as staat gaan ophou bestaan, kan dit egter skielik ‘n groot invloed op die Nederlandse verkiesing hê. Hoewel die kwessie van eenwording met Vlaandere in die Nederlandse nasionale politiek nie ‘n sterk saak is nie, is provinsies soos Limburg en Brabant met die totstandkoming van Nederland en België ongeveer middeldeur gesny. Die inwoners van hierdie provinsies met hul eie dialekte het volgens sommige bronne sterker bande met hul provinsiale bure oorkant die nasionale grens as met hul nasionale regerings.

Dit kan skielik ‘n kwessie word.

дизайн баниФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.