Godslastering en spraakvryheid

Die persvryheidsinstelling, Verslaggewers sonder Grense – in die Engelssprekende wêreld bekend as Reporters without Borders – het gister in ‘n lang verklaring gereageer op die ‘n resolusie wat die VN se Mensetregteraad op 25 Maart aanvaar het.

Hierdie resolusie verbied godslastering. Verslaggewers sonder Grense (VSG) meen egter dié resolusie beskerm sekere godsdienste, in die besonder Islam, van kritiek teen onaanvaarbare gedrag, en plaas ‘n onnodige beperking op uitdrukkingsvryheid, en dus in effek op persvryheid.   Die VSG se verslag kan hier gelees word.

Dit lyk of die VSG ‘n punt beet het. Die voorstel is deur Pakistan ingedien namens die Organisasie van die Islamitiese Konferensie.

Die VSG meen godsdiensvryheid is net so belangrik soos uitdrukkingsvryheid, en dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie.

In ‘n sekulêre wêreld is dit eenvoudig so dat gelowiges gereeld onder uitsprake en optredes sal deurloop wat ten doel het om die betrokke Opperwese af te kraak.

In die VSA het ‘n militêre kapelaan teenspoed opgedoen omdat hy “verbode dele” van die Bybel voorgelees het, soos dat God, dws die God van die Christendom, die enigste Here is. Hierdeur word aan Moslems aanstoot gegee. Hy het ook van Jesus gelees, en daardeur sou hy die Jode aanstoot gee.

Moslems is weer dikwels ontsteld oor spotprente in die Weste wat van Mohammed a karikatuur maak, en nog verder ontstig omdat die lande se regerings oor die algemeen die kunstenaar beskerm omdat hy bloot sy reg op vryheid uitoefen.

Persvryheid word vandag as een van die belangrikste hoekstene van demokrasie beskou, en word nou ook deeglik deur die internet gerugsteun waar kaalkop die waarheid vertel word – en ongelukkig ook dikwels leuens, laster en haatspraak.

Op die jongste VSG-indeks is daar vanjaar reeds 6 joernaliste in die uitvoering van hul werk dood, 168 joernaliste agter tralies, 10 media-assistente in die tronk en 119 kuberskrywers toegesluit. Die meerderheid is agter tralies weens politiek-verwante redes, hoewel in verskeie gevalle die slagoffers teenspoed gekry het omdat die betrokke lande die joernaliste van godslastering beskuldig het. Verskeie hoë profiel verslaggewers is op die oomblik voortvlugtig voor hierdie eietydse inkwisisies.

Die verbod op godslastering kom te midde van ‘n verbete stryd internasionaal om uitdrukkingsvryheid tot ‘n tipe super reg te verhef, wat erg beperkend op ander regte soos die reg op veral waardigheid inwerk. Dié debat het ook in Suid-Afrika gemanifesteer met die ANC wat vierkantig sy gewig agter Julius Malema se singery van “Maak dood die Boere want hulle is verkragters” ingewerp het. Minstens een Hooggeregshof het tot dusver egter saamgestem dat dit haatspraak is, en dit verbied.

Die DA het ‘n lang verklaring uitgereik om pres. Jacob Zuma se planne oor ‘n debat oor die definiëring van norme teen te staan, omdat so ‘n normestelsel spraakvryheid sou beperk.

Daar is bepaalde redes hoekom godsdiensvryheid nie maar sommer as net nog ‘n mensereg hanteer kan word nie. In die reël plaas godsdienste hul Opperwese as ‘n wese ver bo die mens verhewe, onaantasbaar van kritiek.

Die Christelike godsdiens ken, vanuit Bybelse gesag, net een onvergeeflike sonde, naamlik laster teen die Heilige Gees. In verskeie tekste maan die Bybel teen die verwoestende effek van die tong wat dinge kwytraak wat moes gebly het. Boonop plaas die Christen die Bybel bo enige mensegeskepte kodes, soos ‘n Handves van Menseregte, veral waar daardie Handves strydig met Bybelse gesag is en onder meer aborsies op aanvraag moontlik maak.

Op die oomblik woed daar in Volksblad se briewewebwerf ‘n diskoers oor die evolusieleer waar Christelike liefde en selfs die waarheid van die eerste slagoffers was.

Die wysheid van Salomo is nodig.

onlineФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.