Spraakvryheid

Deel op

Die polarisasie wat rondom die liedjie, Skiet die Boere, aan die opbou is, word nog plek-plek in akademiese kringe aangehelp deur ‘n argument oor spraakvryheid.

In die Suid-Afrikaanse grondwet, soos die meeste grondwette wat ‘n erkende handves van menseregte insluit, is dit nie net tot spraakvryheid beperk nie, maar dit maak deel uit van ‘n groter reg, die reg op uitdrukkingsvryheid. Die SA-grondwet maak ook deel uit van ‘n kleiner groepie wat persvryheid by die naam lys.

In ‘n onlangse studie het die FW de Klerkstigting Suid-Afrika ‘n B-simbool gegee vir die vlak van uitdrukkingsvryheid. Onder die sake wat dit vertroebel, tel die teenspoed wat ‘n student op die lyf geloop het toe hy nie al sy vingers gebruik het toe hy ‘n Zuma-konvooi begroet het nie.

Persvryheid is onontbeerlik vir die bestaan van demokrasie, en word in die westerse wêreld as ‘n integrale, hoewel nie-amptelike, deel van die demokratiese prosesse beskou. Dit handel nie net oor die waghondfunksie nie, maar ook om die publiek ingelig te hou, want slegs ‘n ingeligte publiek kan behoorlik die demokrasie uitleef.

Die versoeking is dus gewoonlik groot om van die openbare uitsaaier ‘n regeringsinstrument te maak – His Master’s Voice.

Spraakvryheid maak ook ‘n hoeksteen uit van die liberalisme. Sy mees ongebreidelde vorm is onlangs getoon toe die DA-LP, Lindiwe Mazibuko, pres. Zuma se voorstel oor ‘n debat oor etiek geopponeer het op grond daarvan dat die nesskop van etiese norme inbreuk op spraakvryheid sou maak.

Spraakvryheid, of uitdrukkingsvryheid, kan soos alle ander regte egter nie onbeperk te wees nie. ‘n Duidelike demonstrasie hiervan was toe veiligheidstoegang tot sekere Pretoriase woonbuurte opgerig is, en dit deur die ANC-beheerde raad geopponeer is. Hier het die raad se aandrang op bewegingsvryheid te staan gekom teen die inwoners se reg op veiligheid, reg op lewe, reg op eiendom en vele ander.

Net so ontmoet spraakvryheid die grense van ander se reg op privaatheid, reg op waardigheid en vele meer.

In Suid-Afrika is die oorwig egter sterk in die rigting van spraakvryheid geklee omdat groepregte, of anders gestel, minderheidsregte, in ‘n baie beperkte mate in die handves van menseregte ondervang is, anders as in die meeste moderne grondwette. Die meeste beperkings op spraakvryheid spruit uit groepregte, soos haatspraak. Individue se verskansing is in terme soos laster, crimen injuria en kriminele laster gesetel. Omdat groepregte in Suid-Afrika ‘n politiek-geringe gewig dra, word haatspraak in sommige akademiese kringe as weinig meer as ‘n lastigheid beskou omdat dit so beperkend op spraakvryheid inwerk.

Ironies erken die liberalisme wel ook perke op spraakvryheid, en wel wanneer sekere kwesbare groepe die slagoffer daarvan is. Onlangs het ‘n ander DA-LP, dr. Annalie Lotriet, op die afdanking van die minister van Kuns en Kultuur aangedring oor sy deur ‘n lesbiese kunsuitstalling geskok is en haar mond uitgespoel het.

Groepregte wat op ‘n staatkundige manifestasie dui, het egter nie in ‘n liberale omgewing geskoei op individuele regte staanplek nie.

Spraakvryheid is egter nie iets wat volgens ‘n persoon se eie ideologiese oordeel aan- en afgeskakel kan word nie.

Wanneer mense se lewens deur haatspraak in gevaar gestel word, behoort daar nie eens oor die kwessie gedebatteer te word nie, en dit is tot dusver die koers wat die howe inslaan.

Dat dit inbreuk maak op liberale denke is te ene male so. ‘n Burgerlike instansie wat hom vir spraakvryheid beywer het as party tot die destydse geding oor die Klill the Boer, kill the farmer-sage toegetree en hard geargumenteer teen die verbod daarop. Die sage om Malema se haatspraak tot orde geroep te kry, kry reeds uit onverwagte akademiese kringe teenspoed. Hoe akademies-onverantwoordelik hierdie akademici argumenteer blyk daaruit dat onlangse akademiese studies die verband tussen haatspraak en die Rwandese volksmoord duidelik uitgespel het.

In ‘n gepolariseerde samelewing moet mense, veral minderhede, egter teen haatspraak en die potensiële gevolge beskerm word. Die internasionale reg vereis dit.

юбки для девочекФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.