Volkstaat en die impak van infrastruktuur

Deel op

Suid-Afrika stuur op ‘n waterkrisis af weens ‘n te klein begroting om voorsiening vir die dag van môre te maak. Dié vooruitsigte kom kort op die kragkrisis wat deur Eskom se swak beplanning te weeg gebring is.

Met vermoedelik reeds miljoene onwettige immigrante in Suid-Afrika en programme om watergedrewe riolering aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel, is ‘n waterprobleem te wagte in ‘n waterskaars land met ‘n  gemiddelde reënval van 464 mm per jaar  teenoor meer as 800 mm wêreldwyd.

Vandag word kommentators wat meen die volkstaatgedagte is tot ‘n baie klein gemarginaliseerde groepie beperk, as politieke naïewelinge beskou. Dat meer en meer mense moeg raak om ingesleep te word by die gevolge van swak beplanning, prioriteitsbepaling en uitvoering waar tenderpreneurskap boonop hoogty vier, het ook in ‘n blitsopname in Beeld geblyk toe ‘n oorgrote meerderheid deelnemers aangedui het dat hulle in ‘n volkstaat sou wou woon.

Sedertdien het die Malema-fiasko, die regering se hantering daarvan en die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche die gedagte verdere stukrag gegee.

Oral op webwerwe, blogs, woernale en selfs in briewekolomme word ‘n dringendheid nou bemerk om van Suid-Afrika los te kom, wat ruim studiemateriaal vir ‘n doktorale verhandeling sou verskaf.

Twee aspekte kristalliseer hieruit: ‘n Wegstaan van die gedagte van korporatiewe selfbeskikking selfs as ‘n tussenmaatreël ten gunste van ‘n geografiese volkstaat nóú, en ‘n ingesteldheid dat enige vorm van naelstring met die huidige Suid-Afrika energievermorsing is.

Dié emosionele ingesteldheid is nie iets wat weggewens kan word nie. Emosies bepaal dikwels eerder die politiek as ekonomiese, demografiese of ander werklikhede.

Argumente dat dit onprakties is, het in hierdie klimaat ook dieselfde lewensverwagting as stukke nat biltong wat in ‘n hok vol honger boerboele gegooi word. Dit vat nooit eens grond nie.

Wanneer gebiede outonoom, selfregerend of onafhanklik word, vloei daar ‘n magdom ooreenkomste en verdrae voort. Eritrea se onafhanklikheid het Ethiopië sonder regstreekse toegang tot seehawens gelaat, maar Ethiopië se kragopwekkingspotensiaal is weer in Ethiopië se berglande opgesluit. Met die ontstaan van die Belgiese etniese federasie, het die ekonomiese swaartepunt reeds ‘n geruime tyd na die Vlaamse noorde verskuif, en subsidieer Vlaandere die Franstalige Wallonië nou jaarliks met miljarde euro’s.

‘n Volkstaat sal in alle waarskynlikheid vind dat sy waterbehoeftes van buite sy grense voorsien moet word, en dat die kragopwekking, voorlopig altans, ook grootliks buite sy gebied sal geskied.

Die skepping van ‘n volkstaat, ‘n lewensvatbare volkstaat wat uiteindelik ekonomies heeltemal onafhanklik sal kan wees, is ‘n komplekse proses wat reeds deur verskeie instansies soos die Volkstaatsraad deeglik ontleed en beplan is.

Die enigste plek vir die emosies wat nou losgelaat word, is dat dit motiveringsbrandstof voorsien. Dis belangrik vir die volkstaatideaal, maar kan ook ‘n wilde perd word wat onmoontlik raak om te ry. Die potensiaal hiervan blyk daaruit dat ‘n deel van hierdie uitgesproke sentimente behels dat die volkstaat elke vierkante sentimenter van die huidige Suid-Afrika moet insluit. 

Die internasionale reg stel ook ‘n magdom vereistes, en ‘n volkstaat wat buite hierdie riglyne sy outonomie of onafhanklikheid verwerf, sal ook bereid moet wees om soos ‘n geïsoleerde eiland in die wêreld te bestaan.

Globalisering en ‘n baie oper wêreldekonomie as in die tagtigerjare maak die ekonomiese isolering van ‘n Afrikanervolkstaat vandag egter bykans onmoontlik. Die internasionale gemeenskap, hoeveel simpatie die ANC ook al steeds geniet, sal ook die Afrikaner se vryheidsdrang as ‘n onuitwisbare werklikheid moet verreken.

хорватияОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.