Japannese middelgewigte!

Mitsubishi Outlander
Deel op

Met Suid-Afrika se ekonomiese klimaat is dit moeilik om te verstaan hoekom motors so duur is. Ons motormark is relatief klein in vergelyking met Brittanje of Brazilië s’n, maar ons het amper 1000 verskillende modelle om van te kies. Ongelooflik, sowaar! Sou jy dan in die bevoorregte posisie wees om ’n nuwe ryding te aanskaf is daar verskillende segmente waarna jy kan kyk. Dit hang allesvan jou behoeftes af. Sou jy ’n middelbestuurspos beklee en in die oostelike voorstede van Pretoria of die noordwestelike voorstede van Johannesburg woon met kinders in die laerskool en ’n huisverband van meer as een miljoen rand, sou jy waarskynlik in die Sportnutsvoertuigsegment na ’n ryding kyk.

 

Mitsubishi Outlander

Dit is nou ’n voertuig wat eerstens goed lyk by jou kantoor en al die kinders se skooltasse en goeters kan rondkarwei. Die een naweek in drie maande wat jy wel kan wegbreek, sou jy met gemak kon aanpak en dan nog elke oggend se verkeer tussen Pretoria en Johannesburg so gerieflik moontlik probeer maak voor jou vergaderings met oënskynlik belangrike mense. Ons het nie net een nie, maar twee van presies hierdie tipe voertuie onder hande gehad om uit te vind wat ligte sportnutsvoertuie so spesiaal maak.  Die kandidate is Nissan se X-Trail 2.0 dCi 4×4 TSE en Mitsubishi se Outlander  2.4 GLS 4×4 . Alhoewel die twee voertuie nie direk met mekaar meeding nie is die spesifikasies en pryse so na aan mekaar dat dit in werklikheid wel ’n realistiese keuse tussen die twee sal afgee.

Bakwerk

Nissan X-Trail

Beide die X-Trail en die Outlander is amper ’n baie hoë stasiewa- tipe voertuig met hope spasie vir passasiers en genoeg pakplek vir ’n hele weermag. Slim uittreklaaitjies onder die bagasiebakvloer en genoeg deur- en middelkonsolebêreplekkies om alles wat jy wil saam neem in te pak. Elegante doelgerigte lyne is teenwoordig. Die Outlander se neus wat amper soos ’n haai se snoet effe na onder kurwe het nogal uiteenlopende reaksie van “wow!” tot ”nie so lekker nie” uit gelok.  Die X-Trail het nou weer half ongemaklik voorgekom vir party mense, so asof hy half lomp of “top heavy” is soos ek gehoor het iemand dit uitdruk. Dit maak nou nie saak of jy van die Nissan of die Mitsubishi se lyne hou nie, die feit is dat beide stylvol genoeg is om langs enige primavoertuig by jou kantoor te parkeer. Beide lyk doelgerig genoeg om nie af te steek langs al die ander rygoed by die skool nie. Al twee lyk ook tuis in die verkeer sowel as op Mr. Jones se wildsplaas.

Binneruim

X-Trail se funksionele paneelbord

Die regte elegansie ervaar jy wanneer jy die deure oopmaak en inklim. Beide die voertuie is nie so hoog dat die inklimslag ongemaklik is nie. Die deure is lig en maak wyd oop en daar is regtig meer as genoeg beenspasie in albei se kajuite. Kopspasie in die Outlander het net vir ons ’n aks meer gevoel as in die X-Trail alhoewel die Nissan ’n hoër daklyn het; dit is waarskynlik omdat die Outlander se sitplekke laer gemonteer is. Die Mitsubishi verras met sy grootte. Hy lyk nie so groot nie, maar sit in hom dan voel hy fisies groter as in die X-Trail. Wat luukses aanbetref, is daar glad nie ’n tekort aan enige gemakstoerusting nie, alles is daar. Die Nissan se binneruim het net so effens meer spogerig gevoel as dié van die Outlander. Die Mitsubishi het wel leeroorgetrekte sitplekke gehad wat ontbreek het in die X-Trail, maar baie goeie kwaliteitmateriaal is gebruik om die Nissan uit te dos en dit was veral die voorste paneelbord en insetsels van die X-Trail wat gemaklik onder die hande was.  Standaardtoerusting wat ons beïndruk het, was die AFS (Adaptive Front Lighting ) wat standaard in die Outlander is . Dié stelsel neem die stuurrigting, padoppervlak en gewig wat deur die voertuig gedra word in ag om die ligte op die optimale hoogte te hou. Sodoende is die pad voor die motor altyd baie goed belig. Die stelsel het ook net soos in die Discovery kantliggies wat negentig grade na die kant toe skyn waarheen jy draai.  Baie handig en baie slim. Die Outlander beskik ook standaard oor ’n 710w Rockford Fosgate-klankstelsel met ongelooflike oudiogehalte.

X-Trail stoorplekkies

Outlander se klankstelsel


Agterste beenspasie in die OutlanderEnjins

Nissan se X-Trail 2.0 dCi TSE 4×4 word aangedryf deur ’n 2.0 liter turbo-aangejaagde dieselenjin wat 110 Kw  en ’n allemintige 320 Nm se wringkrag lewer. Die eenheid loop stil en glad en met ’n verbruik van 8,1l/100km is hy nog ekonomies ook. Die X-Trail beskik oor ’n 4×4-stelsel wat of self kan besluit wanneer om al vier wiele in te span of jy kan hom sluit sodat die motor die heeltyd met vier wiele trek. Dit word alles beheer met ’n baie elegante draaiknop net hier voor die rathefboom in die middelkonsole. Daar is ook (HDC) Hill Descent Control wat keer dat die voertuig vinniger as 6,5 km/u teen ‘n skerp helling kan afgaan. Die (HSA) Hill Start Assist  werk ook outomaties as daar teen ’n helling weggetrek moet word. Die Outlander word aangedryf deur ’n 2,4 liter petrolenjin en lewer 125 Kw se krag en 226 Nm se wringkrag.  Die 4×4-modusse kan net soos dié van die X-Trail óf tweewielaandrywing óf vierwielaandrywing op ‘n gereedheidsgrondslag óf vierwielaandrywing gesluit opdis. Alles natuurlik met die druk van ’n knoppie. Ons kon onderskeidelik ’n maksimumsnelheid van 190km/u vir die Outlander en 183km/u vir die X-Trail haal met ons padtoets, maar albei kan baie gemaklik so op 140km/u met die togbeheer aangeskakel alle bulte kafdraf. Verbruik in die Outlander was ’n respektabele 10l/100km wat nie sleg is vir so ‘n groot motor met vierwielaandrywing nie.

Gevolgtrekking

Teen R377 000 vir die X-Trail en R395 000 vir die Outlander is hierdie nie goedkoop voertuie nie, maar kyk wat sal jy vir ’n Honda CRV 2.4 Petrol Outomaties, R405 400 en R435 400 vir die diesel sal betaal. Hyundai se Santa Fe 4×4 diesel Outomaties kos R409 700 en Kia se Sorento 4×4 outo sal jou R369 995 vir die petrolviersilinder kos terwyl die V6-petrol jou R399 995 uit die sak sal jaag. Nou lyk beide die Nissan en die Mitsubishi glad nie sleg nie. Albei fabrikate is al oor en oor bewys as kwaliteitvoertuie tydens die Dakar-wedren. Kan ’n mens regtig anders as een van dié twee in hierdie segment?

logo for euroФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.