Volgens ‘n verklaring deur Phillip Dexter van Cope, gaan die ANC die regskoste van Eugene Terre’Blanche se moordenaars betaal. Dexter meen “dié optrede stuur die verkeerde boodskap uit”.
“Dit stuur die verkeerde boodskap uit aan Suid-Afrikaners aangesien die regerende alliansie hiermee wil sê dat hy al sy enorme middele sal gebruik om enigeen te verdedig wat ‘n prominente blanke doodmaak. Terwyl ons erken dat elke Suid-Afrikaner oor die reg op afdoende verdediging in ‘n geregshof beskik, is hierdie op sy beste ‘n polities bedenklike daad en op sy slegste verteenwoordig dit siniese politieke opportunisme.
“Die regerende party het uiteindelik tot sy sinne begin kom deur vir kalmte te vra en dat mense mekaar nie op grond van ras moet uittart nie. Maar die besluit om die beweerde moordenaars te verdedig ondergrawe die voorheen goeie werk.”