James Nkambule, die omstrede politikus is Woensdag in die streekhof in Nelspruit op borgtog van R8 000 vrygelaat, het die provinsiale polisie gesê.
Leonard Hlathi, ‘n polisiewoordvoerder het gesê Nkambule se borgtogvoorwaardes bepaal dat hy nie sy huis mag verlaat sonder om sy ondersoekbeampte in kennis te stel nie.
Sy saak is tot 2 Junie uitgestel.
Nkambule, ‘n voormalige ANC-Jeugligaleier en nou ‘n lid van die Cope, Congress of the People, is op 25 Maart gearresteer nadat die polisie sy huis in Barberton gestroop het.
Die polisie het hom ondervra oor die bestaan van ‘n sogenaamde ‘moordlys’ met name van vooraanstaande ANC-politici in Mpumalanga daarop.
Nkambule was glo ‘n paar jaar gelede betrokke by bewerings van ‘n sameswering teen oudpres. Thabo Mbeki.
Daar was destyds berig dat Mathews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga en huidige tesourier, Tokyo Sexwale, huidige minister van behuising en Cyril Ramaphosa, voormalige ANC sekretaris-generaal agter die sameswering gesit het.
Nkambule staar klagtes van dwarsboming van die gereg, sameswering om ‘n misdaad te pleeg, aanhitsing en bedrog in die gesig.