Die pen is magtiger….

Deel op

Vir meer as ‘n eeu het koerante die reputasie gestand gedoen van die pen wat magtiger as die swaard is.

NUUT!
Selfs magtige mense, soos regters, wat in ‘n konfrontasie met koerante betrokke geraak het, het geleer ‘n mens kruis nie swaarde met hulle wat ink by die dromme aankoop nie.

Koerante, en in die besonder onverbonde koerante, se vermoë om korrupsie in die regering bloot te lê, het aan hierdie medium die reputasie van ‘n onlosmaaklike deel van die demokrasie besorg, en word in Europa dikwels as die vierde, weliswaar nie-amptelike, been van demokrasie beskou. Die ander is die wetgewende, die uitvoerende en die regterlike gesag.

Al het die uitsaaiwese op die toneel verskyn, het dit nog selde in die wêreld die rol van ‘n vrye pers kon inneem, omdat owerhede gewoonlik die golflengtes beheer. In Suid-Afrika geskied dit via ‘n liggaam wat veronderstel is om onafhanklik te wees, maar wat deur die regering aangestel is en wetgewing moet uitvoer wat deur die regering ingestel is. Stasies wat werklik onafhanklik probeer wees, soos Radio Pretoria, moet by voorbaat weet hulle moet ook die paadjie howe toe snuif trap om op die lug te bly.

Presies hoe die politieke klimaat teen ‘n vrye radiowese gelaai is, blyk uit die hegte vriendskap wat Suid-Afrika handhaaf met die Venezuelaanse president, Hugo Chavez, wat die onafhanklike radiostasies gesluit, en met die luggolwe se ekwivalent van lyfblaaie vervang het.

Vandag in Volksblad besing Beeld se redakteur, Tim du Plessis, die rol wat ‘n vrye en robuuste pers in Argentinië speel om korrupsie in regeringsgeledere bloot te lê. Hy tref dan vergelykings tussen die Argentynse en Suid-Afrikaanse pers.

Daar is inderdaad vergelykings, veral as dit kom by die jag maak op omstrede optredes van die regering.

Daar is egter ook radikale verskille.

Die redaksionele aanslag waaraan die lesers van Afrikaanse en Engelstalige koerante blootgestel word, verskil baie. Breedweg kan gestel word dat beide ‘n besondere persepsiewêreld voed. Oppervlakkig gestel, die een voed die rugbygemeenskap, die ander ‘n sokkergemeenskap. In laasgenoemde kom rugby bykans net ter sprake wanneer kritiek uitgespreek word oor die stadige pas van transformasie in rugby, sonder om self ‘n bydrae daartoe te lewer.

Die gevolg, weer eens breedweg beskou, is dat wit en swart met verskillende persepsies van die werklikheid opgesaal sit. Dit was veral verstommend duidelik in die tyd toe pres. Thabo Mbeki nog regeringshoof was. ‘n Saak sou lank woes in die Afrikaanse pers woed, en wanneer die president uiteindelik ‘n besoek aan die parlement tydens ‘n blits-ampsbesoek aan Suid-Afrika ingepas kon kry, en met vrae hieroor gepeper word, hy antwoord dat hy van die saak onbewus was.

Tim was ook die man wat die nuus gebreek het dat swart redakteurs skei gebreek het deur politieke korrektheid vaarwel toe te roep. Wit redakteurs het gevolg, en skielik het die Mbeki-doktriniste wat op ‘n streep die publiek probeer wys maak het hoe briljante Mbeki se onverstaanbare optredes en uitsprake was,  soos mis voor die son verdwyn.

Tim het die swart redakteurs selfs by die naam gelys toe hy hulle geloof het.

Kort na pres. Jacob Zuma se bewindsaanvaarding het van dieselfde name egter saam met dié van negrofiliste soos dr. Nico Smith verskyn wat wit mense gewaarsku het om swart mense nie so te kritiseer nie, omdat dit tot ‘n bloedbad kan lei. Dit het die indruk gelaat dat die swart redakteurs minder oor persvryheid gepla was as dat hulle deel was van ‘n veldtog om van Mbeki ontslae te raak en met Zuma te vervang.

Nou kom Zuma gereeld in die Engelstalige pers aan die beurt wanneer die teerkwas ingespan word, terwyl hy nog so onlangs as met sy jongste huwelik meestal vuriglik verdedig is.

Die Mail & Guardian het egter ‘n welkome afwisseling op die veralgemeende reël verskaf.

Die Suid-Afrikaanse pers, en in die besonder die Afrikaanse pers, het egter ook ander belangrike dimensies.

Formeel redaksioneel onafhanklik, het die Volksblad na dit tydens ‘n Kovsie-studenteraadsverkiesing van partydigheid beskuldig is, sy eie redaksionele beleid gestel, en afgesluit deur te meld dat enige party wat dit ook aanvaar, verdien om redaksioneel ondersteun te word. Hoewel dit geïmpliseer het dat die Volksblad hierdeur as lyfblad van die DA inval, het die koerant, waarskynlik meer as die ander Naspers-koerante, ook ruimte vir ander partye gelaat.

In die geval van Die Burger was mense met sterk “struggle credentials” sterk in die topredaksie verteenwoordig, miskien minder opvallend omdat dit hoofsaaklik in ‘n provinsie versprei waar die ANC nie die septer swaai nie.

Rapport het onder die nuwe redakteur baie na-aan ‘n redaksionele aflaaiplek van Max du Preez geword.

Tim du Plessis se redakteurskap is vanuit die staanspoor deur ‘n groter mate van onafhanklikheid en selfs rigtinggewendheid gekenmerk. Sy bestuurstyl en lojaliteit aan sy mense laat ruimte dat mense wie se standpunte op die oog af baie van syne verskil, ook ruim in rubrieke weerspieël word. Hy het mettertyd in sy onafhanklikheid gegroei, en sy veral vroulike kollegas se lieflingkind, Max, reeds goed die kop gewas.

Tim was ook gou om te besef dat, soos hy dit destyds gestel het, die alewige blogs, inligting in so ‘n mate by die gedrukte media verbyvoer, dat koerante wat om ideologiese redes inligting van lesers weerhou, bloot hul eie geloofwaardigheid aantas. Sedert hierdie waarneming het die verskynsel net gegroei, en neem hand oor hand skerp toe.

Nogtans is sommige Suid-Afrikaanse partye, ironies, meer van die radiowese afhanklik om hul boodskap uit te kry as die sogenaamd onverbonde Afrikaanse koerante. Selfs die Engelstalige koerante, en ironies die oorsese pers, gee meer dekking aan hierdie koerante wat in effek maar DA-verkneg is.

Onder die woernale wat sterk groei, is dié van Praag, en wat boonop na die moord op mnr. Eugene Terre’Blance, uit sy nate bars.

Die internet het ‘n vryheid gegee aan mense wie se oortuigings tot dusver deur hoofsaaklik die sensuur van politieke korrektheid gesmoor is. Dit blyk ook uit die gedrukte koerante se aanlyn-leserskommentare. Hierdie kommentare word boonop redaksioneel gekeur, en ‘n mens kan maar net wonder hoeveel word nie geplaas nie.

Hierdie aanlyn-reaksies is baie dikwels uiters ongenaakbaar met naïewe rubriekskrywers. Persepsies wat voorheen deur politiek-korrekte sensuur feite geword het, word nou op ‘n streep as mites afgemaak, en van die rubriekskrywers word ontsenu omdat hul ganse verwysingsraamwerk as mites bewys word. Die Afrikaanse rubriekskrywers wat nog waag om na die Suid-Afrikaanse grondwet as ‘n soort evangelie verwys, word algaande minder, aangesien hulle oor geloofwaardigheid sensitief is.

Dit neem egter min weg van die feit dat Suid-Afrika, wat mediablootstelling betref, uniek is en bly. Aan die een kant word Afrikaanssprekende lesers, veral die groeiende persentasie wat toegang tot die internet het, nou aan ‘n heel nuwe stel feite blootgestel.

Aan die ander kant is daar ‘n groot deel van die hoofsaaklik swart bevolking wat min toegang tot geskrewe media het, en nog minder tot die internet, of dit wat Afrikaanssprekendes in Afrikaans plaas. ‘n Groot deel se inligtingsvoer oor dit wat in die land en die wêreld aangaan is via die SABC of openbare politieke vergaderings waar die politici as sprekers optree.

En daardie verskille waaraan verskillende mense in Suid-Afrika blootgestel word, is ontsettend groot.

En dan is daar diegene wat verbaas is dat polarisasie plaasvind. Die toetsbord is magtiger as die pen.  

free play onlineФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.