‘Dis ‘n suiwer politieke moord’ – AWB

Deel op

Die Afrikanerweerstandsbeweging (AWB) het Dinsdag ‘n beroep op president Jacob Zuma gedoen om die ANC-jeugliga se leier, Julius Malema, daarvan te weerhou om opruiende en rassistiese uitsprake te maak.

“Ons wil hê Jacob Zuma moet Malema keer want hy is besig om revolusie op te stook. Malema maak gedurig opruiende en rassistiese uitsprake… hy probeer rassehaat skep,” het die AWB-woordvoerder Pieter Steyn gesê.

Hy het buite die Ventersdorpse landdroshof gepraat waar ‘n 15-jarige swart jeugdige en ‘n 28-jarige swart man sou verskyn omdat hulle na bewering die AWB-leier Eugene Terre’Blanche vermoor het.

Steyn het gesê dat daar sedert 2004 meer as 2000 boere vermoor is.

“Die aanvalle is suiwer teen die Boerevolk gemik, dis ‘n metode van grondroof.

Ons het ‘n verklaring aan Zuma uitgereik waarin ons hom vra om te begin regeer. Die ANC het die land en nou moet hy begin om dit te regeer.”

Hy het gesê die moord kon nie oor ‘n arbeidsdispuut gegaan het nie aangesien ‘n mens nie ‘n panga saamvat om ‘n arbeidsdispuut by te lê nie.

“Dis ‘n suiwer politieke moord.”

Hy het gesê verklarings wat deur ‘n ander AWB-lid oor weerwraak vir die moord op Terre’Blanche gemaak is, is teruggetrek.

“Daardie persoon was baie naby aan mnr. Terre’Blanche en was geweldig ontsteld en emosioneel toe die verklaring gemaak is.

“Daardie persoon is tot orde geroep en daar sal geen weerwraak en geen rasseskeldtaal wees nie.”

Hy het gesê die party het vertroue in die regstelsel en dat polisie-ondersoeke tot dusver van “hoë gehalte” is.

Ongeveer 1000 mense het by die hof opgedaag, terwyl SAPA en ander nuusdienste berig het dat slegs “100 mense, sommige in hul khaki-uniforms, by die hof gewag het”.

“Ons verwag ‘n groot byeenkoms van ons lede maar daar sal geen marsjeerdery of skeltaal wees nie… ons sal ons lede dissiplineer en beheer.”

‘n Groot afvaardiging van die polisie, asook plaaslike en internasionale media, is insgelyks buite die hof opgemerk.

Volgens die polisie was die twee beskuldigdes teen 8-uur vanmôre reeds in die hofselle.

Die saak teen die twee beskuldigdes gaan in camera gehou word aangesien een van hulle ‘n minderjarige is.

детская спортивная одежда для мальчиковФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.