Kan ons ontkom aan oehoeroe?

Dan Roodt
Deel op

Hierdie rubriek het 8 jaar gelede in Rapport verskyn, op 15 September 2002, om presies te wees. In die lig van huidige dreigemente om landbougrond te gryp en vryheidsliedjies waarin “Maak dood die Boere!” weerklink, word dit weer geplaas.

“Ons voer die krokodil.” Só het ‘n vrou in Zimbabwe die proses beskryf waardeur blanke boere hul bates afgee aan swart revolusionêre, die sogenaamde oorlogsveterane. Hierdie krokodilmetafoor het my laat dink aan Alexis de Tocqueville se beskrywing van die revolusie as ‘n tier wat aanvanklik maer en uitgeteer is, te swak om op te staan. Sodra jy hom egter begin voer met die hervormingsvleis, maak jy hom wakker totdat hy naderhand genoeg gehad het van die voorgeregte en jy self die hoofdis word.

Tocqueville het natuurlik oor die Franse Revolusie geskryf, maar in Afrika gebruik mense die Kiswahili-woord oehoeroe (vryheid) daarvoor. In Sjona heet dit tsjimoerenga en ons weet dat die Derde Tsjimoerenga tans plaasvind in Zimbabwe. My vraag op hierdie lieflike Sondagoggend is nou: kan ons ontkom aan oehoeroe?

Vandat John Vorster in 1974 sy beroemde uitspraak oor hervorming, “die alternatief is te verskriklik om aan te dink”, gelewer het, het die NP’s en die Afrikaanse pers net een ding bepleit, en dit was: voer die krokodil. Nou nog lees ons week ná week in die koerante dat regstellende aksie, swart bemagtiging, grondhervorming, asook die oordrag van bates, ons gaan red van die verskriklike alternatief. Volgens Tocqueville egter word revolusie deur hervorming veroorsaak.

In 1780 was Frankryk in ‘n staat van intense hervorming en die uitbreiding van regte, met ‘n bloeiende ekonomie en vol graanskure. Hierdie verbeterde toestande het aanleiding gegee tot die revolusie van 1789 namate mense se verwagtings wakker gemaak is en hulle voortdurend meer gevra het soos daardie oehoeroekrokodil.

Iemand wat Tocqueville op Suid-Afrika toegepas het, was my ou Latyn-professor by Wits, M.T.W. Arnheim. In sy 1979-boek, South Africa after Vorster, beweer Arnheim dat die Soweto-onluste in 1976 die regstreekse gevolg was van Verwoerd se ongekende uitbreiding van swart onderwys twintig jaar tevore. Dit was die begin van die swart middelklas se opmars in Suid-Afrika, ‘n middelklas wat ons grotendeels self geskep het met opvoeding, opheffing, opleiding, groter swart deelname aan die ekonomie, die oorhandiging van politieke mag, tot en met vandag se swart bemagtiging en regstellende aksie.

Vandag is die swart elite, wat na ons mening ongekende welvaart en mag geniet, meer ontevrede as ooit tevore. Revolusies word nie gevoer deur die ongeletterde in ‘n plakkerskamp wat maar te bly is om ‘n dagloon te verdien en sy maag vol te maak nie, maar deur iemand met ‘n salaris, ‘n Golf in sy garage en ‘n kas vol Edgars-klere. Hierdie persoon se misnoeë ken geen perke nie, want sy opwaartse mobiliteit maak hom wys dat hy al lankal ‘n Mercedes moes gery het en hom by Gucci moes kon uitrus. Volgens Arnheim voel hy “relatief agtergestel”.

Onlangs het ek ‘n gesprek met ‘n swart vriend gehad. Hy is afkomstig van Wes-Afrika en praat Frans. Drie jaar gelede het hy alles verloor toe ‘n revolusie in sy land plaasgevind het en nou woon hy in Sandton. Volgens hom kan geen land in Afrika ontkom aan die revolusie nie, ook nie Suid-Afrika nie.

Ter wille van die argument het ek die teenoorgestelde probeer beweer, dat Suid-Afrika anders is, meer verwesters, ons ‘n modelgrondwet het, suksesvol hervorm het en so meer. Hy het egter volgehou dat ons ‘n Afrika-land is wat gebonde is aan die politieke wetmatighede van ons kontinent. Volgens hom was Zimbabwe bloot ‘n oefenlopie vir Suid-Afrika. Westerse reaksie daarop sou die toekomstige optrede van mnr. Mbeki en ons eie revolusionêre swart middelklas bepaal.

Ongelukkig vir ons het die Weste nie daadkragtig opgetree teen Zimbabwe nie. Die gebeure is met tipiese paternalisme as “tragies” bestempel, en benewens die opskorting van Zimbabwe se lidmaatskap van die Statebond het ons vaagweg gehoor van “slim sanksies” en reisverbiedings vir Mugabe en sy generaals. Die kontras met ‘n hervormende Suid-Afrika onder P.W. Botha wat voluit getref is met handels- en finansiële sanksies kan natuurlik nie groter nie.

Ná die verkiesingsbedrog in Zimbabwe het Mbeki in die parlement met die presidensiële ketting om sy nek verklaar dat die land gehelp moet word met voedsel- en ander bystand, en om die grondkwessie te hanteer. Kortom, ons president het Zimbabwe se reg op oehoeroe verdedig. Intussen het Sam Nujoma insgelyks begin moeg raak vir voorgeregte en laat blyk dat ook hy die Zimbabwe-opsie oorweeg.

Sedert Ghana se Kwame Nkroema in 1958 sy gematigde opposisie in die tronk gesmyt en private bedrywe genasionaliseer het, was daar al soveel oehoeroes in Afrika dat ons ophou tel het. Totdat ek my Wes-Afrikaanse vriend ontmoet het, was ek onbewus daarvan dat daar in 1998 nog ‘n revolusie in die Ivoorkus plaasgevind het. Mosambiek, Angola, Zambië, Tanzanië, Kenia, Oeganda, die Kongo, noem maar op, elkeen het al minstens een staatsgreep of revolusie beleef. Nog nooit tevore het dit eens ‘n vals wimper laat bewe in die skoonheidsalonne van Sandton City nie.

In my argument met my Wes-Afrikaanse vriend het ek uiteindelik na strooihalms gegryp. “Maar ons infrastruktuur en ekonomiese stelsel sal nie ‘n revolusie oorleef nie!” het ek uitgeroep. Net om die lakonieke antwoord te ontvang :  “In 1918 het mense gesê Europa sal nie nog ‘n oorlog oorleef nie.”

болит зуб без нерваОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.