Ons kort minder emosie en meer strategie

Deel op

Die Suid-Afrikaanse politiek lyk deesdae soos ‘n Hollywood-speelfliek. Daar is beslis geen tekort aan opwinding, woede, vermaak en skinder nie. As dit maar net ‘n storie was!

Malema het natuurlik die kat onder die duiwe losgelaat met sy ongedissipleerdheid en onverantwoordellike uitlatings. Hy sal beslis moet pa staan vir die rassespanning en polarisering wat in die laaste paar dae as gevolg van sy opmerkings ontwikkel het.

Party mense het aanvanklik gedink hy is ‘n idioot wat bietjie vermaak in die politiek kon bied. Dit het gou duidellik geword dat hy niemand sou ontsien met sy sotlikhede nie. Die enigste vraag wat ek nog het, is hoekom enige media hoegenaamd nog vir sy bakkies lugtyd gee. Sy naam verkoop natuurlik op hierdie stadium groot volumes koerante en die mannetjie voorsien aktuele vermaak in ons stadige poltieke koerant-dagboek.

Dié Julius-seun herinner my aan ‘n stout kind wat tydens Kersete wawiele doen in die sitkamer sodat al die grootmense vir hom moet kyk. In ons huis moes jy dan net die houtlepel gaan haal – dis al…

Ek was eergister saam met ‘n paar goeie vriende by Eugene se begrafnis. Dit was ‘n baie hartseer geleentheid. Alhoewel baie beganisgangers nie vir Eugene self – of vir die AWB – ondersteun het nie, was hy nogtans ons almal se familie.

Ek weet dat as my pa nog geleef het, hy al die pad van Oos-Londen af sou gery het om daar te wees. My sussie het juis hierdie week van Londen af vir my ‘n boodskap gestuur wat lees: “Pa en Eugene lag en gesels seker nou kliphard.”

Die erns van die saak is ongelukkig gefokus op die onderliggende frustrasies wat onder Afrikaners opwel. Baie boere, Afrikaners en selfs swartmense met wie ek hierdie week vergader het, is woedend oor Julius en gefrustreerd oor die afwesigheid van vinniger optrede vanaf die ANC se kant. Dit is verstommend hoeveel mense uit alle oorde glo dat sy vlammetjie geblus moet word.

Ek was nogal teleurgesteld in die politieke resultate van die begrafnis. Alhoewel ek besef dat ‘n paar mense noodwendig sal kapitaliseer op die bindende effek wat hierdie krisis op Afrikaners het, het ek meer pro-aktiewe politieke aksie van die begrafnis as ‘n geleentheid verwag.

Die dominee se boodskap was mooi, maar hy het ver te lank gepreek. Party mense het aan die slaap geraak en ‘n paar het vroeg uitgeloop. Die spreker wat voor die diens vir mense gemaan het om nie tydens die diens foto’s te neem nie, was ongeskik en kortaf toe hy verduidelik het dat diegene wat nie luister nie, summier uitgegooi sal word.

Daar is alreeds soveel plaaslike en internasionale media wat Afrikaners as eenvoudige en dom maplotters wil uitbeeld, dat ondeurdagte opmerkings en aksies van die boere se kant af, Afrikanes se beeld erg skade sal berokken. Afrikaners word die wereld deur gereken as innoverende mense met ‘n goeie werksetiek wat vaardig is en oor besondere beplanningvermoë beskik. Daardie pluspunte kan so gou geneutraliseer word deur manne wat nie mik voor hulle skiet nie. Onverantwoordelike joernaliste wat ordentlike Afrikaners wil uitbeeld as mal hase wat neo-Nazi-rassiste is, wag eenvoudig vir enigeen om tipies volgens daardie beeld op te tree sodat hulle dit more-oggend op die voorblad kan plak.

Afrikaners is te ordentlik om ‘n heilige gebeurtenis soos ‘n begrafnis amptelik te verpolitiseer. Na my mening verloor so ‘n groep dan ‘n gulde geleentheid waar hulle vir die wêreld van hulle oortuigings bewus kon maak.

Ek hoop werklik dat die nadraai van vandeesweek se politieke skommelinge meer Afrikanereenheid tot gevolg sal hê. Vir alle politieke rolspelers in die land – en veral vir gewone Afrikaners – sou groter eenheid en minder afguns op mekaar, ‘n positiewe uitwerking op ons alledaagse lewe hê. Ongelukkig wil elke Afrikaner die koning op sy eie mishoop wees en is daar min leiers met sterk persoonlikhede wat bereid sal wees om ten behoewe van die groter saak onder ‘n ander man se leierskap te dien. Die leierskapstruweling is miskien ‘n uitvloeisel van ons intellek, hardkoppigheid en deursettingsvermoë om ten alle koste te oorleef.

Ons mense het nuwe weiveld gesoek vandat ons grootouers besluit het om as Hugenote onder die Katolieke uit te trek. Ons het geweier om vir Victoria te luister, of na Kitchener of na Rhodes. Vandag trek ons kinders Londen en Australië toe vir werk. As ons daardie oorlewingsin kon inspan om ‘n gesamentlike doelwit te vermag, twyfel ek of enigeen ter wêreld dit sou kon stuit.

Onder die huidige ANC-leierskap, glo ek werklik dat daar ‘n nuwe oor is wat luister. Ons moet nie die interne dinamika onderskat en glo dat almal ons noodwendig NIE goedgesind is nie.

Dit is wanneer mens uit woede en frustrasie die baba saam met die badwater uitgooi dat die skrefie op potensiële interaksie nouer word, en ons ons eie kanse op ‘n beter bedeling sou kelder.

Om die deur oop te hou, beteken nie daarom dat jy jou beginsels oorboord gooi en jou kinders en kerk uitverkoop nie. Dis tyd dat Afrikaners rustig word en meer strategies dink sodat ons kinders nog eendag op ons eie grond kan boer.

Liesl Göttert is president Jacob Zuma se nie-amptelike mediaraadgewer en is die krag agter die Zuma-Afrikaner-byeenkomste van die afgelope paar jaar.

для компрессораФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.