Julius se geheimsinnige tugverhoor

Deel op

Ja, en toe ruk praag.co.za se spannetjie op na die ANC-perskonferensie in Luthuli-huis oor Malema se geheimsinnige tugverhoor wat “intern” gaan geskied en waaroor ‘n gesette, bebrilde Thandi Modise, ANC-adjunk-sekerataris-generaal, geen woord wou rep nie.

Wee die middestad van Johannesburg. Vuil, vervalle, ‘n skadu van sy vorige self en waar jy R20 vir parkeerplek in ‘n gebou sonder elektrisiteit betaal aan ‘n nie-amptelike wag wat die bewaker by die ENB-gebou oorkant die staat vir jou “reël”.

Luthuli-huis is baie geel, die agtergrond van die ANC-vlag wat mens oral teen die mure en op baniere aantref. Die sekuriteit is nie waffers nie. Trouens, ‘n Malema-ondersteuner weier na afloop om sy sakkie deur die X-straalmasjien te sit sodat daar byna ‘n geveg in die voorportaal ontstaan. Maar meer daaroor later.

Ons is effe laat en die mediakonferensie is reeds aan die gang. In die ANC se mediaverklaring staan onder die amusante hofie “Oor mynnasionaliseringstudietoere” die volgende: “Die ANC-jeugliga het die ANC ingelig oor hul studietoere na verskeie lande om verskeie nasionaliseringsmodelle te bestudeer. Die ANC respekteer die reg van die Jeugliga om nuwe kennis in te win tydens die proses van ‘n perspektief op die nasionalisering van mye te formuleer.”

Nou wonder ‘n mens hoe word dié lakoniese frase op die plaaslike en Londense aandelebeurse verstaan? Die BBC-man – nie Jonah Fisher wat laas uitgejaag is nie, maar ‘n plaasvervanger want op Facebook het Fisher my laat weet hy is met verlof – brom oor die bekommernisse van buitelandse beleggers tydens sy vraagbeurt. Nee wat, antwoord Thandi Modise, buitelandse beleggers behoort nie deur sulke studietoere afgeskrik te word nie.

Daar is heelwat vrae oor die aard van die dissiplinêre verhoor, maar sowat van ‘n staatsgeheim was daar sedert die presiese ligging van die land se kernbomme onder PW Botha nog nie in die land gewees nie. Die frase “interne aangeleentheid wat nie met die media bespreek sal word nie”, word oor en oor herhaal. Ek staan reg agter die kameramanne van die SAUK en e-tv, links van my die Britse kontingent van die BBC en die Londense Guardian. Ek het geen kamera saamgebring nie, maar neem sommer ‘n foto of twee van die figure voor hul geel en groen uitspansel met my selfoon.

Tydens die tweede rondte kry die uwe kans vir ‘n vraag. “Dan Roodt van praag.co.za.” Daar is ‘n effense beroering in die saal, dog ek gaan voort: “Daar word vermeld in u persverklaring dat die nasionalisering van myne ‘n legitieme studieveld by die ANC-jeugliga is. Maar mnr. Malema het so onlangs as verlede naweek ook taamlik radikale uitsprake oor grondbesit in die land gemaak en gemeen dat die huidige grondbesitters almal ’buitelanders’ sou wees. Hy het ook gesê dat stemreg niks beteken as dit nie tot die oordrag van grond lei nie. My vraag is dus: Verteenwoordig metodes van grondnasionalisering of radikale grondhervorming soos in Zimbabwe ook ‘n ‘legitieme studieveld’ vir die ANC-jeugliga en dalk vir u party?”

Dis nogal heel oulik hoe elke vraag genotuleer word en na so drie, vier vrae sorgvuldig beantwoord word, sy dit dan in vae, ontwykende terme.

Die antwoord op my vraag deur Thandi Modise van onder haar kopdoek is: “Die ANC-jeugliga beskik, net soos die res van die ANC-strukture (“straktjas” in die Rooitaal) soos die Vroueliga of die Umkhonto-veterane-assosiase, oor outonomie. Die liggaam bepaal sy eie beleid en standpunte. Daar is niks mee verkeerd om uit te gaan en kennis (oor nasionalisering) op te doen nie. Daar is ook niks fout met debat nie. Dit is wat die president in die parlement gesê het: dat die publiek met Malema in debat oor hierdie kwessies behoort te tree.

“Wat die grondkwessie betref, oral in Suid-Afrika praat mense oor grond. Die ANC sal nie die weg van ‘n Zim-grondgryp inslaan nie. Maar terselfdertyd moet die grondbehoeftes van ander rasse” – ja, sy gebruik die terme “rasse”, dus is ras geen “sosiale konstruk” hier by Luthuli-huis nie – “in ag geneem word. Ons het al male sonder tal gewaarsku dat, indien daar nie herverpsreiding van grond plaasvind nie, daar wel ‘n Zimbabwe sal gebeur.”

Dus: grondgryp is nie amptelike beleid nie, maar iewers op die horison loer dit tog vir ons, indien bepaalde persentasies grond nie aan “die ander rasse” oorgedra word nie.

‘n Swart joernalis in die voorste ry wie se naam ek nie registreer nie, vra ‘n vraag oor die gewraakte “Dubula ibhunu”-liedjie wat telkens deur Malema gesing is. Dit ontlok ‘n interessante ekskursie in die musikologie en die semantiek deur madame Thandi Modise (ja, onder aan die ANC-mediavrystelling teken sy haar naam op’t Frans as “Mme Thandi Modise”). Volgens haar vind ‘n mens die betekenis van ‘n swart liedjie in die eerste twee tot drie reëls. Die frase “dubulu ibhunu” (“skiet die Afrikaners”) kom eers aan die einde, tydens die refrein, voor. Daarom behoort dit nie so ernstig opgeneem te word nie.

Die ANC stem nie saam met die hofuitspraak dat die liedjie “Skiet die Afrikaners” haatspraak verteenwoordig en dus verbied behoort te word nie. Nietemin sal die party die hofuitspraak respekteer. “Kyk, dis soos ‘n “Slegs blankes”-bordjie by die Robbeneilandmuseum,” gaan sy voort. “Ons kan nie voorgee dat daar nie sulke bordjies bestaan het nie. Ons kan ook nie voorgee dat daar nie liedjies soos ‘Skiet die boere’ gesing is nie. Dis deel van ons geskiedenis. Ons kan ook nie voorgee dat die Pondo’s nie teen die blanke owerheid in opstand gekom het nie. Of dat die Britte nie Afrikanervroue en -kinders by Klerksdorp aangehou het waar baie gesterf het nie,” laasgenoemde synde ‘n sydelingse verwysing na die Britse konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog. Ten slotte sê Modise: “Ons besef egter dat hierdie deel van ons geskiedenis met omsigtigheid gehanteer moet word en dat sulke liedjies nie gebruik moet word om verdeeldheid en rassegevoelens te saai nie.”

Daar is ook ‘n sterk gevoel by die ANC dat die media “sonder integriteit optree en die president teen die Jeugligapresident afspeel”. In die vertrek op die elfde vloer heers ‘n gespanne atmosfeer tussen die versameling laegraadse woordverwerkers (joernaliste), kameramanne en die ANC-verteenwoordigers. Dis amper soos ‘n hofsaak tussen twee vyandige partye wat hom voor jou afspeel. Die ANC is lank nie meer die liefling van die Suid-Afrikaanse pers of selfs van die buitelandse pers nie.

Voor die einde van die mediakonferensie vertrek ons. Onder in die gebou gekom, moet ek vinnig gaan geld trek om my swartmarkparkering in die donker gebou te bekostig. ‘n Lang, skraal swart met ‘n rooi hemp onder ‘n baadjie kom by die voordeur ingewandel met ‘n sakkie by hom waarin maklik ‘n vuurwapen versteek kon word. Hy weier egter om die sakkie deur die x-straalmasjien te laat gaan, asof hy iets het om weg te steek. ‘n Woordewisseling met die veiligheidswagte onstaan.

Woerts, spring ‘n gelerige swart vrou van die rusbank onder die geel muurversiering in die ingangsportaal neffens die hysbakke op en bars uit. “Jou stuk gemors, voetsek! Jou stuk gemors, voetsek!” Sy skree die woorde oor en oor. Dit blyk dat die skraal swart man met die rooi hemp ‘n Malema-ondersteuner is. “Malema is magtig!” snou hy haar toe. “Hy gaan president word!” Die dosyn of wat swartes wat in die ingangsportaal rondgemaal of -gesit het, vorm nou skielik twee vyandige groepe wat opgewonde babbel en skree. Hulle gluur mekaar aan asof daar enige oomblik geweld gaan uitbreek. Dan gee die man met die rooi hemp in en laat sy sakkie deur die x-straalmasjien ondersoek. Geen wapen nie.

Hy gaan haal die hysbak. Blykbaar is sy held, Malema, iewers in die gebou in sy kantoor. Hy het egter nie die mediakonferensie bygewoon en die trop joernaliste getrotseer nie.

Te oordeel aan die insident in die ingangsportaal loop gevoelens in Luthuli-huis tussen die verskillende faksies nogal hoog. Iets laat my dink dat hoe meer die spanning in die ANC tussen die “volwasse” party onder Zuma en die jeugliga onder Malema gaan verhoog, hoe minder gaan die verklarings wat die party uitreik enige sin maak.

Spanning vernietig die sin van dinge, dink ek by myself as ek nie sonder ‘n sekere haas die vervalle middestad van Johannesburg verlaat nie. Miskien is dit die semantiese les wat Thandi Modise in haar ontleding van die “Skiet die Afrikaners”-liedjie aan ons wou oordra. ‘n Franse frase uit ‘n vergete boek van Jean Baudrillard skiet my te binne, wat sou kon vertaal, iets in die trant van: “Die innerlike nag van sy brein.”

In hierdie dolle land en dolle tyd met die geweldige spanning waaronder ons almal verkeer, heers daar ‘n innerlike duisternis by baie wat ons beswaarlik nog met ons woorde kan verklaar of kan besweer.машина для дітейтопкарго отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.