Om regs of verregs te wees

Deel op

In die jare wat voorlê gaan ons nog baie hoor van regs en verregs, soos wat ons van pienkes en linkses tydens die vorige bedeling gehoor het.

Maar wat beteken die terme en waar kom dit vandaan? Waarvoor staan regse politiek en linkse politiek? Is die een goed en die ander sleg?

In die geskiedenis het die terme regs en links bepaalde unieke politieke nuanses in verskillende lande verwerf. In Suid-Afrika het hierdie terme ook ‘n rassekonnotasie bygekry. Vir die man op straat is regs ‘n sinoniem vir anti-swart, en links vir pro-kommunisties. Dit is ‘n vervlakking van die begrip aangesien enige geldige begrip ‘n teenoorgestelde benodig om te kan bestaan, soos dag en nag, lig en donker, reg en verkeerd, ryk en arm, ens. Anti-swart is beslis nie die teenoorgestelde van pro-kommunisties nie. Die persepsies van regs en links het dus fundamenteel verkeerd in Suid-Afrika posgevat.

In die moderne internasionale politieke retoriek verkondig linksgesindes dat die regses die belange van die adelstand en die hoër middelklas asook individualisme ondersteun. Die regsgesindes beskuldig die linkses weer dat hulle kollektivisme en sosialisme najaag.

In Wes-Europa, waar die terme hul oorsprong het, is daardie begrippe sosialestandgedrewe. Die linkses soek sosiale geregtigheid deur ekonomiese ingryping deur die staat om die samelewing te herorden. Die regses wil privaateiendom en kapitalisme verdedig. Hulle staan skepties teenoor die sukses van die radikale omvormingsplanne wat die linkses op die samelewing afdwing. Regses glo dat dit die ekonomie sal skaad en die invloed van die kerk sal verminder. Hulle glo ook in sterk politieke leierskap wat outomaties die groot standverskille tussen mense sal bylê.

Hierdie siening word egter deur die linkerkant vertolk as ‘n neiging tot outoritêre optrede en maatskaplike verdrukking.

In sy boek getiteld ‘Die Web van die Staat’ (1947) skryf die sosioloog Robert M. MacIver: “Die konserwatiewe regses word altyd geassosieer met die belange van die aristokrasie, die hiërargie deur geboorte of rykdom; die linkses weer veg vir gelyke geleenthede asook vir die eise van die minderbevoorregtes.”

Konserwatiewes beywer hulle derhalwe vir die behoud van die historiese sosiale orde en tradisionele waardes en word aan hul volksnasionalisme uitgeken. Nasionalisme was oorspronklik ‘n republikeinse of linkse ideologie in Frankryk, maar het uiteindelik die hoofeienskap van die regtervleuel geword, veral in die vorm van etniese of kulturele nasionalisme. Laasgenoemde poog om die erfenisse en waardestelsels van vorige geslagte te bewaar.

Op ekonomiese gebied is daar genoeg boeke daaroor geskryf om ‘n skip te laat sink. Die Bolsjewistiese rewolusie en daaropvolgende oorloë is direk aan linkse denke toe te skryf en die politiek van vandag probeer ‘n goue middeweg tussen regs en links vind. Kirk Russel, een van die groot kanonne van die Amerikaanse konserwatiewes, beweer dat regsgesindes die klem op gelyke geleenthede plaas, eerder as gelyke uitkome soos die linksgesindes wil hê. In beide gevalle verg dit staatsingryping in die ekonomie.

Maar die wesenskenmerk van ‘n linksgesinde regering is groter staatsinmenging in die lewens van mense. ‘n Regsgesinde regering wil die rol van die staat verklein of minimaliseer. Hoe meer links, hoe groter en duurder word die regering, hoe verder regs, hoe kleiner en goedkoper word die regering, soos dit in die dae van die Boererepublieke die geval was, waar elke persoon slegs deur sy vertolking van die Skrif gelei was.

Hierdie stelling is van toepassing op alle lande, ook Suid-Afrika. Dit is dus opmerklik hoe sterk die kommunistiese party se invloed op die ANC se beleidsrigtings is. Met arbeidswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging, nasionalisering ens., gryp die staat in die lewens van mense in en word die ekonomie negatief beïnvloed. Min blankes sal waarskynlik hierdie beleid ondersteun, aangesien die begrip van klasseverskille nog in hul gene ingebed is.

Histories het klasseverskille in Suid-Afrika ontaard in beskawingsverskille, oftewel rasseverskille. Dit lei daartoe dat in onstuimige tye, soos gedurende die afgelope twee weke, daardie vooroordele instinktief na vore tree, wat dan in rassepolarisering oorslaan.

In Suid-Afrika is dit dus die regte ding om regs te wees. As regse onderskryf jy die onafhanklikheid van die individu, sy reg om foute te maak of te presteer; om dinge op sy manier te doen sonder inmenging van enige owerheid. As regse onderskryf jy orde, dissipline en Christelike waardes. Dit geld ook so vir regse gemeenskappe. As linkse onderskryf jy die reg van individue om sonder hul geskiedenis te leef, om nie uit te styg nie, om middelmatigheid na te streef – alles begrippe wat vir die Afrikaner vreemd is.

Om verregs te wees beteken dat jy bereid is om ook tot fisieke optrede oor te gaan wanneer jou sosiale en politieke oorlewingsopsies begin min raak.

Regs en links verteenwoordig nie ‘n konstante kontinuum nie, want die gesindhede van die burgery is van week na week aan die beweeg, na gelang van die heersende politieke milieu. Regoor die aardbol beweeg sentimente tans na regs as gevolg van mislukte sosiale eksperimente wat neerdrukkend op veral blanke volke inwerk. Laasgenoemde volke se skole en state word oorspoel deur volksvreemde kulture – deur beskawings wat baie blankes as minderwaardig ag.

Binne hierdie konteks moet mede-Afrikaners hulself afvra waar hulle staan t.o.v. die politieke spektrum. Baie sal verklaar dat hulle in die middelveld staan, nie regs of links nie, omdat die middel verreweg die grootste deel van die politieke spektrum uitmaak en dus die morele hoë grond sou wees. Die middelveld-Afrikaners is egter ‘n sagte teiken vir ‘n stadige beweging na links. Hulle is die legitieme prooi van linksgesindes.

Aan die regterkant word elke beweging wat die regering na links maak soos ‘n tasbare en sigbare verwydering aangevoel wat tot reaksionêre optrede kan lei. Dit verklaar waarom regses se drang na selfbeskikking en onafhanklikheid in ‘n eie staat so sterk is. Regse Afrikaners, met hul unieke sin vir vryheid, wil nie dieselfde sosiale opset, land of vlag met ander volksgroepe deel nie. Sommiges beweer dat regses terughunker na die beskermde apartheidsverlede. Regsgesinde Afrikaners beskou hulself daarenteen as rasegte lede van die Afrikanervolk of Boerevolk.

‘n Mens is die produk van sy geskiedenis.

Hy kan weinig daaraan verander.

Hy wil net homself wees.

гидроаккумулятор киевтопкарго кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.