Dr. Dan Roodt van PRAAG antwoord Breyten Breytenbach in vandag se Beeld oor sy uitspraak dat hy ““bevoorreg was om (Afrikaans) in sy leeftyd te sien sterf”. Volgens Roodt “herinner Breyten Breytenbach se geslag Sestigers hom baie aan die munisipale betogers wat hul eie biblioteke afbrand”.
In dieselfde tyd dat Julius Malema en die ANC liedjies met reëls soos “Maak dood die Boere” as hul “kultuurgeskiedenis” verdedig, woed ‘n polemiek rondom die Afrikaanse taal opnuut. Aan die een kant is daar diegene, soos Breytenbach en heelwat bruin joernaliste en meningsvormers wat meen dat Afrikaans vandag benadeel word weens sy historiese verbintenis met apartheid en blanke oorheersing en aan die ander kant ‘n Afrikanergroepering wat die ANC-bewind en die 1994-bestel vir die agteruitgang van die taal verantwoordelik hou.
Dr. Roodt meen “dit sou ’n fout wees om die rede vir Afrikaans se openbare kreeftegang aan die taal se ‘destydse verbinding met ’n beleid van rasmeerderwaardigheid’ toe te skryf. Het Engels, Duits en Frans nie in die verlede ’n selfs groter verbintenis met rasmeerderwaardigheid gehad nie?”
Hoewel die Suid-Afrikaanse staat en die openbare ruimte in Suid-Afrika ten onregte verengels is, meen Roodt dat ‘n Afrikaanse lewe deur Afrikaners op die internet herskep word, wat selfs diaspora-Afrikaners insluit. Hy sien ook ‘n e-universiteit in die vooruitsig omdat Afrikaners nie meer die “taalleuens” van die Afrikaanse universiteite soos Stellenbosch, Pretoria, Bloemfontein, Potchefstroom en die voormalige R.A.U. glo nie.
“‘n Element waaraan ek nie in my Beeld-artikel geraak het nie, is die diskriminasie teen Afrikaners op Afrikaanse kampusse waar ons studente vir hul studies moet betaal, maar Engelstalige studente verniet met beurse mag studeer,” het dr. Roodt bygevoeg. “Kortom, die betalende Afrikaanse student moet Engels op sy kampus subsidieer sodat die universiteit en alle kursusse vinniger verengels kan word!”