Skrik vir die waarheid

Deel op

Gister reik ‘n klein politieke party ‘n nuusverklaring uit waarin ontsteltenis uitgespreek word oor die meer as 700 mense wat sedert Eugene Terre’Blanche se moord, reeds in Suid-Afrika vermoor is, en skaars ‘n rimpeling veroorsaak het.

Die verklaring was skaars uit, of ‘n groot nuusverspreidingsinstansie bel die partyleier verbaas om te verneem waar dié syfer bekom is.

Die antwoord is doodgewoon dat die polisie se statistieke gebruik is om die berekening te doen. Daar was g’n sensasionele bedoeling of opgeblase feite nie.

Die hartseer is dat die syfer moontlik hoër kan wees, aangesien verskeie instansies, soos die Mediese Navorsingsraad, meen die polisie se syfers is laer as die werklikheid.

Die verdere hartseer is dat selfs mense wat daagliks met moordsyfers werk, geskok is as die daaglikse moordsyfer van bietjie meer as vyftig per dag vir ‘n paar weke bymekaar getel word.

Op dieselfde dag het ANC in die parlement die skuld vir plaasaanvalle op die boere geplaas. Hier is egter wild met syfers omgegaan. Soos een dit uitgedruk het – die boere – eintlik ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking – maak ‘n groot bohaai as ‘n boer of sy gesinslede vermoor of aangerand word, maar daar is geen ophef as ‘n werker vir leeus gevoer word nie.

Hoe lyk die werklikheid? Volgens Agri SA se statistieke wat tot die jongste ANC-reaksie gelei het is 1 804 boere die afgelope 18 jaar in 11 785 plaasaanvalle vermoor. Ander instansies skat die syfer nader aan 3 000 sedert 1994. Nie almal wat tydens plaasaanvalle vermoor is, was immers die boer nie. Verskeie gevalle het voorgekom waar dit die boervrou was, of kinders, of soms meer lede van dieselfde gesin.

Hoeveel plaaswerkers is in dieselfde tyd vir leeus gevoer? Die geval waarna verwys word is vermoedelik die geval waar na appèl bevind is die plaaswerker was reeds dood toe die blanke – ‘n deeltydse boer – gehelp het om die lyk vir leeus te voer. Daar is geen aanduiding dat die man teenwoordig was toe die oorledene dood is nie. Tydens die aanvanklike verhoor was daar daagliks groot betogings, en reuse mediadekking deur die SABC. Om te sê daar was geen ophef nie, is gewoon ‘n leuen.

Dit neem nie weg dat daar wel boere is wie se optrede skietgoed verskaf aan politici wat die boere as die skurke van die verhaal wil maak nie. Die enkele verhore wat voortspruit word wel deeglik deur georkestreerde betogings goed onder die aandag gebring.

Al die landbou-unies is gevoelig hieroor, en almal wend pogings aan om dit te probeer voorkom. Agri Wes-Kaap, wat weens uitvoere baie afhanklik van buitelandse menings is, het met die Wes-Kaapse Landboudepartement, toe nog deur die ANC beheer, saamgewerk om die gevalle op te spoor en behoorlik te ondersoek. In ses maande is meer as 80 beweerde gevalle ondersoek, drie het in die hof beland, en selfs die gevalle wat hof toe gegaan het is as mites uitgewys. Die werklike probleem is dat ‘n rits Nie-regeringsorganisasies bestaan wat geld ontvang, onder meer van Cosatu, maar ook uit die buiteland, om sulke gevalle te soek, en dan om te kan bestaan, blykbaar dikwels fabriseer. ‘n Bekende geval was dié waarop die destydse minister, Lulu Xinwana, haar mond so op Kerkplein uitgespoel is. Toe dit blyk die Onafhanklike Klagtedirektoraat het dit as ‘n gekookte spulletjie uitgewys, het dit boonop aan die lig gekom dié verslag is ses maande tevore reeds aan die regering oorhandig.

Ook ‘n vorige Vrystaatse premier, Winkie Direko, het ‘n peperduur ondersoek laat doen, met groot fanfare in die Bloemfonteinse stadsaal waarheen mense op staatskoste van heinde en verre aangery is. Toe dié ondersoek dadels oplewer, is die verslag nooit bekend gemaak nie.

Hierdie ondersoek was moontlik ‘n aksie om haar politieke lewe te red na sy by die bekendstelling van die laaste sensus wêreldwyd die nuus gehaal het, toe sy na ‘n besoek aan die toneel van ‘n plaasaanval by Senekal gesê het die polisie moet plaasmoordenaars skiet voor hulle toegesluit word. Sy het dit later ontken.

(Die uwe was teenwoordig en kan bevestig dat sy dit wel gesê het).

Hoe erg is plaasmoorde werklik?

Die Suid-Afrikaanse moordkoers wat die ontsteltenis veroorsaak het van meer as 700 moorde sedert die moord op Eugene Terre’Blanche, is volgens die polisie se statistieke ‘n koers van ongeveer 40 per 100 000 per jaar. Die wêreldkoers is 5 per 100 000 per jaar. Die moordkoers van bruin mans in die Wes-Kaap, 90 per 100 000 per jaar, is amptelik die hoogste koers vir ‘n identifiseerbare groep in die wêreld. Dit word grootliks aan bendebedrywighede toegeskryf.

Interpol bereken egter die moordkoers onder boere in Suid-Afrika in die orde van 300 per jaar. Dat daar skynbaar minder boere vermoor word, is te danke daaraan dat daar nie naastenby ‘n 100 000 kommersiële boere in Suid-Afrika is nie. Dit neem egter niks weg van die feit dat dit geen roem vir Suid-Afrika is om met die onderskeiding spog dat dit die titel van die wêreld se moord-hoofsetel by sy bestaande titel van die wêreld se verkragtinghoofsetel gevoeg het nie. Boonop staan die hoogste en tweede hoogste syfers vir identifiseerbare groepe ook agter Suid-Afrika se naam.

En die ANC blameer die boere.

Waarskynlik moet die mense wat in veiligheidskomplekse vermoor, en hul gesinslede verkrag word, ook die rede by hulself soek.

Dit is skandalig.

play games online free without downloading nowtopcargo кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.