Die joernalis, Jonah Fisher, het glo probeer om Malema ‘n vraag te vra terwyl hy besig was om te praat. Malema het hom vererg en die joernalis ‘n “bliksem en ‘n bleddie agent” genoem.
Malema het glo vir die joernalis gesê; “Hierdie is my huis en jy volg my reëls”. Fisher is uit die konferensie gelei na afloop van die tirade, het Times Live berig.
Nuus24 berig dat die adjunk-redakteur van die Daily Maverick Malema se jongste uitlatings Donderdag op Twitter uitgestuur het.
Volgens Phillip de Wet het Malema gesê: “Die media het ‘n held gemaak van ‘n man wat ‘n rassis was. Ek het geen respek vir Terre’Blanche nie. Dit is jammer dat hy dood is voordat hy sy rassistiese idees kon verander.”
Hy het Zimbabwe se grondhervormingsbeleid by die byeenkoms in Luthulihuis as “dapper en militant” geprys.
Malema se uitlatings kom ten spyte van die feit dat die ANC sy interne strukture versoek het nie in ‘n openbare debat rakende die afsterwe van die ontslape AWB-leier betrokke te raak nie.