Is Suid-Afrika ‘n mislukkende staat?

Deel op

Hoe kan Afrikaners as ‘n minderheidsvolk hulself laat geld in ‘n mislukkende staat wat steeds deur die internasionale gemeenskap as sprekende voorbeeld van ‘n suksesvolle multietniese staat voorgehou word?

Terwyl daardie persepsie nog in die buiteland bestaan, sal ons nie op enige internasionale ondersteuning kan staatmaak nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof ons steeds ‘n steen des aanstoots is. Ons is dus op onsself aangewese. Ons moet onsself organiseer en weerbaar hou. Die politieke situasie versleg daagliks en tyd is min, want Suid-Afrika is ‘n mislukkende staat.

Wanneer natuurwetenskaplikes besin of iets nuuts moontlik is al dan nie, baseer hulle hul oordeel op tientalle basiese natuurwette. Hierdie wette is absoluut en bepalend. Hulle is na deeglike navorsing deur wetenskaplikes geformuleer en verskaf die grondslag vir energie, die elemente, magnetisme, selfs van die lewe self.

Dieselfde kan van die sosiale wetenskappe gesê word.

‘n Amerikaanse instelling genaamd Die Vredesfonds het deeglike ontledings van mislukte state regoor die aardbol gemaak en het ‘n stel kriteria opgestel waarvolgens state se lewensvatbaarheid gemeet word.

Onlewensvatbare state verlaat hulle op omvattende “nasiebou”-programme, ‘n ideologie wat ten doel het om die werklikheid te verdoesel. In Suid- Afrika word die begrip “nasiebou” daagliks in die politieke arena rondgeslinger en gedebatteer. Hoewel die inhoud van daardie begrip steeds ‘n raaisel bly vir Jan Alleman, verteenwoordig dit desondanks die grondslag vir die politieke omgewing van die land.

Vir wetenskaplikes is “nasiebou” ‘n proses waartydens ‘n gevoel van gemeenskaplike identiteit tussen mense ontwikkel, hetsy etnies, hetsy kultureel of andersins. Sentraal in die begrip staan die gevoel dat die nasie oor hulself moet regeer.

Maar in die werklike wêreld is dit ‘n eksterne proses wat afgedwing word deur politieke heersers met die doel om ‘n nasionale identiteit te ontwikkel wat met die bevolking se burgerskap saamval. Regeerders probeer binne vyf jaar doen wat oor die afgelope 350 jaar nie moontlik was nie.

Maar politici onderskat gewoonlik die bevolking totaal. Hulle beskou gewone mense as polities infantiel. Dit is dus onwaarskynlik dat mense ‘n nasiebouprogram sal steun. Die vraag is dus of ‘n land as ‘n samehangende politieke entiteit sal kan voortbestaan as die tekens van ‘n mislukkende staat reeds deel uitmaak van ons daaglikse werklikheid.

Dit is verstommend hoe die Vredesfonds se kriteria op Suid-Afrika van toepassing is. Hierdie kriteria kan as dwingende natuurwette beskou word en enigiemand met drie breinselle of meer kan die pad van die nuwe Suid-Afrika met absolute sekerheid voorspel aan die hand van die volgende kriptiese maatstawwe.

Sosiale aanwysers

  • Toenemende demografiese druk.
  • Massiewe bewegings van vlugtelinge of internasionaal ontheemde mense wat ingewikkelde humanitêre noodmaatreëls benodig.
  • ‘n Nalatenskap van wraaksug en gegriefdheid oor die verlede.
  • Kroniese en standhoudende emigrasie.

Ekonomiese aanwysers

  • Ongelyke ekonomiese ontwikkeling langs groeplyne.
  • Ernstige afname in ekonomiese groei in reële terme.

Politieke aanwysers

  • Kriminalisering en ontwettiging van die staat, waar die staat in botsing kom met die gereg.
  • Agteruitgang van dienslewering op alle gebiede.
  • Arbitrêre wetstoepassing asook wydverspreide menseregteskendings.
  • Die wetstoepassers word ‘n staat binne ‘n staat.
  • Die opkoms van faksiegebaseerde elitegroepe.
  • Inmenging van ander state of politieke rolspelers.

Die Vredesfonds wys daarop dat die ontwettiging van die staat volg uit:

  • Massiewe en endemiese korrupsie en selfverryking van die heersersklas.
  • Regeerders se weerstand teen deursigtigheid, toerekeningsvatbaarheid en politieke verteenwoordiging.
  • ‘n Algemene verlies aan vertroue in staatsinstellings en prosesse, bv. massa-aksies en betogings, wegbly-aksies, toenemende burgerlike ongehoorsaamheid, belastingweerhouding en gewapende opstande.
  • Misdaadsindikate gekoppel aan die heersende elites.

‘n Internasionale verskynsel is dat die lojaliteit van die inwoners van mislukkende state nie by beter dienslewering lê nie, maar wie die dienste lewer.

Ek noem dit volksmasochisme, of selfpyniging van die gepeupel – ‘n begrip wat die liberalisme nooit sal verstaan nie. Hierdie nasionalistiese verskynsel bots direk met die begrip van die liberale demokrasie.

Die Vredesfonds bevind dat van 93 nasieboustate wat tans bogenoemde simptome toon, verskeie reeds vir langer as veertig jaar met nasiebouprogramme besig is. Hulle beskou die Nordiese lande, Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Ierland, Oostenryk en Nederland as die polities stabielste lande. Afrikaners sal dit nie vreemd vind nie, want hierdie lande is almal so te sê monokulturele state, waarvoor die konsep van demokrasie uiters geskik is.

Suid-Afrika is reeds op die gevaarlys, hoewel tans nie akuut nie. Die akuutste state is Somalië, Zimbabwe, Tsjad, Soedan, die DRK en Irak.

Om nou terug te keer na die natuurwette. Ek wou nog nooit ‘n Afropessimis gewees het nie. Maar as natuurwetenskaplike wat ontsag het vir natuurwette, voel ek nou genoop om te aanvaar dat Suid-Afrika reeds sterk as ‘n mislukkende staat soos Zimbabwe gevestig is.

интернет магазин детскийлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.