‘Regses misbruik die howe’ – ANC

Deel op

“Regse elemente” misbruik die ANC se sensitiwiteit vir die land se diversiteit, het die Gautengse sekretaris van die ANC, David Makhura gister gesê.

“Ons (die ANC) is geweldig sensitief vir die diversiteit van ons mense… ons dink hierdie sensitiwiteit word tans deur die ander kant misbruik,” het hy in Johannesburg gesê.

“Daar word met ons sensitiwiteit woer-woer gespeel

“Ons praat van diegene wat teen transformasie in Suid-Afrika gekant is.”

Makhuru het dié uitlatings tydens ‘n mediakonferensie met joernaliste en die drieledige alliansievennote – die ANC, Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty – in Gauteng gemaak.

Hy het na naamsveranderings, hofgedinge teen die gebruik van vryheidsliedjies en hofaansoeke teen regstellende aksie as voorbeelde van dié tipe opposisie verwys.

“Regse” optrede op dié gebiede het getoon dat hulle “selfvertroue toeneem dat hulle die progressiewe en revolusionêre magte oor ‘n verskeidenheid aangeleenthede kan uitdaag”.

“Hulle gaan sover dat hulle die howe gebruik om die beleid van dié land uit te daag,” het hy gesê.

Die Vryheidsfront Plus en AfriForum het klagtes by die regsowerheid aanhanging gemaak oor die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, se gesingery van ‘n vryheidsliedjie met die woorde “Dubula ibhunu (skiet die boer)”.

In Februarie het die vakbond Solidariteit ‘n saak oor regstellende aksie gewen waarin kaptein Renate Barnard deur die Suid-Afrikaanse polisie bevorder behoort te word nadat dié pos weens haar ras aan haar geweier is.

“Wie sê dat die regses nie daar in ons howe is nie?

“Ons word gekwel deur die selfvertroue van die die regse elemente.”

Cosatu se provinsiale sekretaris Dumisane Dakile het gesê politieke vooruitgang wat deur demokrasie bereik is word deur dié groep in die land se howe teengestaan en het ook bevraagteken of die howe self al getransformeer is.

“Dit is die herverskyning van die vyand van die NDR (nasionale demokratiese revolusie).”

Hy het gehoop dat die “regses wat ‘n bedreiging raak” deur die ANC se nasionale algemene raad in September bespreek kan word.

Die alliansie in Gauteng het besluit dat die naamsverandering van Pretoria na Tshwane ondersteun moet word – iets wat sterk deur die Vryheidsfront Plus, Afriforum, PRAAG en ander Afrikanerorganisasies teengestaan word.

Makhura het gesê dat die ANC-bewind se benadering tot naamsveranderings “baie sensitief” is.

Hy het bygevoeg dat die regering nie apartheidsmonumente na demokrasie vernietig het nie.

“Indien ons hierdie monumente sou verwyder, sou ons kinders nie weet dat daar ‘n vryheidstryd was nie.

“As ons ons soos veroweraars gedra, sou daar nie eens ‘n grondslag vir onderhandeling wees nie,” het hy gesê.

Die alliansie wil “ondubbelsinniglik” die “geskiedenis en erfenis” van die vryheidstryd verdedig.

“Dit sluit die ryk kultuur van vryheidsliedere, gedigte en dans in wat ons mense geïnspireer het om die militêre mag van die apartheidsbewind tydens die donkerste dae van staatsvergrype en verdrukking teen te gaan.”

“Die alliansie doen nie ‘n “beroep op oorlog” nie, maar wil met diegene wat gekant is teen transformasie deur demokratiese middele in gesprek tree.

“Dit gaan nie oor blankes in Suid-Afrika nie, maar oor ‘n politieke beweging.

“Hierdie dinge word in die naam van Afrikaners gedoen, in die naam van boere… ons word nie om die bos gelei nie… dis ‘n politieke beweging.”

Die regse agenda word deur verskillende politieke magte gevolg, het hy gesê.

“Ons gaan ons beheer oor die staat en instellings gebruik om die verandering wat ons nodig het na te jaag.”

no deposit betЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.