Bewering oor gekookte misdaadsyfers slegte nuus

Deel op

Met minder as twee maande oor voor die Wêreldsokkerbekertoernooi afskop, is dit te wagte dat talle verwikkelinge in Suid-Afrika beoordeel sal word in terme van die vergrootglas van die wêreld wat algaande meer en meer oor Suid-Afrika inskuif.

Die jongste verwikkeling wat die potensiaal het om vir Suid-Afrika ‘n verleentheid te wees, is die nuutste stelling dat Suid-Afrika se reeds hemelhoë misdaadsyfers gekook word. Die man wat dit beweer is nie ‘n mamparra nie. Mnr. David Bruce is ‘n senior navorser by die Sentrum vir die studie van Geweld en Versoening.

Die aanduidings dat misdaadsyfers gekook word, is nie nuut nie.

Die Mediese Navorsingsraad het reeds in die openbaar die polisie se moordsyfers betwis, en gemeen die werklike moordsyfer is aansienlik hoër.

Die diefstalsyfers wat via die landbousensus aan die lig gekom het, is baie, baie hoër as die polisiesyfers, en strek oor terreine soos veediefstal, die diefstal van gewasse en die vaslê van gereedskap en implemente. Die omvang van weidingdiefstal en brandstigting kom weer via ander bronne aan die lig. Formeel word hierdie verskille daaraan toegeskryf dat boere se vertroue in die polisie reeds so geknou is dat hulle die moeite ontsien om sekere misdaad by die polisie aan te meld. Dit verklaar nie die groot verskil in omvang nie omdat saaknommers benodig word vir versekeringseise en om verliese by Jan Taks terug te eis.

Verskeie spesifieke gevalle van die gekonkel met misdaadsyfers is reeds deur die polisie self en die Onafhanklike Klagtedirektoraat ondersoek.

Baie mense het ook eerstehandse ervarings wat die vertroue in die polisie se syfers onder verdenking plaas. ‘n Bloemfonteinse vrou wie se hangertjie wat om haar nek gehang het, tydens die Konfederasiebekertoernooi voor by haar bloes uitgeroof is, moes verbysterd ervaar hoe sy kort hierna deur die stasiebevelvoerder gebel en erg uitgetrap is omdat sy so ‘n voorval by die polisie aangemeld het. Hy het roof ‘n “petty crime” genoem wat ‘n mens, volgens hom, nie aanmeld nie omdat dit die polisie se statistieke sleg laat lyk.

In die dae van die Kommando’s het ‘n kommandolid by ‘n streekvergadering op Riviersonderend van Agri Wes-Kaap gespog oor hoe knap die polisiestatistieke werk, deur die syfers te gebruik van hoeveel vee die vorige dag in die betrokke area gesteel is. Dadelik was daar ‘n beroering onder die boereleiers, want by hulle alleen is meer vee gesteel as wat die polisie vir die hele streek opgee. En al hul verliese is wél by die polisie aangemeld.

Dit is noodsaaklik dat hierdie syfers korrek moet wees, sodat teenstrategieë behoorlik beplan en uitgerol kan word. Net een ding is slegter nuus as hemelhoë misdaadsyfers, naamlik gediskrediteerde misdaadsyfers.

Vrystaat Landbou is nou besig met ‘n hofproses teen die regering oor beweerde versuim van die regering om die Vrystaat se inwoners, en spesifiek die boere veral aan die grens met Lesotho behoorlik te beskerm.

Dit sal ‘n ontsettende verleentheid vir die regering inhou as dit sou blyk dat sy beoordeling van die veiligheidsituasie geskoei sou wees op gekookte misdaadsyfers.

Gerusstellings aan voorgenome buitelandse sokkergeesdriftiges dat hulle veilig sal wees, kan erg boemerang as dit sou blyk dat dié versekerings op gekookte syfers geskoei is.

Die strategiese belang daarvan dat die syfers korrek moet wees strek veel verder as die merietebeoordeling van polisiestasies en hul bevelvoerders.

справка 086 у купитьлобановский александр досье

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.